Hulle mag plaaslike jagters wat vir die pot skiet, nou weer op hul plase ontvang.
Die departement van omgewingsake het vanoggend in ’n brief aan die Wildsforum bevestig dat benuttingsjag nou toegelaat word en dat jagters met permitte van wildboere af oor munisipale, distriks- en provinsiale grense mag reis en in jagkampe mag oorbly vir die jag.
Die departement se brief was in reaksie op ’n e-pos waarin Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) en ander organisasies vra dat die departement aandui of dié organisasies die vlak 3-regulasies van inperking reg vertolk en of jag mag plaasvind.
“Met die regulasies van die departement van omgewingsake wat nog nie afgekondig is nie, staar inhegtenisneming en strafregtelike vervolging wildboere en jagters in die gesig omdat wetstoepassers nog nie ingelig is dat mense mag reis om te jag nie,” sê me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van die WRSA.
“Ons interpretasie is dat jag ’n noodsaaklike aktiwiteit is en toegelaat moet word, dat wildboere permitte mag uitreik sodat jagters oor provinsiale grense mag reis, jag en oorbly in ’n jagkamp op die jagplaas, en dat hulle wildsvleis huis toe mag vervoer.”
In antwoord hierop skryf die departement van omgewingsake die interpretasie is reg en dat mense mag jag vir eie gebruik van die vleis, selfs oor munisipale, distriks- of provinsiale grense heen omdat jag ’n noodsaaklike funksie is.
Permit
Die wildboer moet egter ’n permit aan elke lid van die jaggeselskap uitreik wat die naam van die jagter, die begin- en einddatum van die jagtog, asook die spesies en getalle van diere wat gejag gaan word, aandui.
Jagters mag op die jagplaas in ’n jagkamp oorbly – nie op ’n ander perseel nie – en die grondeienaar moet toesien dat gesondheids- en veiligheidsmaatreëls gehandhaaf word.
Die departement sê hy sal so gou moontlik ’n raamwerk van die permit aan boere beskikbaar stel. Sy sluit haar brief af deur te noem dat dinge kan verander, na gelang van wysigings wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, binne 14 werksdae ná die hofbevel van 2 Junie moet afkondig.
Kitshoff-Botha sê die wildbedryf het baie hard gewerk om hierdie punt te bereik. Sy sê nog inligting is op die WRSA se webwerf beskikbaar. “Sodra ons ’n raamwerk vir die permit van die departement af kry, sal ons dit beskikbaar maak.”Landbouweekblad is steeds beskikbaar op winkelrakke, terwyl sake by https://t.co/J5CsarOmv3 en @landbouweekliks vlot verloop. Lees hier wat jou te doen staan indien jy sukkel om die tydskrif in die hande te kry én hoe jy digitaal kan lees. https://t.co/Ug6tJEMNfl
— landbou.com (@landbou) May 12, 2020
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier