In ’n onlangse verslag aan die Parlement sê die komitee wat moes vasstel of die jag van leeus wat in aanhouding geteel word Suid-Afrika se bewaringsbeeld skade doen, dat dié soort jag en die uitvoer van leeubene na China die land se toeristebedryf miljoene kan kos.

Ná afloop van die sitting van die parlementêre komitee in Augustus, waar bewarings- en jagorganisasies saam met leeutelers voorleggings gemaak het, het die portefeuljekomitee vir omgewingsake vroeg in November ’n sterk bewoorde verslag uitgereik waarin hy aanbeveel dat die teel van leeus in aanhouding stopgesit word.

Volgens die portefeuljekomitee se statistieke is daar sowat 3 000 “wilde” leeus in Suid-Afrika. Die meeste van hulle is in nasionale parke waar jag nie toegelaat word nie.

Daar is sowat 8 000 leeus in aanhouding in teelprogramme, waar hulle vir verskeie doeleindes geteel word. Party word geteel vir jag, terwyl ander vir die Asiatiese produktemark bestem is. Nog ander eindig in dieretuine en in private reservate. Suid-Afrika voer leeubene na Asië uit waar dit as plaasvervanger vir tierbene in tierbeenwyn, ’n Chinese opkikker, gebruik word.

In die Staatskoerant van 25 Januarie sê me. Edna Molewa, ontslape Minister van Omgewingsake, hoewel die Afrika-leeu op bylaag 2 van die konvensie oor internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) se lys is, wys navorsing dit is nie nadelig vir dié spesie as lewende leeus of liggaamsdele van leeus, soos bene en velle, uitgevoer word nie.

Volgens die Britse omgewingsondersoekagentskap EIA is skelette, skedels, tande, velle en kloue van 4 296 leeus van 2005 tot 2015 wettiglik na Asië uitgevoer.

Volhoubare benutting of uitbuitery?

Die samestellers van die portefeuljekomitee se verslag sê dié leeus verdien ’n inkomste vir hul eienaars wanneer hulle nog welpies is en mense die geleentheid kry om hulle teen betaling te vertroetel en saam met hulle afgeneem te word.

Die komitee meen mense wat onder die indruk is dat hul betaling bydra tot die spesie se bewaring word mislei en besef nie dat dieselfde leeus later gejag sal word nie. “Hulle ondersteun onwetend ’n afgryslike bedryf,” lui die verslag.

Leeus wat nie gejag word nie, maar waarvan die beendere en ander produkte verkoop word, word volgens mnr. Carel Zietsman, ’n prokureur van Noordwes wat in omgewingsreg spesialiseer, verdoof voordat hulle met kleinkaliberwapens doodgeskiet en in abattoirs verwerk word.

Netwerk24 het op 30 Augustus berig oor ’n brief waarin hy mnr. Philemon Mapulane, voorsitter van die portefeulekomitee, waarsku dat die verdowingsmiddel gevaar inhou vir die mense wat daarmee werk.

Die Departement van Omgewingsake laat Suid-Afrikaanse leeuboere toe om 1 500 volledige skelette per jaar uit te voer. In haar voorlegging aan die portefeuljekomitee het Molewa gesê die oproep van omgewingsgroepe om weg te doen met die handel in leeubene moet versigtig oorweeg word.

Daar is volgens haar omtrent 200 geriewe wie se personeel sonder werk sal wees as Suid-Afrika leeutelery en -handel verbied. Sy het ook daarop gewys dat Suid-Afrika omtrent R6,2 miljard per jaar uit jag verdien.

Luidens ’n verslag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Betrekkinge kan die handel in leeubene die land tot R54 miljard oor die volgende tien jaar kos. Die instituut waarsku dat toeriste eerder hul geld elders sal bestee as in ’n land wat sulke praktyke toelaat.

Baie telers en toeristebestemmings verdien ’n inkomste uit mense wat betaal om welpies te vertroetel of saam met hulle afgeneem te word.

Jagters is verdeeld

Dit is ook die mening van twee Suid-Afrikaanse jagorganisasies wat hulle geskaar het by bewaringsinstellings wat die Parlement gevra het om die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, te verbied. Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) en die nuwe wegbreekorganisasie vir beroepsjagters, die Custodians of Professional Hunting and Conservation, sê dat jag van dié aard nie strook met die vereistes van etiese jag nie.

“Dit het tyd geword dat wild- en natuurlewe-organisasies wat verantwoordelike benutting van wild voorstaan, hul stemme laat hoor,” sê me. Lizanne Nel, bewaringsbestuurder by die SAJWV.

Dié twee organisasies waarsku dat die jag van leeus wat in aanhouding geteel is nie as volhoubaar en sosiaal verantwoordelik beskou kan word nie.

Nel sê jag is ’n belangrike aandrywer van die groeiende natuurlewe-ekonomie en bied lewensvatbare sosiaal-ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede in landelike gemeenskappe. Jagboikotte en beperkings wat spruit uit skade aan Suid-Afrika se reputasie benadeel egter die bedryf, sê sy. Leeutelers en ander jagorganisasies is woedend.

