Oor die vuurwapens wat verkoop is, wil ek eintlik nie praat nie. Nog minder oor dié wat ek deur my vingers laat glip het deur hulle nié te koop nie. Onder laasgenoemde is ’n pragtige, lang, militêre Martini-Henry wat in sy spesiale houtkas by ’n wapenhandelaar in die Paarl was. Die geweer was duidelik nooit in militêre verband gebruik nie en dit was in ’n puik toestand. Verder skop ek myself nóú nog gereeld oor ’n egte Farquharson-enkelskoot wat spotgoedkoop beskikbaar was omdat die loop tot niet was.

Hierdie valblok-aksie was waarskynlik die beste enkelskoot-aksie wat ooit gebou is. Selfs die bekende grootwildjagter Frederick Selous het een besit. Dit is die aksie waarop die Ruger No 1 gebaseer is. ’n Farquharson-aksie is deesdae baie skaars en duur, en ek kan steeds nie glo ek het die kans laat verbygaan nie. Op hierdie aksie is van die mooiste pasmaakgewere wat ek nóg gesien het, gebou.

Verder ’n BRNO Z47 in die klassieke 7 x 57 mm en ’n 8 x 68S-Mannlicher. En les bes, ’n regte Colt “Peacemaker” soos dié wat die cowboys gebruik het. Kom ek hou liewer hier op.

Grootmeneer

Van dié wat ek verkoop het, is daar veral twee wat nou nog by my spook. Nadat ek baie jare lank ’n grootkaliber begeer het, maar nooit een kon bekostig nie, kruis ’n SAKO Finnbear in .375 H&H my pad. Toegerus met ’n Leopold 1.5 x 4-teleskoop was dit nét wat die dokter aanbeveel het. Ek het hom onder hande geneem en die loop met Acraglas ingebed. Omdat die standaard-SAKO-kolf nie heeltemal reg gevorm was vir die swaar kaliber nie en die geweer self maar lig was, het hy redelik hard geskop.

Ek het die kolf met lood in die voor en agterste dele ’n bietjie swaarder gemaak en siedaar, ’n ongelooflik lekker geweer waarmee ek met 270 gr Hornady Interlock-koeëls gemaklik een duim – dit is 2,5 cm – groeperings op 100 tree geskiet het. Die trajek was ook heeltemal goed genoeg dat ek selfs in Namibië koedoes daarmee kon jag. Ek het ook baie geëksperimenteer met PMP se soliede monometaalkoeël van 286 gr met die oog op ’n buffeljag.

Helaas kon ek nooit die geld bymekaarkry om die lank begeerde buffel te gaan jag nie. Die verhuising stad toe het my laat besluit om die geweer maar van die hand te sit. Al sou ek hom steeds net vir die lekkerte wou besit, sou ek nie meer alte graag met hom wou skiet nie. My gebeente begin nou protesteer as die skop te hard is.

Vinnige Fanie

Die tweede een wat ek bitter graag wou besit, was ’n Winchester .220 Swift. Dit was een van die oorspronklike sogenoemde Pre-64-modelle. Van hierdie aksie wat op dié van Mauser gebaseer is, het ek nog net goeie dinge gelees en gehoor. Omdat die Swift bekend was dat sy loop vanweë die baie hoë koeëlspoed gou uitgeskiet geraak het, het Winchester dit ook met ’n vlekvrye staalloop gemaak. Die afwerking van die loop was ’n spesiale vorm van anodering sodat die loop nie blink nie, maar dofswart was.

Hoewel my geweer al 25 jaar oud was toe ek hom gekoop het, het die eerste eienaar maar min met hom geskiet en was die loop nog in ’n uitstekende toestand. Wat die kopie baie aantreklik gemaak het, was die meer as 100 Normapatrone gelaai met 48 gr-punte wat die geweer vergesel het. My teleurstelling was redelik groot toe ek nie baie goeie groeperings met die Norma-ammunisie gekry het nie.

Toe ek kronograaftoetse doen, was ek verstom dat die gemiddelde snelheid van die ammunisie 4 131 vps is. Dit was selfs ’n bietjie vinniger as wat Norma self getoets het. Hierdie fabriekspatrone was natuurlik bedoel om klein ongediertes op baie lang afstand te tref, maar vir wild was dit heeltemal ongeskik.

Omdat ek beoog het om tydens voorsitjag springbokke met nek- en kopskote te oes, het ek dadelik self begin laai met 60 Hornady-koeëls teen gemiddeld 3 609 vps wat vir my, soos op die foto gesien kan word, baie goeie groepering, asook ’n baie plat trajek gegee het.

Ná my verhuising stad toe het my jagbedrywighede baie afgeskaal. Ook dié geweer het ’n nuwe eienaar gekry. Ek sou wat wou gee om hom terug te kry.

As ek oor twee jaar finaal aftree, sal ek baie meer tyd hê om aan ons jagvereniging se skietdae deel te neem. Die Swift sou ideaal wees vir die rooijakkals- en ander tabelle.

My innige simpatie met elkeen wat om verskeie redes tydens die amnestie vuurwapens moes inhandig. ’n Mens vergeet nooit jou wapens wat jy “verloor” het nie. 

Ben Fourie is ’n geweer- en jagentoesias van Port Elizabeth.