Dit het sonder uitsondering grasveld in droër gebiede laat agteruitgaan tot bossieveld (byvoorbeeld Etosha), en in gebiede met ’n hoër reënval het dit tot onsmaaklike eenjarige en meerjarige grasse gelei, met ’n gepaardgaande toename in struikdigtheid (bosverdigting) in die warmer gebiede.

In die Karoo het aanhoudende benutting sonder uitsondering bossieveld tot gevolg gehad. In hierdie verband moet genoem word dat rooigras (Themeda triandra) tans nog in die koppies en rante in die Karoo voorkom.

As voorbeeld van die invloed van aanhoudende benutting op die grasstratum kan die Etosha-stelsel gebruik word. Kortliks het die stelsel voor die oprigting van die wildwerende heining soos volg gefunksioneer. Die wild (hoofsaaklik blouwildebeeste en sebras) het met die begin van die reëntyd in Kavangoland vanaf Etosha ooswaarts gemigreer in die rigting van die reën.

Geleidelik het hulle saam met die reën (wat weiding beskikbaar gemaak het) weswaarts terugbeweeg na Etosha tot noord van die pan en daarna om die weste van die pan na die suide. Die grond in die gebied om die pan het ’n hoë pH, wat ’n “soet”, verteerbare grasstratum onderhou het en dus ideale droëseisoenweiding was.

Met die aanvang van die volgende reënseisoen is bogenoemde proses herhaal. Die omheining van Etosha het die migrasie van die sebra en blouwildebees tot ’n einde gebring, met ’n gevolglike drastiese vermindering in hul getalle. Die gevolg van aanhoudende benutting ná die oprigting van die heining was dat die grasstratum mettertyd verdwyn het.

Die natuurlike stelsel het oorspronklik hoë weidingsintensiteit met ’n kort beweidingstydperk behels, soos ook elders in Afrika aangetref word. Dit is egter verander tot aanhoudende benutting.

Mnr. Alan Savory het sy weidingstelsel van ’n kort benuttingstydperk teen ’n hoë intensiteit hiervolgens ontwikkel. Hy is die vader van hierdie weidingstelsel, hoewel die nodige erkenning soms ontbreek. Dit is algemene kennis dat aanhoudende benutting bosverdigting veroorsaak, soos op meer as 90% van wildplase, asook baie beesplase, waargeneem kan word.

Bosverdigting word deur die volgende verklaar. Wanneer ’n graspol ná beweiding uitgegroei het of tydens hergroei, word die wortelreserwes herstel. Dit is nodig vir hergroei ná beweiding. Indien die graspol aanhoudend bewei word, kry dit nie die geleentheid om sy wortelreserwes te herstel nie en word dit uitgeput. Die graspol sterf af.

Na gelang van die klimaat word die meerjarige grasse vervang met hoofsaaklik eenjarige en onsmaaklike meerjarige grasspesies in die hoërreënvalgebiede of met bossies in die droër dele (soos Etosha en die Karoo). Omrede wildverspreiding nie beheer kan word nie, het wildboerdery die teenoorgestelde van die natuurlike weidingstelsel tot gevolg, naamlik aanhoudende benutting.

Op taamlik groot wildplase is dit seker moontlik om ’n mate van wildbeweging teweeg te bring deur die oop- en toemaak van drinkplekke ten einde ’n soort wisselweidingeffek te skep. Die doeltreffendheid daarvan sal deur die oppervlakte van die omheinde gebiede bepaal word.

’n Beesboer wat die veld in ’n produktiewe toestand hou, soos hierbo uiteengesit, lewer myns insiens ’n groter bydrae tot natuurbewaring as ’n wildboer met ’n oorbenutte plaas. Ten slotte is dit belangrik om in gedagte te hou dat daar met gras en water (goeie grondbedekking bevorder waterindringing) geboer word, en nie met wild of beeste nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.