“Ons in die jagbedryf het nog altyd gesê net jagters kan jag stopsit – en nou gebeur dit,” sê mnr. Randy Westraadt, ’n leeuboer van die Vrystaat. Westraadt, wat ekstensief met leeus op meer as 8 000 ha aan die grens tussen die Vrystaat en Noord-Kaap boer en byna 30 jaar met oorsese kliënte daar jag, sê hy kon nog geen klagte van ’n jagkliënt opspoor oor die jag van leeus wat in aanhouding geteel is nie.

“Ek het navrae aan Phasa, die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika, en ander internasionale jagorganisasies gerig in dié verband. Nie een klagte nie.”

In hul verklaring sê SAJWV en die Custodians egter hulle is deel van meer as 20 jagorganisasies wêreldwyd wat die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, verwerp. Een van hierdie organisasies, die Vereniging vir Operateurs en Beroepsjagters in Afrika (Ophaa), verteenwoordig nege Afrikastate se beroepsjagters.

Die SAJWV en Custodians wys daarop dat Suid-Afrika se getal jagbesoekers van 2011 tot 2016 met 28% afgeneem het. Dieselfde statistieke is ook vroeër gebruik in veldtogte teen die teel van kleurvariante. Toe het mnr. Dries van Coller, voorsitter van Phasa, bevestig dat daar veral in Europa ’n probleem is omdat mense gehoor het Suid-Afrika se wild is nie meer wild nie. “Die Amerikaners steur hulle egter nie veel daaraan nie.”

Van Coller sê besoekers is meer bekommerd oor hul veiligheid in Suid-Afrika as oor kwessies soos kleurvariante en intensiewe teelprojekte, en dat dít waarskynlik ’n groter rol in die afname aan besoekers speel.

Mnr. Richard York, woordvoerder van Phasa, sê hulle is nie bewus van enige skade wat die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, aan die land se beeld doen nie. York waarsku dat die jag van vrylopende leeus, wat deur party jagorganisasies as die enigste etiese jag van leeus beskou word, groter skade aan ’n land se internasionale beeld kan doen.

“Kyk maar na die bohaai oor Cyril, die leeumannetjie wat langs ’n Zimbabwiese nasionale park gejag is.”

’n Paneel onafhanklike kenners van die Departement van Omgewingsake wat ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Wet 10 van 2004) aangestel is, het vroeër bevind dat handel in produkte van leeus wat in aanhouding geteel is, nie ’n impak op vrylopende leeugetalle het nie. Dit bied inteendeel ’n buffer.

Sommige boere meen dat leeus wat in aanhouding geteel word, ’n groot genetiese bydrae tot die genepoel van vrylopende leeus kan lewer.

Wat van die leeus?

Westraadt wil weet wat bewaringsbewustes wil hê met die 8 000 leeus in aanhouding moet gebeur as hul eienaars hulle nie mag jag of benut nie.

“Hulle sal van kant gemaak moet word, want niemand gaan ’n leeu voer sonder dat hy of sy later die waarde vir so ’n dier kan ontsluit nie.” Me. Tyhileka Madubela, die portefeuljekomitee se sekretaresse en skakelpersoon, het teen druktyd nog nie op Landbouweekblad se vrae in dié verband gereageer nie.

Die komitee se verslag dui ook nie op ’n aksieplan vir hierdie leeus nie. Dit beveel eenvoudig aan dat die jag van sulke leeus en die uitvoer van leeubeendere dadelik stopgesit moet word en dat die teel van leeus in aanhouding uiteindelik verbied behoort te word.

Landbouweekblad wou ook by Madubela weet wat die komitee se aanbeveling sal wees oor die jag van leeus wat nie in aanhouding geteel is nie, maar op groot private reservate en wildsplase vry rondloop.

Westraadt se leeus word byvoorbeeld deur Suid-Afrika se biodiversiteitsplan as “wild bestuurde” leeus geklassifiseer. Hulle is vrylopend op ’n bestuurde stuk grond waar hulle self jag en natuurlik aanteel. Hy sê daar is ook plek vir leeus wat in aanhouding geteel word en dat sulke leeus ’n groot genetiese bydrae tot die genepoel van Suid-Afrika se vrylopende leeus kan lewer.

Hoewel bewaringsgroepe getuig het dat leeus wat in aanhouding geteel is nie in die natuur kan aanpas nie en dus geen genetiese bydrae tot die wilde leeubevolking kan lewer nie, het Landbouweekblad onlangs berig oor twee leeuwyfies van verskillende telers wat met hul welpies in ’n reservaat afgeneem is nadat hulle daar tussen “wilde” leeus vrygelaat is.

Die Suid-Afrikaanse Roofdiereienaarsvereniging (Sapa) het reeds te kenne gegee dat hy nie die komitee se verslag aanvaar nie en hof toe sal gaan indien nodig. Westraadt meen die toekoms van Suid-Afrika se leeubevolking lê in volhoubare benutting en hou sy boerdery voor as ’n model van ’n suksesresep.

“Daar is baie menings, maar nie een van die partye wat so krities teen ons leeubedryf is, kan vir my ’n werkende voorbeeld van hul teorieë in praktyk wys nie. “Wys my jou model én hoe dit op lang termyn vir jou en die land gewerk het.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.