Verskillende lande het verskillende sienings oor die besit van vuurwapens. In Japan word deesdae goeie vuurwapens vervaardig, maar dit is een van die lande waar private vuurwapenbesit bykans nie bestaan nie. ’n Land soos Rusland, waar ’n mens baie streng wetgewing kon verwag, het min of meer dieselfde stelsel as in Suid-Afrika.

’n Mens moet sekere opleiding kry en jou misdaadrekord word nagegaan. Daarna kan jy, as jy 18 jaar oud is, ’n lisensie vir jag, sport of selfverdediging kry wat elke vyf jaar hernu moet word. In Brittanje word toegang tot wapens baie streng deur wetgewing beheer.

Privaat persone kan gewere en haelgewere vir jag en sportskiet besit, maar die lisensiëring daarvan is onderworpe aan streng beheer. Dis bykans onmoontlik om ’n handwapen te mag besit.

Nieu-Seeland is baie minder streng oor wapenbesit, en die uitreik van lisensies word aan die oordeel van die polisie oorgelaat.

’n Suid-Afrikaner met wie ek lank per e-pos gekorrespondeer het, se jaggeweer het byvoorbeeld van sy skouer afgegly en in een van die land se ruwe bergskeure verdwyn. Die polisie het sonder meer vir hom ’n nuwe lisensie uitgereik. In Europa is alle lidlande van die Europese Unie onderworpe aan die minimum vereistes wat deur die sogenoemde “Europe Firearms Directive” gestel word.

Sommige lande se wetgewing is gemakliker as ander, maar almal hou streng by die minimum vereistes. In Duitsland, byvoorbeeld, is jaggewere maklik bekombaar, maar jaggeleenthede is beperk en baie duur; skuts word ook aan streng praktiese en teoretiese toetse onderwerp. Handwapens is meestal net vir sportskiet verkrygbaar.

Ek het tydens ’n besoek aan Oostenryk in Lofer en Wene self met verskeie wapenhandelaars gesels en hulle het my verseker dat wapens en lisensies maklik bekombaar is in hul land.

Politieke gevegte

Lande soos Amerika het ’n baie gemaklike houding teenoor die verkryging van vuurwapens, selfs vir semi-outomatiese gewere wat in Suid-Afrika heelwat moeiliker is om te lisensieer. Amerika se grondwet as onafhanklike staat is op 17 September 1781 in Philadelphia onderteken (ná die Oorlog vir Onafhanklikheid teen Engeland) en het in 1789 van krag geword.

Sedertdien is reeds 27 wysigings of byvoegings tot die grondwet gedoen. Die eerste tien hiervan staan algemeen bekend as die “Bill of Rights” en die tweede amendement wat vir ons van belang is, lui: “A well regulated Militia, being necessary to the security of a free State, the right of the people to keep and bear Arms, shall not be infringed.”

Dit het deur die jare vir groot politieke en ander botsings oor private wapenbesit in Amerika gesorg. Die grootste probleem is dat die gesprek oor vuurwapenbeheer dikwels so emosioneel is dat mense nie objektief reageer nie. Opponerende groepe luister dus glad nie na mekaar nie en daar word geen ruimte vir mekaar se siening getoon nie.

Die gesprek raak moeiliker omdat baie onverwante aangeleenthede – dikwels polities van aard – bygesleep word. In Die Burger (26 Maart 2018, bladsy 11) het ’n berig verskyn onder die opskrif “Jeug takel ‘ou mans en hul wapenwette’ ”. Dit het gegaan oor massa-optogte in Amerika, waaraan veral jong mense deelgeneem het, ná ’n slagting by ’n skool.

’n Mens moet self die artikel lees om te sien hoeveel politiek betrokke is. Dit gaan lankal nie meer oor ’n sinvolle gesprek oor vuurwapenbesit nie. Verskeie politieke kwessies, soos die regte van vroue en etniese minderhede, en selfs rassekwessies word bygesleep.

Ontevredenheid met mnr. Donald Trump en sy regering speel ook ’n groot rol. Te midde van die brandpunt staan die Amerikaanse vuurwapenvereniging (NRA). Hy skerm al baie jare lank vir die “Second Amendment” en word – soms tereg – beskuldig van onbuigsaamheid oor die kwessie van wapenbeheer.

Maar om van die organisasie te praat as “ou, wit mans” help nie om ’n sinvolle gesprek in Amerika aan die gang te sit nie.

Hou jou kant skoon

Waar laat dit ons? Baie jare gelede het ’n aantal vuurwapengeesdriftiges my by Barkly-Oos in die Drakensberg opgespoor. Hulle wou hê ek moet deelneem aan ’n radiogesprek tussen vuurwapeneienaars en die organisasie Gunfree South Africa.

Ek het dit gedoen, maar tydens die gesprek het ek besef hoeveel die standpunte van mekaar verskil, veral dat dit bykans onmoontlik is om nie emosioneel te raak nie en rasioneel te redeneer. Hoe praat ek, wat van kleins af versot is op vuurwapens, met mense wie se doel dit is om van alle wapens in Suid-Afrika ontslae te raak?

Hoe praat ek met mense wat vooraf besluit het hulle wil my nie hoor nie? Ongelukkig is dit wat nou aan die gang is in Amerika en ’n jaar of wat gelede, ná aanvalle in Europa, ook daar ter sprake was. Mense wil mekaar eenvoudig nie hoor nie. Vuurwapengeesdriftiges in Suid-Afrika moet sorg dat daar skoon gevee is voor ons deure.

Niemand moet ’n vinger kan wys oor nalatigheid of wapenmisbruik aan ons kant nie. Jag eties, handhaaf streng wapenveiligheid en moenie skietgoed gee aan dié wat anders dink as ons nie.

Ben Fourie woon in Port Elizabeth en is ’n jag-en-vuurwapengeesdriftige

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.