Party jagters meen looplengte beïnvloed ook akkuraatheid en op ’n klein skaal is dit so, juis omdat langer lope gewoonlik dunner gemaak word om gewig te bespaar – en dikte het ’n invloed op akkuraatheid.

Ander glo weer ’n loop moet lank genoeg wees sodat die koeël, vanweë die groefdraai, minstens twee rotasies moet kan maak om genoeg vlugstabiliteit te verkry, want stabiliteit is noodsaaklik vir akkuraatheid. Maar dit is nie so nie.

Lope met ’n groefdraai van 1:12 wat net 18 duim lank is en dus net een en ’n half rotasies het, stabiliseer die koeël met die regte gewig gewoonlik heeltemal voldoende. Daar is twee hoofredes waarom dikker lope akkurater is: vibrasies en temperatuur.

Beperk vibrasies

As ’n koeël deur die geweerloop beweeg, veroorsaak dit vibrasies. Die amplitude of trillingswydte van die vibrasies beïnvloed die plek waar die koeël die teiken tref. Dink aan ’n tuinslang. As jy die water oopdraai en die water deur die pyp stroom, maak die tuinslang letterlik golwe en dit laat die punt rondspring.

Presies dieselfde gebeur as ’n koeël die loop verlaat. Elke keer dat ’n koeël die loop verlaat, tref die koeël ook die teiken op ’n ander plek as ander koeëls omdat die vibrasies op ’n effens ander plek is. Beperk vibrasies dus soveel moontlik. Aangesien dit nie heeltemal uitgeskakel kan word nie, moet dit so eenvormig moontlik gehou word.

Jy kan verskeie dinge doen, soos ladings wat presies aangepas is by die loop se vibrasies of die loop kan op ’n presiese lengte gesny word om die vibrasies uit te kanselleer. Dit is soms baie tegnies en vir die gewone skut nie die moeite werd nie. Hoe die loop gepak is en die dikte is vir die gewone skut die belangrikste maniere om vibrasies te beheer.

Wat die pak van ’n loop betref, is een wat heeltemal vry in die kolfkanaal lê – die loop raak nêrens aan die hout of ander materiaal waarvan die kolf gemaak is nie – gewoonlik die beste. Die loop kan dan vry vibreer. My eie gewere is egter oor die hele looplengte met glasvesel bedek omdat ek nie hou van die oop gleuwe langs die lope wat vry lê nie.

As dit reg gedoen word, werk dit goed. Wat dikte betref, is dit logies dat hoe dikker die loop is, hoe minder dit vibreer. Kyk maar weer na die tuinslang. ’n Dunnetjie se punt spring baie meer rond as dié van ’n swaar, dik tuinslang.

Temperatuur

Enigiemand wat al ’n paar skote vinnig agter mekaar gevuur het, sal weet die geweer se loop word só warm dat jy nie aan hom kan raak nie. Dit benadeel akkuraatheid. Ons almal onthou nog uit ons skooldae dat metale wat warm gemaak word, uitsit. Dit is presies wat met ’n geweer se loop gebeur.

Dit beteken die groewe in die loop se greep op die koeël is ’n klein bietjie minder as met ’n koue loop. Hoewel die invloed nie baie groot is nie, speel dit tog ’n rol. ’n Warm loop vibreer ook bietjie anders as ’n koue een. Die warm loop wat uitsit, kan ook aan die loopkanaal raak en só akkuraatheid beïnvloed.

Hoe dikker die loop is, hoe langer vat dit om warm te raak en hoe minder word akkuraatheid nadelig geraak. Hou ’n koppiespeld en ’n sesduim-spyker vir dieselfde tyd in ’n kersvlam en kyk watter een brand jou hand die vinnigste. ’n Dikker loop het ’n groter oppervlakte, wat beteken hitte word makliker aan die atmosfeer afgestaan en die loop koel dus ook vinniger af.

Om die oppervlak te vergroot, word in sommige gewere se lope groewe in die lengte ingesny (hulle het fluted barrels). Vir die gewone jagter, wat gewoonlik nie veel meer as 100 skote per jaar op die skietbaan en in die jagveld aftrek nie, is al dié gegewens interessant, maar dit het nie te veel invloed op sy of haar skietplesier nie.

’n Swaar loop is dalk effe akkurater, maar dit laat jou teen die opdraandes sweet en is dalk lomp om te hanteer. Kies liewer ’n geweer wat lekker hanteer en darem drie skote in min of meer een en ’n half duim groepeer, as een wat halfduim-groeperings skiet, maar te swaar en onhanteerbaar is. Vir langafstand-skuts, veral dié wat dooierus skiet, is dikker en swaarder lope egter onontbeerlik.

Ben Fourie is ’n geweergeesdriftige van Port Elizabeth.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.