Hulle gaan dalk nie so ingenome soos syself wees oor die manier waarop sy die Covid-19-krisis wil gebruik om die ongelykhede van die verlede reg te stel nie, sê mnr. Dries van Coller, voorsitter van die Suid-Afrikaanse beroepsjagvereniging (Phasa).

Hy is bekommerd oor die departement van toerisme se beleid om op grond van ras te bepaal watter klein- en mediumgrootte sake-ondernemings in die toerismebedryf in aanmerking kom vir die eenmalige hulppakkette van R50 000 om die impak van die Covid-19-inperking te oorleef.

Kubayi-Ngubane het Maandag in die parlement gesê haar departement doen dit omdat Suid-Afrika steeds ’n uiters ongelyke samelewing het.

Van Coller wys egter daarop dat duisende swart mense in die jag- en ekotoerismebedryf nou hul werk verloor omdat blanke eienaars van hierdie besighede nie vir hulppakkette in aanmerking kom nie.

Werkverliesse

Hy sê een van sy organisasie se lede moes vandeesweek 110 heeltydse werkers afdank. “Al 110 werkers is swart mense. Baie van hulle is spesialiste in hul veld: spoorsnyers, bestuurders wat weet hoe om jagters en hul wapens veilig te vervoer, en slagters wat weet hoe om trofeë voor te berei. Hulle het hulself oor die jare opgewerk in sy besigheid en verdien goeie salarisse. Wat gaan nou van hulle word?

“Hierdie pandemie het Afrika se jag- en fotosafari-ondernemings platgeslaan. Dis ’n katastrofe.”

Van Coller sê dit is maar ’n enkele voorbeeld. Alle beroepsjagters en gidse is in dieselfde pekel. Selfs al word plaaslike inperkings verlig, is dit onwaarskynlik dat internasionale trofeejagters binne die volgende paar maande na Suid-Afrika gaan stroom om te kom jag. “Die pandemie is wêreldwyd. Ons kliënte se sakke word ook in hul eie lande geraak en dié wat kan bekostig om vanjaar te jag, sien nie noodwendig kans sien om vir 14 dae in kwarantyn te bly nadat hulle in Suid-Afrika geland het nie.”

Oplossings

Van Coller sê dit kan help as plaaslike jagters toegelaat word om te jag. Hoewel min Suid-Afrikaners hulle op trofeejag toelê en die dienste van beroepsjagters gebruik, sal dit ’n mark vir wild skep wat weer ’n vorm van inkomste na die sektor kan bring.

As lid van die sambreelliggaam vir jag, ekotoerisme en natuurlewe-organisasies (Hawasa) het Phasa deelgeneem aan gesprekke met me. Barbra Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye. “Ons het plaaslike jag as manier om wild te oes aan haar voorgestel en wag nou op terugvoer.”

Phasa het ook ’n beroep op plaaslike en internasionale nie-regeringsorganisasies gedoen om die jagbedryf met skenkings by te staan. “Ons is uitgelewer aan hierdie virus en gaan van iewers af hulp moet kry om te oorleef,” sê Van Coller.

Hy noem dat daar groot konsessies is wat deur beroepsjagters bewaar en in stand gehou moet word, maar daar is nie nou geld daarvoor nie.