Ek het nog nie eens kans gekry om my 6.5 Portugese Mauser op die skietbaan in te wy nie, maar dit sal eersdaags gebeur en dan wil ek ’n paar springbokke gaan skiet. ’n Goeie vriend van Adelaide het my ook genooi om vlakvark en rooibok te kom skiet. Om egter soos wat ek beoog met ou oë en ou gewere en ou oop visiere te jag, verg baie verantwoordelikheid van die jagter. Om die waarheid te sê, enige manier van jag verg groot verantwoordelikheid van elke jagter.

Kyk na die meegaande foto. Wat ’n pragtige koedoebul. As ek egter met my geweer agter hom aan was, het hy waarskynlik ’n pensskoot gekry. Ek was dié dag op ’n plaas in Namibië met my kamera aan die jag. Dit was buite die jagseisoen en dan is daar vir my niks lekkerders as om te kyk hoe naby ek aan die wild kan kom met my kamera nie.

Ek het ’n doodgewone Sony wat al tien jaar oud is met ’n 30x optiese vergroting en Zeiss-lens met 4.8-144-fokuslengte. Dit is gelyk aan ’n 35 mm SLR van 27-810 mm. Ek vind dat ek nie ’n sterker vergroting stil genoeg kan hou sonder ’n driepoot nie en die meeste van my foto’s neem ek uit die vuis uit, dus is dit heeltemal genoeg vergroting.

Die betrokke dag was ek en my dogter se vriend Gihan (nou al haar eggenoot!) agter ’n troppie gemsbokke aan, maar hulle was te slim vir ons. Toe ons bekruip-bekruip oor die rantjie kom, was hulle lankal nie meer waar ons hulle verwag het nie, maar het ons ’n hele paar honderd tree verder agterdogtig staan en bekyk en toe op die vlug geslaan.

Toe ek omdraai, sien ek ver onder in die laagte drie koedoebulle onder ’n boom. Hulle het ons ook reeds gewaar en toe ons beweeg, spring die twee jonger bulle weg, maar die ou, groot bul het net ’n entjie gestap en weer gaan staan en vir ons gekyk. Die kamera was al op maksimum vergroting en ek het dadelik op hom gefokus en die sluiterknoppie gedruk.

’n Breukdeel maak die verskil

In die breukdeel van ’n sekonde vandat my brein die boodskap gegee het om die knoppie te druk tot by die werklike uitvoer van die aksie, het die bul vanaf stilstaande tot die aksie oorgegaan wat op die foto gesien kan word.

Met ’n geweer gebeur presies dieselfde. Hoewel dit net ’n breukdeel van ’n sekonde is, maak dit ’n groot verskil. Ek sou met die teleskoop agter die blad gemik het, maar in die breukdeel van ’n sekonde het die bul minstens ’n halwe meter beweeg en sou die koeël deur die pens of selfs deur die boude gewees het.

Om só ’n skoot te voorkom, is nie altyd maklik of moontlik nie. Daar is egter dinge wat ’n mens kan en moet in gedagte hou wanneer jy jag. As die wild jou reeds gewaar het, soos in hierdie geval met die koedoes, is die kans baie groot dat hulle net ’n paar sekondes sal bly staan en dan sal vlug. Wees dus bedag daarop dat die bok waarop jy mik, kan wegspring, en waag liewer nie die kans nie.

Ons het al baie op die plaas gesien dat nuwe jagters heeltemal te lank vat om te skiet. As jy nie baie vinnig reg is vir die skoot nie, los liewers.

Kry ’n merker

Verder is dit baie belangrik om die plek waar die bok gestaan het toe die skoot geklap het, baie duidelik in jou geheue te merk. Kry ’n kenmerk soos ’n spesifieke bos of klip as merker en konsentreer om dit in die oog te hou. Omdat ek nie altyd goed is daarmee nie, vra ek – as daar ’n gids by is – hom voor die tyd om ook die plek te merk.

As jy nie gesien het die bok val nie, móét jy daar gaan soek vir bloed en al kry jy dit nie dadelik nie, ’n ent op die hardloopspoor stap. Nie alle skote bloei dadelik nie. As die bok gekwes is, moet hy gesoek word, al duur dit die hele dag.

Daar is ongelukkig steeds skieters – ons kan hulle nie jagters noem nie – wat te lui is om gekweste wild te soek, of probeer om dit weg te steek dat hulle wel een gekwes het. Hul name hoort op ’n swartlys. Maak dié jagseisoen seker van elke skoot. 

Ben Fourie is ’n jag- en geweerentoesias van Port Elizabeth.