Met vanjaar se jagseisoen hier is dit weer tyd vir daardie jaarlikse debatte oor alles wat met jag en verwante bedrywighede te doen het. Skoue en uitverkopings kondig die nuutste moderne toerusting aan en adverteer winskopies om elke jagter in die versoeking te stel.

Is dit nie miskien nou die tyd om die ou geweer of teleskoop eenkant toe te skuif vir die nuutste ontwikkeling in optiese wetenskap en ballistiese werkverrigting nie? ’n Vlaag van bemarkingstoetsresultate met ingewikkelde formules omsingel en toor met ons koppe om die twyfelaars in die kredietkaarthok in te jaag.

Haal net ’n keer diep asem en dink twee keer voor die hok se hek agter jou toeslaan. Daardie 7 x 57 mm Mauser met sy 4-vergroting-teleskoop wat jy by jou pa geërf het, het oor dekades heen baie doeltreffend die wildspasteie en -biltong op die tafel gesit.

Hoeveel van ons ervare jagters onthou nie hoe hulle as kind op die familieplaas met verlangende oë gekyk het na die .303 “Bulldog”, die dubbelloophaelgeweer en die gawe .22 “saloon” wat in Oupa en Ouma se slaapkamer gestaan het?

Lede van die Amersfoort-skietvereniging (ongeveer 1911) met ’n verskeidenheid .303 Lee-Metfords, .303 Martini-Enfields en 7 x 57mm Mausers. Die skrywer se oupa, G.J. Erasmus, is links agter met sy Mauser.

Ons het van kleins af gedroom om tog asseblief vinniger “bevordering” te kry vanaf windbuksvlak tot grootgeweervlak, maar die tyd moes ons eers toets en beproef. Dit is slegs ná jare se saamstap op die moeilike jagpaadjies dat ons werklik waardering opbou vir die mees praktiese benadering tot die jagervaring.

Ons ondervinding bring ons tot die besef dat daardie ou jagbaadjie wat gemaklik aan ons lyf voel en die Mauser wat gerieflik in ons hand lê, nie hoef terug te staan vir vanjaar se nuut-op-die-mark-kammo en kaliberontwikkelings met Rambo-gewere en hul aanskroefbykomstighede nie.

Dit is veral waar wanneer dit by ’n bespreking oor jagkalibers kom. Daar is ’n hand vol klassieke kalibers wat oor die afgelope eeu in Suid-Afrika steeds hul staal in die jagveld toon. Hier volg ’n paar wat bykans op elke plaas voorkom.

Van die kalibers wat in die artikel genoem word. Van links is ’n .22 lr; .303 British; 7 x 57 mm; .30-06; 9,3 x 62 mm; en .375 H&H Magnum.

.22 LR

Die .22 lr-randslag is in 1887 deur J Stevens Arms & Tool Company van Amerika bekend gestel en is tot vandag toe die gewildste kaliber ter wêreld. Dit is die topverkoper van alle ammunisie, en die groot ammunisievervaardigers het meer navorsing en geld aan die .22 lr bestee as aan enige ander.

Hoewel dit een van die oudste kalibers is, word dit steeds gebruik om hase en tarentale op die plaas te jag en om op die hoogste vlak in skyfskiet op die Olimpiese Spele mee te ding. Teen ’n spoed van 1 280 voet per sekonde (390,4 meter per sekonde) met ’n koeëlpunt van 63-37 grein is die .22 lr akkuraat en dodelik tot op 90-100 m.

.303 BRITISH

Die .303 is oorspronklik in 1888 as ’n swartkruitpatroon vir die Lee-Metford-geweer ontwerp en is in 1891 aangepas vir die gebruik van rooklose dryfmiddels. Dit was die standaard- militêre patroon van die Britse weermag vanaf 1889 vir meer as 70 jaar en word steeds wyd gebruik in militêre omgewings.

Daar is seker meer wild in Suid-Afrika met die .303 gejag as met enige ander kaliber. En vra maar vir enige bisley-skut oor sy akkuraatheid oor lang afstande. Terwyl die eerste Lee-Metfords 215 grein -koeëls geskiet het, was die meer algemene koeël later 174 grein wat teen ’n snelheid van 2 000-2 400 voet per sekonde (610-732 meter per sekonde) skiet.

Dit doen steeds saam met duisende Lee-Enfields diens in die jagveld.

7 X 57 MM MAUSER

Die 7 x 57 mm Mauser is in 1892 deur Paul Mauser ontwerp en is sedert 1893 deur verskeie lande as militêre patroon gebruik. Die Boererepublieke het tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog hul 7 mm-Mausers met groot sukses teen die Britse magte gebruik, en dié kaliber is later wyd aangewend as een van Afrika se gewildste jagkalibers.

Die hoë seksionele digtheid van die lang koeëlpunte verseker goeie penetrasie en is bekend daarvoor dat hulle ’n bogemiddelde doodmaakvermoë in verhouding tot koeëlgewig het. Die Skot W.D.M. (Karamojo) Bell het van 1902 tot 1918 ongeveer 800 olifante met sy Rigby Mauser 98 en 174 grein-volmantelkoëls met breinskote geskiet.

’n Gerestoureerde Mauser Mannlicher met ’n nuwe okkerneuthoutkolf.

