Olifante is verwoesters van formaat, en geen groente of ander aangeplante gewasse oorleef ’n olifantstrooptog nie. Selfs in die natuur word groot verwoesting gesaai.

Min water is beskikbaar voor die reënseisoen, wat beteken dat groot troppe olifante naby watergate bly. Die bosse en bome om hierdie waterbronne word summier verskeur en opgevreet.

Om een olifant te skiet, sal ’n jagter meer as R1 miljoen uit die sak jaag. ’n Deel daarvan gaan na die regering, ’n deel na die gemeenskap wat in die gebied woon, en nog ’n deel na die plaaslike konsessiehouer. Toe die moratorium ses jaar gelede ingestel is, is 300 olifante geskiet – ’n klein persentasie van die totale bevolking.

Een aand toe ons by die Elephant Sands Lodge, sowat 50 km noord van die dorpie Nata in die noordooste van Botswana, oorgeslaap het, het ek ook met olifante te doen gekry. Dit was die eerste aand van ons tog van meer as 5 500 km deur Botswana en Zambië.

WAAR DIE OLLIES REGEER

Ek het sommer met ons aankoms by die kampeerplek gesien hier gaan moeilikheid kom. By die hek is ’n kennisgewing: “Elephant Sands – where the elephant rules.” Die olifante loop sommer los rond in die kampeerplek, en daar is nie heinings om die wilde diere uit die kamp te hou nie.

Dit het nog nie gereën nie, en water vir die olifante is teen groot koste uit ’n boorgat na ’n waterkrip reg voor die restaurant gepomp. Dit is warm in dié plek. Die mense daar sê: “Dit is nie warm nie, dit brand.”

Daar was 43 olifante van alle groottes wat gestoei en gestamp het om water te drink. Die hiërargie was baie duidelik. Selfs die kalfies moes wag tot die tropleiers klaar gedrink het.

Ek het altyd gedink olifante sorg mooi vir hul kalfies, maar in Botswana het ek iets anders gesien. ’n Groot bul het die kleinste kalfie in die trop stormgeloop en die skreeuende kalfie onderstebo geskop. Later het ek gehoor die kalfie se ma is dood en hy het toe dié bul uitgekies as nuwe ma – tot ergernis van die bul.

Die Botswana-regering het Ben Moller, eienaar van Elephant Sands, toestemming gegee om water uit vyf boorgate te pomp in ’n gebied van 50 vierkantemeter om die 2 000 olifante in die gebied van water te voorsien. Dit versprei die olifante tussen die vyf boorgate, en sorg dat hulle wegbly van klein nedersettings in die gebied, waar bestaansboere ’n lewe probeer maak.

TE NABY VIR MY GEMAK

Ek het my grondtentjie langs Martin Slabbert, toerleier van die safarigroep waarvan ek deel was, opgeslaan. Hy was egter in ’n daktent op ’n bakkie. Ek het lank wakker gelê en my bekommer oor die olifante wat so tussen ons deurloop.

Ek moes uiteindelik aan die slaap geraak het, tot iets my wakker gemaak het. Reg langs my tent het ’n vreeslike groot olifant gestaan, besig om aan die ventilasiegate te ruik wie binne lê en slaap.

Ek wou dadelik onder die kampbedjie induik, maar het eerder besluit om so stil moontlik deur die histeriese oomblik te worstel. Eers toe die olifant ’n doringbossie langs die tent uit die grond ruk en met malende tande begin vreet, het ek gedink ek kan dalk weer ’n sonsopkoms beleef.

Dit was my tweede interaksie met olifante daardie aand. Vroeër, net ná aandete, het ek en Martin ’n laataanddop langs sy bakkie gemaak. Ons het elkeen op ’n kampstoel gesit en oor mekaar se skouer gekyk na die immer teenwoordige olifante om die tente en watergat.

Sonder ’n geluid het twee groot olifante uit die donker op ons afgesluip en tot amper teen die bakkie geloop, daar waar ons gesit en filosofeer het. Ek het ’n besluit geneem wat dalk my lewe gered het: Ek het onder die bakkie ingeduik en doodstil in die sand gelê. Martin het bly sit en vir my gegiggel – dalk omdat hy ook sy alie afgeskrik het?

Die olifante het lank net daar gestaan, terwyl ek my laaste boodskap met my vinger in die sand geskryf het: “Dankie vir alles.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.