Daar is min mense in Suid-Afrika, selfs onder die pioniers van die wildbedryf, wat kan spog met ’n koedoeboerdery wat al 31 jaar lank ekstensief bestuur word om konstant bulle met rekordboek-horingmates voort te bring. Dit is egter presies wat mnr. Pieter van der Walt en sy seun, Tjaart, al die afgelope drie dekades doen.

Mnr. Pieter van der Walt (links) en sy seun, Tjaart.

Pieter se liefde vir wild het reeds as kind in die jagveld begin. Hy onthou nog hoe hy met sy Hercules-dikwielfiets die stofpaaie van Sentrum, naby Thabazimbi, platgery en in sy agterkop aantekeninge gemaak het van plekke waar hy groot koedoespore gesien het. Sy eerste bok (’n koedoe) het hy in 1949 met ’n .22-Remington geskiet.

Hy het steeds die sakboekie waarin hy elke liewe bok en dié se besonderhede sedertdien aangeteken het. “As ek koedoes jag, het ek altyd die een met die grootste horings gesoek.” Uit die meer as 500 koedoebulle wat Pieter oor die jare op verskillende plekke in Suid-Afrika gejag het, het net 15 horings van langer as 56 duim gehad en net vier keer kon hy ’n koedoe kry met horings van langer as 60 duim.

Aan die beginjare was die Bosveld nog leeuwêreld en koedoes met uitsonderlike groot horings het moeiliker gevlug wanneer roofdiere op hul spoor was. Daarom sê Pieter mense wat dink daar was ’n tyd toe bulle met horings van 60 duim en langer die norm was, het die kat aan die stert beet.

Om in die Roland Ward-register opgeneem te word, moet ’n jagter ’n koedoebul skiet met horings van langer as 537/8 duim. “As 60 duim-horings op ’n tyd die norm was, sou die Rowland Ward-vereistes mos hoër wees,” meen Pieter.

Tjaart sê die oplewing in die verkope van lewende wild en die goeie pryse wat uitsonderlike bokke drie, vier jaar gelede op veilings verdien het, het sogenaamde telers aangespoor om groot bulle met helikopters te soek en op veilings te koop aan te bied.

“Dit het die indruk gewek dat sulke groot bulle met horings van 60 duim en meer volop was. Daar was dan etlikes in die handel beskikbaar.” Pieter en Tjaart het egter besluit om nie munt te slaan uit hierdie prysborrel nie en doodrustig met hul bestuursprogram vir groot horings aangehou.

As ’n mens van bestuur praat, klink dit of die koedoes in kampies aangehou is, maar Pieter se beleid is om saam met die natuur te boer. Hoewel hy en Tjaart intensief met ander skaars wild, soos Wes-Zambiese swartwitpense, boer, het hulle hul koedoes, buffels en selfs die Afrikanerbeeste nog altyd ekstensief bestuur. Die koedoes is saam met ander wild toegespan in ’n gebied van 2 353 ha.

Jare se seleksie

“As ’n mens vir ’n spesifieke eienskap selekteer, duur dit lank voordat die geen wat jy soek, in ’n kudde vasgelê is,” sê Pieter. Hy sal weet. Hy het al Afrikanerbeeste geteel om die Amerikaanse Longhorn van sy titel as bees met die langste horings te onttroon.

Ná 31 jaar sê hy hulle kan nou eers spog met heelwat koedoebulle wat almal horings van langer as 60 duim het, maar die meeste in die kamp is nog nie daar nie. Uit die daaglikse foto’s wat stelkameras by suipings neem, kon Pieter en Tjaart sien dat daar nagenoeg 50 bulle in die kamp loop met horings van langer as 56 duim.

Uit die daaglikse foto’s wat stelkameras neem, kon Pieter en Tjaart sien dat daar nagenoeg 50 bulle in die kamp loop met horings langer as 56 duim.

“Dit het amper ’n leeftyd gekos om by hierdie punt te kom,” en Pieter sê hulle is steeds nie gretig om hul groot bulle te verkoop nie. “As bulle eers so groot is, skuif ’n mens hulle nie maklik nie. Hulle vrek.”

