Skaars twee weke nadat me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, interprovinsiale jag vir benuttingsjagters stopgesit het, het pres. Cyril Ramaphosa op Saterdagaand 15 Augustus gesê die staat van inperking word na vlak 2 verlig. Mense mag dus weer oor provinsiale grense heen reis.

Dit verander egter niks aan die hofaansoek wat die netwerk vir familieboere, Saai, voor die hooggeregshof gebring het nie, sê mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van dié organisasie. Saai het namens 368 wildboere en met die steun van die SA Jagters-en-wildbewaringsvereniging gevra dat die hooggeregshof in Pretoria Creecy se direktiewe wat interprovinsiale jag verbied het, ongeldig verklaar.

Rossouw sê die regulasies oor jag was van die begin af ondeurdag. Dit wil voorkom of departemente nie met mekaar gekonsulteer het voor regulasies vir sektore aangekondig is nie. In die hofaansoek wys Saai daarop dat wildbestuur van die begin af as noodsaaklike diens aangedui was. “Jagters is wildboere se oesmasjien, maar is nie toegelaat om vir hierdie noodsaaklike diens te reis nie. Wildboere wat dringend wild moes oes, moes dit dus self teen geen vergoeding van die kant maak.”

Kort voor Ramaphosa se aankondiging het Rossouw gesê hoewel Saai saam met jagters en wildboere verheug sal wees oor ’n verligting in die vlak van inperking, het die staat reeds gewys dat hy nie vertrou kan word om voet by stuk te hou nie. Hy het verwys na die herinstelling van die verbod op alkoholverkope, asook Ramaphosa se toegewing op tabakverkope wat enkele dae later deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van plaaslike regering en tradisionele sake, herroep is.

“Dit is dus net die dringendheid van ons aansoek wat wegval,” sê Rossouw. “Ons gaan egter die hof vra vir ’n verklarende bevel wat sal verhinder dat daar weer sulke maatreëls ingestel word.”