Die aansoek is namens 368 wildplaaseienaars en -operateurs ingedien.

Bestaansjag is eers tydens vlak 3 van die inperking op 5 Junie toegelaat – ’n maand ná die jagseisoen begin het. Volgens Saai het die departement van omgewingsake, bosbou en visserye op 22 Junie skriftelik aan die organisasie bevestig dat persone oor provinsiale grense mag reis vir bestaansjagdoeleindes.

Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê aangesien Suid-Afrikaanse wildboere nie vanjaar internasionale jagters kon ontvang nie, het hulle ’n verlies van omtrent R2 miljard gely. “Om dié rede was ons verlig toe daar aangekondig is dat bestaansjag toegelaat word.

“Met die bystand wat Saai aan mense gebied het, is daar tussen 5 Junie en 28 Julie meer as 18 000 reispermitte vir jagdoeleindes uitgereik, want ons het besef dit is die enigste inkomste wat wildboere vanjaar sou verdien."

Dieselfde departement het egter op 28 Julie gewysigde riglyne gepubliseer wat behels dat bestaansjag nie meer onder vlak 3 toegelaat sal word nie. Me. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het haar besluit op 31 Julie 2020 verduidelik deur te sê jagters mag by hul jagbestemmings oornag indien dit in die provinsie is waar hulle woon.

“Ons data toon dat omtrent 88% van jagters buite hul eie provinsies gaan jag. Die verbod op reis tussen provinsies is dus ’n reuseslag vir ’n bedryf wat ongeveer R12 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra,” sê Rossouw.

Hy sê Saai is oortuig dat die nuutste regulasies die grondwetlike regte van wildboere skend, uiters vaag is en – wat besluitneming sowel as prosedure aanbetref – op ’n irrasionele wyse opgestel is.

Saai is tans ook in hofsake namens die tabak- en wynbedryf betrokke. Dié bedrywe ly tans ook groot verliese weens die inperkingsregulasies.