Ses Indiane byt met een skoot van hierdie merkwaardige geweer in die stof as John Wayne, alias die Duke, koel en kalm sonder fanfare op bloeddorstige hordes in ’n cowboy-fliek aanlê. Met ’n goeie perd, ’n .30-30 in die saalskede, ’n Colt Peacemaker aan die sy en ’n Stetson op die kop was geen gevaarlike uitdaging te groot nie.

Toe die .30 Winchester Centre Fire- (WCF) patroon in Augustus 1895 deur Winchester vir sy ’94-hefboomaksie-geweer bekend gestel is, was dit die eerste rookvrye jag- en sportskietpatroon van sy tyd. Die benaming het gou verander na die bekende .30-30 toe ander geweervervaardigers soos Marlin die patroon aangeneem het. Die bykomende -30 verteenwoordig die standaardlading van 30 grein sellulosenitraat of rooklose kruit wat destyds vir die 160 g-punt gebruik is.

Steeds gewild

Ná 125 jaar is die .30-30 steeds een van die top-vyf gewildste jagkalibers in Noord-Amerika. Die meeste moderne kalibers is kragtiger en skiet platter, maar vir die doel waarvoor die .30-30 aangewend word, is daar min wat by hom kan kers vashou. Fabrieksammunisie word deesdae meesal met 150 gr (2 350 v.p.s.) en 170 gr (2 160 v.p.s.) punte gelaai, wat dit by uitstek ’n bosveldkaliber maak vir skote nie verder as 200 m nie.

Met albei bogenoemde patrone is praktiese inskiet relatief maklik. Stel die geweer in om ongeveer 3 duim (7,5 cm) hoog op 100 meter te skiet, en die skoot sal ’n bok se hart-longarea op 175 m tot 200 m tref. Weens die feit dat hefboomaksiegewere gewoonlik oor vyf-patroon-buismagasyne beskik, word die meeste ammunisie met ronde of plat sagtepuntkoeëls gelaai. ’n Skerppuntkoeël kan onder buitengewoon ruwe, stamperige omstandighede teen die slagdoppie van die voorste patroon slaan om ’n skoot te laat afgaan, maar daar is oor die afgelope klompie jare ’n alternatiewe plan gemaak.

Vervaardigers soos Hornady met hul LEVERevolution Spitzer-koeël, waarvan die voorste sagte polimeerpunt die probleem uitskakel, is gewild, veral aangesien hierdie koëls met hul skerper punte die ballistiese eienskappe van die .30-30 heelwat verbeter.

Van links: .30-30 Winchester, 308 Winches­ter, 7x57 Mauser en 30-06 Springfield. Behalwe die .308 wat 68 jaar oud is, is al die ander bekende kalibers meer as 100 jaar oud.

Moderne jagammunisie

Moderne .30-30-fabriekammunisie, soos Federal se Fusion en Power Shok, Hornady se LEVERevolution, Monoflex en FTX, Remington Express Core-Lokt, Winchester Ballistic Silver Tip en Super X Power Point, het die doodmaakvermoë van hierdie kaliber na 225 m gerek. Dit bly steeds ’n bosgeweer en behoort nie vir langer skote aangewend te word nie.

Ek het ook goeie resultate gehad met Sellier & Bellot- en Prvi Partisan-ammunisie, maar dit was op vlakvarke in bosomgewings waar skote van 30 m tot 50 m was. Die kaliber is nie uitsluitlik gebruik in hefboomaksiegewere nie.

Oor die jare het verskeie vervaardigers soos Remington, Winchester en Savage ook slotaksiegewere in .30-30-kaliber vervaardig. Verskeie Europese vervaardigers het in die verlede ook die .30-30 as die derde loop van hul Drilling-gewere gebruik. Dit is ’n veelsydige wapen waarmee enige haar- of veerwild in die woude van Europa gejag kan word.

Hanteer maklik

Een van die groot voordele van ’n hefboomaksie-.30-30 is sy hanteerbaarheid. Dit is ’n ligte geweer met ’n loop van gewoonlik 20 duim (51 cm) en wat sonder ’n teleskoop slegs 2,85 kg weeg. ’n Mens dra hom sonder moeite oor lang afstande in die bos en hy kom vinnig en maklik in die skouer. Die hefboomaksie maak hom vinniger as ’n slotaksie-geweer om opvolgskote te skiet. Dit is ook die ideale kompakte bakkiegeweer, omdat dit nie in beknopte ruimtes ongemaklik vashaak en teen alles stamp nie.

As die dieselprys te hoog raak, saal jou perd op en ry – ’n .30-30-hefboomaksiegeweer is perfek vir ’n perderuiter en pas lekker veilig in die saalskede. John Wayne kon hom sommer met een hand skiet!

