Sulke rooibokke, waterbokke en koedoes is die wild wat nou premiepryse verdien in die jagveld, en kopers gaan hulle ál meer op veilings begin soek. Só voorspel mnr. Piet Warren, bekende wildboer van Gravelotte. Hy sê Suid-Afrika het nie genoeg trofeebokke om in die vraag te voorsien nie, en hy voorspel dat koedoebulle met horings van langer as 50 duim teen 2020 beter pryse as swartwitpense sal haal.

“Ons is met ons wild terug in ’n jag- tersmark,” sê Warren. Hy sê ’n Amerikaanse jagter het reeds bespreek om vanjaar ’n 50 duim-swartwitpenstrofeebul by hom te kom jag teen VS$10 000. “Daar is ’n ongelooflike vraag na goeie jagtrofeë, en veral Amerikaanse jagters is bereid om goeie pryse te betaal.”

Hy voeg by sowat 85% van buitelandse jagters wat Suid-Afrika besoek, is van Amerika. Teen die huidige wisselkoers kan boere wat goeie trofeediere het, munt slaan uit die situasie. In sy jonger dae kon jagters spog dat hulle ’n rooibokram met horings van 27 duim geskiet het. “Sulke bokke was beskikbaar.”

’n Onlangse opname in die Selati- private reservaat naby Letsitele wys egter dat die gemiddelde horinglengte van rooibokramme wat verlede jaar gejag is, maar net 19 duim was. “Vir die jagbedryf kan vanjaar ’n fantastiese jaar wees, maar ek voorsien dat ons teen 2020 ’n tekort aan bemarkbare trofeediere gaan hê. Boere sal moet kyk hoe hulle hul kuddes bestuur.”

Wildveilings

Die bekende wildafslaer mnr. Neil Swart stem saam dat die wildbedryf tans uitsluitlik op die jagter gerig is, en dat net enkele telers oorgebly het wat tot 2015 nog wegholpryse vir wild op veilings betaal het. Swart meen dat wildveilings vanjaar naastenby dieselfde resultate as verlede jaar gaan oplewer.

“Buffels met harde horingbasisse en ander trofeebokke sal steeds billike pryse verdien.” Skaars wildsoorte en party kleurva- riante gaan waarskynlik swaarder kry. Swart sê die voordeel van die jagbedryf wat die toon vir wildpryse aangee, is dat die bedryf nou stabiel is.

“Die eindverbruiker is nie ’n spekulant wie se giere die prys beïnvloed nie. Jou wild is werd wat hulle werd is, en jy kan daarvolgens jou somme maak.” Hy noem swartwitpensverse as voorbeeld, en sê boere weet hulle kan vanjaar van R15 000 tot R25 000 vir ’n vers kry. Swart voorspel, nes Warren, ’n gesonde vraag na gewone wildsbokke soos koedoes, gemsbokke en waterbokke.

Hoewel van die veilingsmaatskappye nog nie hul wildveilings vir 2019 aangekondig het nie, meen Swart daar sal vanjaar minder veilings as verlede jaar wees. Vir die Suid-Afrikaanse wildbedryf lê daar vanjaar twee groot gevegte voor.

Cites, die konvensie vir handel in bedreigde spesies, sit weer, en die Suid-Afrikaanse Regering moes voor 25 Desember aangedui het of hy gaan aansoek doen om die handel in renosterhoring te wettig. Teen druktyd was daar nog geen aanduiding van die Departement van Omgewingsake dat hy so ’n aansoek wil bring nie.

Wildbedryfsleiers was egter hoopvol dat die Regering op die laaste nippertjie sou aandui dat hy wel handel wil dryf. Die ander kwessie is ’n parlementêre verslag oor die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, sowel as die uitvoer van leeubene na China.

Dié verslag het onlangs aanbeveel dat die teel van leeus in aanhouding stopgesit word omdat dit glo Suid-Afrika se bewaringsbeeld skade berokken. Leeutelers wil só ’n besluit in die hof betwis.