.30-06 SPRINGFIELD

Die .30-06 is in 1906 deur Winchester bekend gestel en het tot die 1980’s diens gedoen in die Amerikaanse weermag. Die “30” verwys na die kaliber en die “06” na die jaar toe die patroon deur die weermag in diens gestel is.

Aanvanklik is die patroon in die Springfield-geweer gebruik, maar dit het later uitgebrei na verskeie ander militêre gewere, soos die M1917 Enfield, M1 Garand en FN Model 1994. Dit is vandag een van die gewildste jagkalibers ter wêreld en elke geweervervaardiger het een op sy rak.

Ballisties gesproke is die .30-06 een van die veelsydigste kalibers wat nóg ontwerp is met koeëlpunte wat wissel van 150-250 grein. Dit kan gelaai word om goed kers vas te hou by baie van die magnum-kalibers. Die gewilde 180 grein-punt behaal ’n gemiddelde spoed van 2 700 voet per sekonde (824 meter per sekonde).

9,3 x 62 MM

Die 9,3 x 62 mm -kaliber is in 1905 deur die Berlynse geweersmid Otto Bok ontwerp om in die 1898-Mauser gebruik te word. Mausers van hierdie kaliber was bekostigbaar en baie betroubaar. Dit het gou gewild geraak onder boere en jagters in veral Afrika, waar dit met groot sukses aangewend is om medium- tot grootwild te jag.

Verskeie Europese ammunisievervaardigers vervaardig hierdie kaliber en dit word algemeen erken as een van die doeltreffendste mediumkalibers. Elke gevaarlike wildsoort in Afrika is al met ’n skoon doodskoot van ’n 9,3 x 62 mm platgetrek. Die 9,3 x 62 mm word gewoonlik met ’n 286 grein-punt gelaai wat ’n spoed van gemiddeld 2 370 voet per sekonde (723 meter per sekonde) behaal.

.375 HOLLAND & HOLLAND MAGNUM

Holland & Holland van Brittanje het in 1912 die .375 Rimless Beltless Express bekend gestel wat ons vandag as die .375 Holland & Holland Magnum ken. Die ontwikkeling was in reaksie op die gewildheid van die Duitse 9,3 x 62 mm en was as direkte teenvoeter bedoel.

Die .375 H&H het ikoniese status bereik deur homself oor meer as honderd jaar te bewys as een van die veelsydigste kalibers wat met verskillende ladings en punte suksesvol vir enige soort wild gebruik kan word. In baie Afrikalande word die .375 H&H as die minimum kaliber vir gevaarlike wild gespesifiseer, en dit bly die gewildste kaliber onder beroepsjagters.

’n Tipiese 300 grein-punt word gelaai om ’n spoed van 2 530 voet per sekonde (772 meter per sekonde) te bereik.

KLASSIEKE AFRIKA-ERVARING

Maar dit is nie net gewere en kalibers waarna ons moet kyk vir die klassieke jagtog nie. Dit gaan tog eintlik om die totale jagbelewenis. Jy sien die afgelope paar jaar toenemend hoe die invloed van kommersiële belange die siel uit jag begin tap. Die boerderybedryf gaan gebuk onder groot klimaats-, finansiële en politieke druk wat ’n nadelige uitwerking op verdienste uitoefen.

Dit beteken dat alle moontlike bronne van inkomste op plase doeltreffend benut moet word. Baie plase waarop wild voorkom, word dan as jagbestemming ontwikkel. Om die jagters met diep sakke te lok, word daar luukse kampe en lodges gebou met stadsgeriewe, soos ’n vyfsterrestaurant, swembaddens en selfs spa’s.

Party jagters verwag hoë vlakke van gerief en diens – van gemaklike jagvoertuie met sagte skietstoele tot ’n alles-in-een-diens met die afslag van wild en verwerking van vleis. Daar is ’n mark vir hierdie groep jagters en dit maak finansiële sin om in hul behoeftes te voorsien, maar daar is ook toenemende weerstand onder dié jagters wat hunker na die klassieke jagervaring.

’n Gerieflike safaritent in die veld.

Al hoe minder buitelandse jagters besoek Suid-Afrika, terwyl lande soos Namibië ’n toename in die getal buitelandse jagters ervaar. Navorsing toon dat Suid-Afrika nie meer as ’n aantreklike Afrika-jagbestemming gesien word nie vanweë die oorkommer- sialisering van die jagbedryf.

Jagters stel nie belang in luukse lodges en wildkampies met hoë heinings waar jy jou trofee binne ’n uur kan jag nie. Hulle wil die klassieke Afrika-ervaring hê met wye landskappe en tentjagkampe met gerieflike, maar basiese geriewe. Dit is tog waaroor jag werklik gaan.

Die geleentheid om een te wees met jou natuurlike omgewing en saam met die fauna en flora deel van die groter Skepping te raak. Om stil te wees, die wind te “lees” en te soek vir ’n koedoeskim tussen die takke. Dit is hierdie klassieke tradisie wat tydloos is en ons in voeling bring met die sielsdinge van die lewe.

Oordadigheid is die duiwel se trapleer – vinniger, groter, blinker tot op die hoogste (oortreffende) trap waar Icarus se vlerke smelt. ’n Gesonde balans in alles wat met jag te doen het, bly die sleutel tot volhou- baarheid om die toets van die tyd te deurstaan.

Mnr. Deon Erasmus is ’n voormalige diplomaat en sakeman, ’n toegewyde jagter en vuurwapengeesdriftige.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.