Ten spyte daarvan dat die .30-30-patroon taamlik fris is, het hy ’n matige terugskop en is die skut onbewus van enige ongemak as ’n skoot in die jagveld afgetrek word. Dit is een van daardie gewere waarmee jong beginners en fyngeboude vroue kan leer jag en jare later steeds elke jagseisoen met dieselfde geweer ’n verskeidenheid bokke kan plattrek. Geen wonder daar is reeds meer as 5 miljoen Winchester ’94’s verkoop nie, om nie eens te praat van al die Marlin, Savage, Browning en Mossberg .30-30’s nie.

John Wayne, die groot cowboy-silwerdoekheld.

Cowboys en kroeks

Die .30-30 is minder gewild in Suid-Afrika, hoewel daar aan die einde van die 1800’s en begin 1900’s ’n taamlike klompie hefboom- aksie-gewere in hierdie kaliber ingevoer is. Die gewildheid het meer onlangs toegeneem danksy die blootstelling aan Western-flieks en die invloed van Amerikaanse geweer- en jagtydskrifte. Dit het my begeerte om ’n .30-30-hefboomaksie-Winchester te besit aangevuur, en kleintyd se cowboys-en-kroeks-spelery het die vuur aan die gang gehou. Nostalgie het in later jare die vlam laat brand.

Toe ek ’n paar jaar gelede ’n Winchester ’94 in ’n goeie toestand op ’n vuurwapenveiling raakloop, kon my droom uiteindelik waar word. ’n Goeie tweedehandse Winchester ’94 of Marlin 336 kan in Suid-Afrika vir gemiddeld R12 000 tot R16 000 gekoop word, terwyl ’n nuwe een jou maklik R25 000 en meer uit die sak kan jaag.

Optiese toerusting

Ouer modelle Winchester ’94-gewere het die patroondoppe vertikaal uitgeskop, wat die montering van ’n teleskoop moeilik en ongemaklik gemaak het. My Winchester is een van hierdie weergawes en ek het besluit om ’n tradisionele gaatjievisier te monteer, pleks van die standaard-“buckhorn’’-visier.

Meer onlangse Winchesters skop gelukkig die doppe sywaarts uit. Die Marlin 336 en meeste ander fabrikate skop doppe sywaarts uit en het montering vir teleskope. My oë is nie meer wat hulle was nie, maar vir stap- en bekruipjag in ’n bosveldomgewing hou ek daarvan om oopvisier met my .30-30 te skiet. Hy lyk ook meer outentiek sonder ’n teleskoop. Die Williams-visier pas standaard op die Winchester ’94 en werk beter as die “buckhorn’’-visier wat akkuraatheid betref.

’n Williams-visier op ’n Winchester ’94.

Veelsydig

Tot dusver het ek die geweer hoofsaaklik as my vlakvarkgeweer aangewend. My varke het nog altyd met een skoot dood in hul spore omgekantel. Ek is vol vertroue dat die dag wanneer ’n bosbok, rooibok of koedoe oor my pad kom terwyl ek vlakvark jag, ’n goedgeplaasde skoot binne die .30-30 se afstandvermoë die bok sal neervel. Die meeste van die klein tot middelslag-wild wat in Suid-Afrika gejag word, word binne 200 m geskiet.

Die magnums en spoedkalibers is by uitstek geskik vir die oop vlaktes van die Karoo en die lang duinestrate van die Kalahari en Namibië. Daar is dus ’n goeie saak uit te maak vir die regte kaliber vir die omgewing en wildspesie wat gejag word.

Die .30-30 kan nooit ’n langafstandkaliber wees nie en behoort nie in die rol gedruk te word nie. As ek egter die omgewing waar ek jag, en die wild wat ek gewoonlik vir die tafel skiet in aanmerking neem, hoef ek net my Winchester .30-30 vir my jagtogte te pak. Met fabriek- of handgelaaide ammunisie van die regte gehalte gaan hy hom goed van sy taak kwyt. Die beskaafde geaardheid van die kaliber beteken dat die skut nie geskop en gestamp word nie, en die vleis ook nie bebloed geslaan word nie.

Ou-skool

Dit is net ’n plesier om met so ’n rustige ou vriend in die veld te loop. Soos John Wayne met sy stadige, maar gewigtige woorde, sy reguit kyk en stil konsentrasie. En dan is hy boonop ’n ware heer met ’n sagte houding teenoor vroue.

Die .30-30 sal altyd ’n spesiale ondervinding bied. ’n Tradisionele benadering is soms nodig om balans teenoor die hedendaagse langafstand, data en digitale kuberskietkultuur te skep. Soos die Duke altyd gesê het: “Talk low, talk slow and don’t say too much.”