Mnr. Piet Warren, megaboer van Gravelotte in Limpopo, sê sy renosters is besig om sy beesboerdery op te vreet. “Die beeste kan eenvoudig nie vinnig genoeg geld verdien om vir die renosters te sorg nie.” Mnr. John Hume, Suid-Afrika se grootste renosterboer, het verlede week op sy boerdery se Facebookblad gevra vir hulp omdat hy nie meer voer vir sy 1 642 renosters kan bekostig nie.

“Ons kan nou dadelik R300 000/kg vir ons renosterhoring verdien, maar ons mag dit nie wettiglik aan gewillige kopers in lande soos China verkoop nie,” sê Warren.

Al wat moes gebeur het, is dat Suid-Afrika se Regering moes aandui dat hy wettiglik in renosterhoring wil handel dryf en dit dan in Mei by die Cites-konvensie in Sri Lanka in Mei motiveer.

Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die private renostereienaarsvereniging (PROA), sê daar is geen rede vir die Departement van Omgewingsake om nie so ’n aansoek by Cites in te handig nie. Die PROA het reeds vroeg in 2018 met die departement vergader om al die ooglopende voordele van wettige handel in renosterhoring voor te lê.

Daarna het die departement bevind dat Suid-Afrika se witrenoster op Cites se bylae 2 (wat met handel verband hou) aangedui moet wees, en dat die bepaling wat die handel in horing ingevolge bylae 1 beperk, verwyder moet word. ’n Verslag wat die ekonomiese voordele van die wettige handel in renosterhoring vir Suid-Afrika uiteensit, is toe teen einde verlede jaar aan Mokonyane voorgelê. “Wettige handel in renosterhoring kan ’n kontantinspuiting van R60 miljard vir die Suid-Afrikaanse Regering beteken,” sê Jones. “Die staat besit twee derdes van die opgehoopte renosterhoring in Suid-Afrika en sal boonop omtrent 25% van die private verkope se wins in belasting kan vorder.”

Vir die PROA maak dit dus geen sin dat die minister nie betyds aangedui het dat Suid-Afrika se renosterhoring wettig verkoop mag word nie. Swaziland het wel aangedui dat hy weer aansoek sal doen om sy horingreserwes te verkoop. Namibië gaan ook aansoek doen om sy renosters op bylae 2 aangedui te kry.

Suid-Afrika en boere soos Hume en Warren sal egter nou weer drie jaar moet wag voor die volgende beraad, waar Suid-Afrika die geleentheid sal hê om te vra vir ’n wysiging in sy renosters se status. Van Hume se 1 642 renosters is 300 nou dragtig. Hy besit omtrent 10% van Suid-Afrika se renosters. “As hy die voorraad horings wat hy al opgebou het, môre mag verkoop, kan hy hierdie diere nog vir jare en jare versorg. Nou is hy platsak en die droogte en ’n onbeholpe staatsdepartement is besig om sy moed te breek,” sê Warren. “Ek en John is nie vandag se kinders nie. Ons het nie meer krag vir hierdie geveg nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.