Die heel beste nuwejaarsvoorneme, het ek agtergekom, is om geen voornemens te hê nie. Die 10 kg wat ek my reeds die afgelope 20 jaar voorneem om af te skud, sit immers nog net waar dit sit, en net vanoggend moes ek weer deur jare se opgehoopte chaos in my motorhuis krap om ’n boorpunt te soek.

Maar vanjaar het ek besluit om tóg, veral wat jag en gewere betref, ’n paar dinge te verander.

Die afgelope twee jaar het die lewe my taamlik stief behandel. My skoonseun, Johann, wat die afgelope klompie jare my beste jagmaat was, het kanker gekry en is aan die begin van verlede jaar oorlede, net 38 jaar oud. Die afgelope twee jaar het ek die veld vermy, want die herinneringe was net te veel, en wat maak jy sonder jou spesiale jagmaat in die veld?

Die afgelope vakansie was ek egter weer op Pronksberg, daar in Namibië se Swartrand, waar ons twee dikwels saam gejag het. Die plaas maak altyd my kop en gemoed lekker oop.

Hoewel dit somer was en daar natuurlik nie gejag is nie, was ek nog nooit op Pronksberg sonder dat ons darem ’n bietjie teiken geskiet of gaan jakkalse soek het nie. Stadigaan het ek begin voel en besef die lewe moet aangaan. As ek dus gesond en gespaar bly, wil ek dié jaar weer veld toe gaan.

Die eerste afspraak is reeds gemaak met ’n ou vriend, Buks Vogel van Nieu-Bethesda, om springbokke te gaan skiet. Hy met ’n oeroue .303 waarin hy loodpunte laai, en ek met my .577/450-Martini-Henry. Ook op my jaglysie is ’n paar vlakvarke en dalk ’n rooibok of twee by Jackie Pieterse naby Adelaide.

Hoewel vlakvarke en rooibokke nie juis vroeër jare in die Oos-Kaap voorgekom het nie, is daar nou taamlik baie van albei. Vlakvarke raak eintlik op sommige plase ’n verpesting. As jy van Port Elizabeth af na Graaff-Reinet ry, moet jy maar mooi kyk vir die gevaar van vlakvarke langs die pad.

Ek het ’n paar jaar gelede vir Johann ’n .243 gegee waarmee ek self baie jare lank geskiet het, en het dit nou weer uit die boedel gekoop. Ek sien daarna uit om die varke en rooibokke daarmee opdraand te gee. Die .243 is in ons oop wêreld ’n lekker kaliber vir hierdie twee wildsoorte.

Jagfiks

Die tweede voorneme is om jagfiks te raak. Hoewel ek fietsry-fiks is (ek wil in Maart die Cape Town Cycle Tour van 109 km aanpak), het ek die afgelope paar weke tot my verdriet agtergekom ek is nie stapfiks nie. Ná ’n dag op my voete is alles die volgende dag seer – beenspiere, voete . . . sommer die hele ou lyf.

Ek jag verkieslik te voet en het vir my ’n paar lekker Tarzan-stewels daar uit Tulbagh se wêreld gekry. Nou nog net die dissipline om gereeld ’n paar kilometer te stap, want by Buks en Jackie is dit voetslaan al die pad.

Ek glo dis elke jagter se plig om fiks genoeg te wees om taamlik ver te stap. Ek dink elke dier verdien dat ek uit respek vir die lewe wat ek neem, nie al te gemaklik sal wees nie.

Gebruik daai Kersgeskenk

My hartewens is toe ook vervul. My Krismisboks was ’n lank begeerde chronograaf. Dié jaar wil ek graag weer splinternuwe ladings vir my .30-06 uitwerk. Die kruit waarmee ek baie jare herlaai het, is nou boomskraap, en om weer so ’n goeie lading te ontwikkel, sal beslis tyd en aandag verg.

So ’n paar weke gelede het dit gevoel of ek weer op die skoolbanke is toe ek moes aansit vir my eksamen om ’n swartkruit-bevoegdheidsertifikaat te bekom. Ek het die eksamen geskryf en darem geslaag, en die verpligte aantal skote met ’n voorlaaier op die teiken gekry. Nou wag ek in spanning om my sertifikaat te ontvang.

Hoewel ek nog altyd ’n permit gehad het om swartkruit te besit (aangesien my Martini daarmee gelaai word), het ’n nuwe byvoeging tot die vuurwapenwet dit verpligtend gemaak om ook ’n bevoegdheidsertifikaat te kry.

Noudat ek weer ’n slag met ’n voorlaaier geskiet het, kan julle seker raai wat nog ’n voorneme is? Of sal ’n mens dit liewer ’n groot wens noem. Ja, dalk is vanjaar die jaar dat ek vir my ook ’n voorlaaier koop. Soos hulle altyd sê: Hou hierdie spasie dop.

* Ben Fourie is ’n geweergeesdriftige van Port Elizabeth.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.