Soos voorspel, het dit maar ’n bietjie met die ou oë en ou, oop visier gesukkel toe ek die eerste keer met die 6.5 Portugese Mauser gaan skiet, veral omdat my teiken sommer met die hand geteken was en dit moeilik was om veral die hoogte presies reg te kry.

Vir gereelde jagters en veral diegene wat daarvan hou om 12 mm-groeperings van ’n skietbank af te skiet, sal my eerste groep van drie skote wat 48 mm gemeet het, maar bra treurig klink, veral omdat dit op 50 m geskiet is en nie op 100 m nie. Hierdie groep, wat met Kynoch-volmantelkoeëls van 155 gr geskiet is, was egter vertikaal pragtig in lyn.

Die eerste skoot was die een wat die groep verfomfaai het, want die tweede en derde skoot het slegs 20 mm van mekaar die teiken getref. Die eerste skoot uit ’n skoon en koue loop is dikwels geneig om op ’n ander plek te tref as die daaropvolgende skote.

My tweede groep van drie skote is met Kynoch-sagtepuntkoeëls van 155 gr geskiet en was selfs nóg swakker op 65 mm, maar ek moet darem bysê dat dit op ’n ander teiken geskiet is wat nie reg was vir oop visier nie.

Interessant genoeg, ek kon ’n duidelike verskil voel tussen die terugskop, met dié van die volmantelkoeëls wat harder was as dié van die sagtepuntkoeëls.

Omdat ek nie glo dat Kynoch volmantelpatrone vir militêre gebruik sou maak nie, kan ek net aflei dat dit gemaak is om groter wild te jag, waar penetrasie baie belangrik is en dat hulle daarom ook sterker gelaai is. Ek waag egter ’n raaiskoot, maar dat daar ’n verskil in terugskop is, is ek redelik seker van.

’N SKOP TEEN DIE SKOUER

Van terugskop gepraat. Ek het my nogal misgis met die skop van die ou 6.5 en gedink dit sal maar redelik lig wees. Omdat die geweer nie ’n skokrubber aan die kolf het nie, maar soos alle militêre gewere van die era met ’n staalplaat toegerus is, sit ek nou ná selfs net ses skote met ’n gevoelige skouer.

Omdat dit die eerste keer is dat ek met die geweer geskiet het, was die sneller met ’n duidelike voortrek ook vreemd. Meer skote met hom sal beslis help om die groepering te verbeter, maar dit is hier waar die probleem inkom.

Hoewel ek meer as 100 patrone het, is dit eintlik versamelaarstukke, en elke skoot wat ek aftrek, is ’n hele paar rand en ’n versamelstuk daarmee heen. Omdat hierdie kaliber net deur die Portugese weermag gebruik is en die meeste van die gewere omgebou is na 8 mm x 57 mm, was die ammunisie nooit volop nie. Daar is teen ongeveer 1940 opgehou om dit te vervaardig.

HERLAAIBAAR?

Toe ek ná die skietery tuiskom, was my eerste behoefte natuurlik om te kyk of ek die kosbare doppies sal kan herlaai, veral omdat ek geweet het die Kynoch-patrone is toegerus met Berdan-slagdoppies pleks van die meer algemene Boxer-soort. Die Berdan-slagdoppie is wel nog verkrygbaar, maar dit is skaars.

Dit is egter die kleiner probleem. Om die afgevuurde slagdoppie uit die dop te kry, is ’n veel groter probleem. Daar bestaan ’n stuk gereedskap om dit te doen, maar ’n soektog op die internet het net een plek opgelewer waar dit te koop is teen R1 750 stuk. Te duur vir my.

Nadat ek verder gesoek het na ander maniere, het ek ’n kosbare doppie vernietig deur een van die metodes te beproef. Daar is egter ander metodes wat belowend lyk, veral om dit hidroulies te verwyder. Die soektog na matryse om die doppie weer te vorm, het niks opgelewer nie.

RCBS het dit wel gemaak en die laaste prys was R3 080, amper die prys van die geweer self. Daar is wel ’n maatskappy in Amerika wat dit vir jou op bestelling kan maak, maar teen skrikwekkende koste.

Jy kry egter ’n 6,5 mm-matrys te koop wat net die nek van die doppie vorm, en ek dink dit sal maar die pad wees om te volg. Daar is ook ’n groep in Amerika wat .270-doppies gebruik en hulle verander dit na 6,5 mm x 58 mm teen nogal ’n nie té slegte prys nie. As niks wil werk nie, kan dit ’n oplossing bied. Hierdie hele soektog is in elk geval baie interessant, maar vir vanjaar se springbokjag sal ek maar nog ’n paar van my kosbare versamelaarstukke opoffer.

Sal ek regtig met hom gaan jag?

Vir seker, maar dan sal ek, soos met my ou Martini-Henry, ook die afstand tot 100 m beperk. Tot op daardie afstand sien ek kans om ’n springbok met ’n bladskoot plat te trek. 

Ben Fourie is ’n geweer- en jagentoesias van Gqeberha.