Dalk is dit omdat stories en dinge van vervloë dae vir my ’n sekere “iets” het wat ek soms in ons eeu nie terugvind nie. Kyk na ’n Jaguar E-type se enjin of na die ratwerk van ’n sakhorlosie van lank gelede. Dit is asof die ontwerper daarvan nie net funksionaliteit in gedagte gehad het nie, maar ook estetika. Ek glo darem nie alles in die verlede is beter as dié van die hede nie, maar tog . . .

Te meer nog vuurwapens van ’n vroeër era. Nie dat ’n mens nie vandag pragtige wapens kry nie, maar dit is meesal die duurder tipe. My bril word dalk deur nostalgie gekleur, maar dit voel asof selfs die algemeenste wapen uit die vroeë jare van die vorige eeu, ja, selfs die militêre gewere, ’n sekere elegansie en skoon lyn van kolf, aksie en loop gehad het wat jy vandag nie altyd sien nie. So ook met die ammunisie.

Waardevolle versameling

Vir my as wapenliefhebber is daar min mooier dinge as die patrone waarmee ons skiet. Van die mooiste ontwerpe is veral dié van geweerpatrone. Kyk maar na ’n .22 Hornet of 300 H&H Magnum. Die moderne kort, dik buksies is uiters geskik en baie doeltreffend vir hul doel, maar, ai, vir my is hulle darem maar net te lelik.

My pa het nie gewere besit het nie. As kind moes ek my liefde vir alles wat met wapens te doen het maar bevredig wanneer ek by vriende of familie gekuier het wat wel wapens besit het. Dit het my van vroeg af ’n patroon-en-doppie-versamelaar gemaak. Dit was die dae toe dit nog nie ’n doodsonde was om ’n enkele patroon te besit van ’n kaliber waarvoor jy nie ’n lisensie het nie.

Die ooms was nooit onwillig om vir my ’n patroon te gee van ’n kaliber wat ek nog nie het nie. Verder het ek altyd op die skietbaan en in die veld gesoek na interessante doppies. Só het ek baie aangename ure met my versameling deurgebring. Wens ek het geweet wat daarvan geword het!

Na ál die jare loop ek steeds nie in die veld rond sonder om my oë oop te hou vir doppies nie. Naby Graaff-Reinet het ek byvoorbeeld ’n No. 2 Musket-doppie opgetel, asook ’n ou voorlaaierkoeël wat iemand seker amper 200 jaar gelede moes laat val het, want dit was duidelik nog nooit deur ’n geweer se loop nie. ’n Vriend het verlede jaar vir my ’n ou .450-rewolwerdoppie gegee wat hy op sy plaas diep in die berge naby Nieu-Bethesda opgetel het. Op Pronksberg ook ’n 5.6 x 52R, oftewel die Europese weergawe van die .22 Savage.

’n Groot deel van die opwinding om ou doppies op te tel, is om te wonder wie daar gejag of dalk in ’n skermutseling betrokke was. Wie sou byvoorbeeld met ’n rewolwer daar diep in die berge geskiet het? Wat het die jagter met die Musket gejag en wie sou omtrent twee eeue gelede sy ou voorlaaier se koeël verloor het? Was hy dalk oorhaastig om te laai, of wat het gebeur?

’n Dag in herinnering

Van die .303-doppie op die foto is daar ’n taamlike moontlikheid dat ons sy oorsprong reg het. Op Pronksberg lê weliswaar ’n paar duisend .303-doppies rond, maar die plek waar Koot die doppie opgetel het, leef baie goed in ons albei se herinnering. Skoonpa en ek het die dag taamlik laag af teen ’n rantjie gesit met ’n lopie voor ons en anderkant nog ’n rantjie. Koot het aan die agterkant van daardie rantjie gesit. Toe hy begin skiet, het die straaltjie springbokke na ons kant toe beweeg en in die lopie opgehardloop.

Daardie dae het ek nog met ’n oopvisier, “sporting” .303 geskiet en Pa met sy Merk 1 no. 4 met gaatjievisier. Ek skiet al baie jare lank nie meer op hardlopende wild nie, maar daardie jare was dit algemene praktyk. Ons het ons bes probeer, maar kon om die dood nie een ’n raakskoot skiet nie. Die doppies het gesaai gelê.

Net toe ons dink die bokke is almal verby, spring daar ’n agteros uit en hardloop so skuinsweg teen die rantjie oorkant uit. Pa skree vir my: “Toe, Ben, wat skiet ons so sleg, skiet die bok!” Ek het opgespring en so uit die vuis uit laat loop en daar rol die bok, morsdood. Vloekskoot! Die doppie het Koot onlangs daar by ons sitplek van destyds opgetel en hy staan hier reg voor my op my boekrak.

Ek is amper 100% seker dit is een van dié wat ons daardie dag geskiet het en dalk nog daardie doodskoot se doppie. Wie sal ooit weet, maar dit kan wees?! 

Ben Fourie is ’n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth.