Die goeie ou dae was natuurlik dikwels ook nie so goed nie. In ’n artikel sê Kate Jeffery, professor in sielkunde aan University College in Londen, dat ’n mens se geheue nie soos ’n video is wat alles wat gebeur presies opneem en dan weergee nie, maar eerder ’n konstruksie van gebeure.

Ons herroep dus nie soseer gebeure nie, maar herbou dit uit fragmente wat ons onthou, en in die proses fabriseer ons dele daarvan. Daarom is die goeie ou dae dikwels meer rooskleurig as wat dit was. Ek belowe julle egter dat niks in dié storie gefabriseer is nie, sommige feite het dalk net met die jare effens dof geraak.

Meer as veertig jaar gelede is ek student op Stellenbosch en geld is ’n konstante probleem. Toe ek dus deur ’n klasmaat ’n aanbod kry om in die Maartvakansie vir tien dae op sy familie se grondboneplaas naby Barkly-Wes plaasvoorman te speel teen die koninklike som van R100, gryp ek dit aan.

Met my bietjie meganiese aanleg is ek glo die aangewese persoon, want hulle wou oorsee gaan en die man wat sou uithelp, het kop uitgetrek. Die groot bonus was dat hulle my per Boeing na Kimberley sou laat vlieg.

Oor hoe dit met die boerdery gegaan het, is nie nou ter sprake nie, maar ek het dit ontsettend geniet om baas van die plaas te wees. Veel belangriker is dat ek by die koöperasie op Barkly ’n oom raakloop wat ’n Sporting .303 teen R70 wou verkoop. Ek was toe al verloof aan my Suidwester en het al gejag, dus was ’n eie geweer boaan my wenslysie.

Skoonpa se Willys

Die plaaslike landdros was bereid om vir my ’n permit te gee en die Suid-Afrikaanse Lugdiens het geen probleem gehad om die geweer vir my terug Stellenbosch toe te vlieg nie, waar ek weer binne ’n paar dae ’n lisensie gekry het. Maar die goeie ou dae het nie daar opgehou nie.

Aanstaande skoonpa kom kuier. August Basson, ’n Stellenbosch-vriend van hom, het vir hom ’n Willys Jeep in die Kaap raakgeloop. Ek bestuur die jeepie terug Stellenbosch toe en nou moet ons plan maak om hom in Suidwes te kry. Net daar besluit ek om die meer as 1 000 kilometer met die Willys aan te pak.

Die maand voor die langnaweek in September het ek en my aanstaande swaer Koot, wat op Paul Roos Gimnasium was, tyd om die Jeep in die berge rondom Stellenbosch te beproef. Daardie jare sing ek by die destydse Nico Malan in Kruik se operakoor en die Donderdagnag teen elfuur kom ek eers uit die Kaap en pak die Jeep. Agter in die dak van die seilkappie word die .303 in sy ou seilsak vasgemaak.

Met my woonstelmaat se Cortina-bakkie se bakseil soos ’n poncho om my gedraai, want die Jeep het mos nie deure nie en die berge het hier laat in September ’n ligte sneeukombers op, val ek in die pad. Die Jeep kon hoogstens 70 km/h haal, maar dan loop hy lepel op die vloer, dus was die spoed meestal in die omgewing van 60. Orals waar ek stilhou vir koffie ensovoorts, staan die Jeep buite en nie ’n oomblik was ek bang iemand steel die Jeep of geweer nie. Goeie ou dae inderdaad.

Op Springbok laai ek twee jong Duitsertjies op, man en meisie. Hulle ryloop deur Suid-Afrika en is op pad Suidwes toe. Met my skool-Duits nog taamlik vars en hulle bietjie Engels, gesels ons die tyd om. Hulle ervaar die rit met die Jeep as die grootste avontuur van hul hele toer.

Teëspoed langs die pad

Kort ná die middag laai ek hulle op Grünau af, want ek draai weg op die grondpad verby Holoog en Seeheim. Net ’n paar kilometer buite Grünau tref die ongeluk my. Toe ek weer ratte verwissel, sit ek soos die ou gesê het net met ’n “boks vol neutrals”. Jeepie was nie meer lus vir loop nie. Selfone was nog nie eens in iemand se drome nie, maar ’n motor hou gelukkig stil en ek kon ’n boodskap plaas toe stuur.

Morsdood van die vaak lê ek dwarsoor die sitplekke en slaap en later sit ek uit skone verveeldheid teen die grootpad met die .303 en teikenskiet na alles en nog wat. Tronksake vandag, maar dit was nog die goeie ou dae. Teen laatmiddag kom oom Willie en Koot met die Hilux daar aan en ons haak die Jeep met ’n sleeptou.

Ek is in die Jeep en daardie nagmerrierit in die donker en stof agter die Hilux se feite het nog nie dof geword nie. Teen eenuur die nag trek ons op die plaas in. Agtuur daardie selfde oggend skiet ek al die eerste springbok van die dag met die .303. Op daardie ouderdom het ’n mens mos geen einde nie. 

Ben Fourie is ’n jag- en geweerentoesias van Port Elizabeth