Mnr. Marius Eksteen, ’n sakeman en wildboer van Bloemfontein, dagvaar die diamantreus De Beers oor Lusaka se herkoms. Volgens ’n berig op Netwerk 24 het Eksteen se boerdery, Hatari Game Breeders, Lusaka in 2015 op De Beers se Extreme-wildveiling op Klerksdorp gekoop. Hy is glo bemark as ’n nasaat van die rasegte Zambiese bul Inglewood. Eksteen was bereid om R290 000 vir dié teelmateriaal op te dok.

Nadat Lusaka 30 van Hatari se koeie gedek het, is hy die volgende jaar aan Thaba Property teen R250 000 verkoop.

DNS-toetse op swartwitpenskoeie wat van Lusaka dragtig was, het, nadat hulle verkoop is, aangedui dat Inglewood se gesogte bloed nie in hul are vloei nie. Lusaka is dus ’n afstammeling van Zorro – ’n swartwitpens met ’n vermenging van Matetsi- en Zambiese bloedlyne.

Die koper, mnr. Dean Loser van Reddersburg, het die dragtige koeie teen R9 miljoen aangekoop op voorwaarde dat DNS-toetse Inglewood se bloed in hul kalwers bevestig. Die transaksie is ná die uitslag van die bloedtoetse gekanselleer.

Hatari moes pa staan vir die skade en die koeie terugvat, wat volgens ’n kenner R56 400 elk werd was, pleks van die R450 000 waarvoor hulle verkoop is.

Eksteen eis R7,3 miljoen van De Beers vir sy verlies en skade aan Hatari se reputasie in die wildbedryf. De Beers het glo aangedui hy gaan die eis teenstaan.

Me. Riëtte Symmonds, woordvoerder van die Wildprodusente-vereniging (WPA), sê dít is hoekom die WPA in die lewe geroep is. Die doel van die organisasie is om wildsoorte se geslagsregisters deur telersgenootskappe te laat opneem en te registreer soos met bees-, skaap- en selfs honderasse. “By renosters word inligting goed bygehou en ons het ’n deeglike kennis van elke dier se geskiedenis, selfs by buffels, maar vir ander diersoorte moet kopers dikwels die verkopers se woord vertrou.”

Symmonds sê dit is byna onmoontlik om te sê presies watter teelmateriaal in ’n spesifieke bok is, elke teler vertrou maar die woord van die teler by wie hy die dier gekoop het, maar bitter min daarvan is geneties geverifieer.

’n Bron, wat graag anoniem wil bly, stem saam en wys daarop dat die verwysing na “topteelmateriaal” op veilingvloere dikwels meer met bemarking te doen het as met die werklike prestasie of ’n geslagsregister.