Tydens ’n opname van Landbouweekliks by die Afgri-standplaas op die Nampo-Oesdag het Cloete aan Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, gesê weens die daling in wildpryse begin dit ál meer gebeur dat wild van kleurvariasies gejag word. 

“As jy gaan kyk na dié tipe kliënt se profiel is dit iemand wat al lank jag, wat al ’n groot verskeidenheid wild gejag het en sy versameling wil uitbrei,” sê Cloete. 

Biltongjagmark

Cloete sê die biltongjagmark bied groot potensiaal vir die wildbedryf. Hy sê navorsing dui aan die trofeejagmark bring van R2 miljard tot R3 miljard se inkomste per jaar in, terwyl die biltongjagmark se jaarlikse omset sowat R8 miljard is. 

Die skeiding ten opsigte van die bestuur van sakemodelle en boerdery maak dit wel moeilik om die konsep van trofee- en biltongjag met mekaar te versoen, sê Cloete. 

Die probleme wat in dié verband met die uitreik van wapenlisensies en wetgewing ontstaan het, het daartoe gelei dat die dooie mark vir boogjag ook weer momentum gekry het. 

Perspesies en verwerkte vleis

Volgens Cloete was daar die afgelope paar jaar nie genoeg moeite in die bedryf gedoen om die wanpersepsies wat oor jag ontstaan het, aan te pak nie: “In die komende paar jaar lê daar groot werk voor om persepsies reg te stel.” 

Nog ’n mark wat groot potensiaal vir die bedryf bied, is volgens Cloete die vleisbedryf, en veral die bedryf vir verwerkte vleis. 

“Ek dink daar is groot geleenthede vir die wildbedryf, plaaslik én vir die uitvoermark.” 

Die wildbedryf is tans in ’n fase waar “ons regtig sal moet leer om te oorleef,” sê Cloete. “Ek dink wel nie die pryse wat ’n mens tans kry, moet die rede wees hoekom iemand uit wildboerdery klim nie. Of jy op marginale of nie-marginale grond boer, jy kan met minimale aanpassings aan jou sakeplan en metodes jou boerdery uitbrei.”