Hy verduidelik die begrip benuttingsjag, waarvolgens jagters gaan jag om vleis vir persoonlike gebruik te kry, is uit die definisies in die oorspronklike regulasies verwyder. Die nuwe regulasies beperk ook reis vir jag tot binne ’n provinsie en nie meer oor provinsiale grense nie. Daarby word ’n beperking geplaas dat geen akkommodasie van enige aard vir jag verskaf mag word nie.

“In praktyk beteken dit jy mag slegs binne een provinsie binne een dag jag. Die resultaat daarvan is bykans geen jag nie,” sê Camphor.

Me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA), voorspel die gevolge van die nuwe regulasies gaan onherstelbaar wees vir die plattelandse ekonomie en die lewensbestaan van wildboere en hul werkers.

Sy sê die meeste jagters reis van stedelike na plattelandse gebiede in ander provinsies om te jag. Vir wildboere is hierdie benuttingsjagters die mees ekonomiese manier om hul wild te oes.

In ’n verklaring wys WRSA daarop dat jagbestemmings hoofsaaklik geleë is in gebiede met lae bevolkingsdigtheid, met werknemers wat permanent op die plaas woon en nie na en van hul werkplekke reis nie. “Met die klein getal jagters wat op enige gegewe tyd in ’n jagkamp

teenwoordig is, en met die bestuur en jagters wat aan Covid-19-regulasies vir veilige gedrag moet voldoen, is die risiko vir besmetting onder hierdie omstandighede uiters laag,” lui die verklaring. 

Die oes van oortollige wild is een van die belangrikste wildbestuursmetodes en vind hoofsaaklik in die winter plaas. Volgens WRSA moet die verkryging van eie proteïene deur klein groepies jagters ingevolge die Covid-19-regulasies nie verwar word met ’n groot groep mense wat aan ’n ontspanningsaktiwiteit deelneem nie. 

Kitshoff-Botha sê die probleem is dat die nasionale Covid-19-bevelsraad enige jag as ’n ontspanningsaktiwiteit beskou. Sy verduidelik dat Creecy bloot voorskrifte bekend maak ingevolge die bevelsraad se regulasies en interpretasies. 

WRSA versoek in sy verklaring dat die bevelsraad sy stappe dringend heroorweeg om die voortsetting van die plattelandse lewensbestaan en ekonomie te bewerkstellig.