Pieter sal eerder van die koeie in hierdie kamp verkoop en meen dit is ’n groter aanwins as ’n enkele bul. “Ná 30 jaar is die genetiese eienskappe van ons groot bulle behoorlik in hierdie koeie vasgelê.” Hierdie groot koedoebulle was nie altyd die norm op die plaas nie. Soos oral in die Bosveld het ’n mens maar van tyd tot tyd ’n besonderse bul gesien en as jy kon, het jy hom gejag.

“Só het ons oor die jare ons beste teelmateriaal uitgeskiet en net die swak bulle gelos om te teel. Dis hoekom ek sê jy kan nie oornag weer groot horings teel nie. Daardie swak gene teel mens nie met een generasie weg nie.” Pleks daarvan om die koedoes te probeer bestuur, het Pieter en Tjaart die jag in dié kamp noukeurig begin bestuur.

“Ons het nooit iemand daar laat jag sonder dat ek of Tjaart by was nie. Jagters kon net die bokke skiet wat ons aan hulle uitwys.” Só het pa en seun oor die jare biltongjagters gebruik om hul swakker diere uit te skiet. Hulle het elande op dieselfde manier in dié kamp bestuur. Daarom kon hulle laas jaar reeds vier bulle met horings van langer as 40 duim deur trofeejagters laat jag.

Jagters se droombokke

Pieter sê hy het die projek van die begin af met die trofeejagter in gedagte bestuur. “Koedoejag is die room van jag in Afrika. Ek meen koedoes lok elke jaar meer jagters na Afrika as enige ander boksoort.” Daarom is sy koedoetroppe met hul groot bulle vir hom van onskatbare waarde, maar dit is die koeie wat hy soos goud oppas.

In al die jare van bestuur het hy nooit ’n koei in hierdie teelprogram geskiet nie. “Sê nou net ons skiet ’n koei wat daardie mooi gene dra?” Om getalle te beheer, vang Pieter en Tjaart eerder volwasse koeie uit en los die verse om deur die oorblywende groot bulle gedek te word. Daar moet vanjaar minstens 120 koeie uitgevang word.

Buiten die jag van bulle vir biltong en die vang van koeie is die enigste bestuur wat hulle toepas, om wintervoer vir die koedoes uit te sit.

Die koeie het reeds gewys hulle kan groot bulle teel. Op die manier kan hulle nou al konstant reken dat minstens 75% van die bulle uit hierdie program die 56”-merk gaan oorsteek en ál meer van hulle bereik uiteindelik 60 duim en meer. In die winter word voer vir die koedoes uitgesit. Buiten die jag van bulle vir biltong en die vang van koeie is dit die enigste bestuur wat hulle toepas.

Dit was veral die laaste vier jaar noodsaaklik om die koedoes deur die moeilikste droogte in Pieter se leeftyd te kry. “Ons hou daarvan om natuurlik en van die veld af te boer,” sê hy, maar voeg by dat hulle baie van wat hulle uit hul geliefde Afrikanerbeeste geleer het, op die wild toepas.

“As jy kyk na ’n goeie beeskudde wat oor ’n lang tyd opgeteel is, sal jy sien dat jou koeie eenvormig lyk. Jy sal dieselfde sien as jy na ons wild kyk, of dit nou die koedoes, buffels, elande of gemsbokke is. Ons haal net die swak diere met jag uit, soos wat die natuur met roofdiere sou doen en soos wat ’n beesboer in sy keuringsproses doen.

“Om koedoebulle vir horinglengte te selekteer, kyk mens na die groeipunte. Ons soek bulle met lang punte,” sê Tjaart. Ná jare van koedoebulle monitor, kan Pieter en Tjaart al sommer in die eerste paar maande van ’n bulkalf se lewe sien of hy aan hul vereistes gaan voldoen.

“As ’n jong bulletjie se horings lang punte het, kan jy maar weet hy gaan diep draaie maak . . . en dit is die bulle met diep draaie in hul horings wat na die 60 duim-kerf toe neig,” sê Tjaart.

“As ’n jong bulletjie se horings lang punte het, kan jy maar weet hy gaan diep draaie maak en dit is die bulle met diep draaie in hul horings wat na die 60 duim-kerf toe neig.”