Die 6.5 mm of .264 is een van daardie kalibers wat om verskeie redes baie goed is. Dit blink uit in kompetisies en die 6.5 mm-koeël met sy hoë seksionele digtheid en goeie ballistiese koëffisiënt vaar veral baie goed op lang afstande. Dit lewer ’n goeie trajek en word minder deur wind van koers gedruk.

Soos met die meeste dinge in die lewe is daar by geweerkalibers bitter min nuut onder die son, en dit is ook die geval met die 6.5 mm. Waarskynlik is die 6.5 x 53R Mannlicher (1891), wat deur Nederland én Roemenië as militêre kaliber gebruik is, die oudste van die klomp. Volgens Frank C. Barnes in Cartridges of the World was die militêre lading ’n 156 gr- of 159 gr-koeël teen 2 433 vps.

Die 6.5 x 55 Sweedse Mauser is reeds in 1894 bekend gestel. Selfs in sy militêre gedaante met ’n 139 gr-koeël teen 625 vps was hy omtrent net 100 vps stadiger as die baie gewilde 6.5 Creedmoor met dieselfde gewig koeël. Daar is ook nog die 6.5 x 54 Mannlicher-Schoenauer, die 6.5 x 50 Arisaka uit Japan, 6.5 x 57 Mauser, 6.5 x 52 Italiaanse Carcano en les bes die 6.5 x 58 Portugese Mauser.

In 1958 het die moderner .264 Winchester Magnum verskyn. Hy gebruik ’n .375 H&H-dop wat na 6.5 mm afgenek is. Dit is ’n haastige meneer wat ’n 140 gr-koeël teen 3 200 vps aanjaag. In 2013 het Nosler op die immergroeiende 6.5 mm-wa geklim en die .26 Nosler bekend gestel. In daardie stadium was dit die vinnigste 6.5 met ’n 140 gr- koeël teen 3 300 vps.

Dit kon Weatherby natuurlik nie toelaat nie, en in 2016 het die 6.5-300 Weatherby Magnum die mark getref met ’n 140 gr-koeël teen 3 395 vps. In die moderne reeks is daar nog die 6.5 Grendel, Hornady 6.5 PRC en parmantige 6.5 x 47 Lapua.

Creedmoor kraai koning

Bo almal troon koning Creedmoor uit. In 2007 het Hornady die 6.5 Creedmoor ontwerp. Creedmoor is die naam van een van die mees ikoniese skietbane in Amerika. Dit is gegrond op die .30 TC (Thompson Centre), wat op sy beurt van die .308-dop afkomstig is. Dat hierdie ’n uiters geskikte kaliber vir kompetisie en jag is, is ’n feit.

Daar is al webblaaie en tydskrifte vol geskryf oor die voordele van die Creedmoor. As ’n mens egter al die gegewens bymekaarsit en realisties en sonder emosie vergelyk, is die gewildheid van dié geweer nie net aan vermoë te danke nie, maar ook omdat dit die huidige gonswoord van die geweerwêreld is.

As jy langafstand-kompetisies of bokke op 700 meter tot 1 000 meter skiet of nog jou eerste geweer moet koop vir van springbok tot koedoe, of sommer net vir die lekkerte, koop gerus ’n Creedmoor. As jy egter ’n gewone jagter is en byvoorbeeld reeds ’n .270, .308, .30-06 of 7 x 64 het, sal die Creedmoor nie vir jou meer vleis op die tafel besorg nie. Binne normale jagafstand sal nie jy óf die bok die verskil agterkom nie.

Outydse Mauser

Omdat my .243, 30-06 en Martini alles bied wat ek in jaggewere verlang, het ek gedink ek is heeltemal immuun. En toe byt die 6.5-gogga my tog verlede jaar. My gogga is egter ’n outydse een. So loop ek by vriend Tiefie Wolfaart van Nieu-Bethesda ’n Portugese Mauser in 6.5 x 58 Vergueiro raak. Die patroon is in 1904 deur die Portugese weermag in gebruik geneem.

Baie van die ou Mausers is herloop na die 7.92 x 57. Die oorspronklike 6.5 x 58- gewere is dus nie meer baie volop nie. Myne is ook nie heeltemal oorspronklik nie, want dit het iewers langs die pad ’n nuwe loop gekry en in die proses is die voorste stukkie van die kolf verwyder. Dit pla my nie aangesien ek dit nie as versamelstuk gekoop het nie, maar om mee te jag.

Enigiemand wat iets van die 6.5 x 58 weet, sal dadelik wil weet met watter ammunisie, want die patrone is al vir baie jare nie meer verkrygbaar nie en is op sigself reeds versamelstukke. Laat ons dit dus fluister (anders word ek oorval deur entoesiaste wat ammunisie wil hê): Die aanloklikste deel van die kopie was die paar pakkies oorspronklike Kynoch- patrone wat saam met die geweer gekom het!

Hoe goed hulle nog skiet, sal ek eersdaags uitvind. Ek beraam reeds planne om ’n paar af te vuur en dan die doppies te herlaai. Dit sal weer ’n storie op sy eie wees, want matryse is net so skaars soos ammunisie, maar ek het al ’n paar idees in my kop. Die tweede meevaller van die kopie was ’n uitnodiging van Tiefie om met die ou Mauser te kom jag. Daarvan hoop ek om ná die jagseisoen te vertel.