Volgens brigadier Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, geld dieselfde vir ander provinsies. Daar is geen sprake van amnestie of ’n verlenging van die geldigheidstydperk van lisensies soos wat deur die organisasie Vuurwapeneienaars Suid-Afrika (Gosa) voorgestel is nie.

Gosa het in ’n skrywe aan die polisie se regskenners voorgestel dat die staat wegdoen met die hernuwing van vuurwapenlisensies en voer aan dat hierdie beginsel op Kanadese en Nieu-Seelandse wapenwetgewing gegrond is. 

“In albei lande is hierdie tipe wetgewing intussen laat vaar omdat dit duur mislukkings was,” volgens Gosa.

Die organisasie voer aan dat die polisie nie die vermoë het om 400 000 vuurwapens waarvan die lisensies verval het, in te neem en te vernietig nie.

Luidens ’n verklaring wat verlede Woensdag deur die polisie in Limpopo uitgereik is, is ál hierdie vuurwapens nou onwettig en kan dit saam met die spesifieke wapen se ammunusie by polisiekantore ingehandig word. 

Kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, sê eienaars hoef nie vervolging te vrees nie.

Maj. Genl. Jan Scheepers, waarnemende polisiebevelvoerder in Limpopo, het gewaarsku dat daar later teen mense opgetree sal word wat in besit van ongelisensieerde wapens betrap word.

“Die enigste plek waar jy nie vir so ’n wapen vervolg sal word nie, is by die polisiestasie waar jy dit inhandig. As die polisie jou op enige ander plek, selfs by jou huis, in besit van so ’n vuurwapen kry, is jy in besit van ’n onwettige vuurwapen en sal jy ingevolge artikel 28 van die Vuurwapenwet (Wet 60 van 2000) vervolg word,” sê Naidoo. 

Ngoepe sê geen polisiestasie mag mense wat vuurwapens wil inhandig, wegwys nie. Hy verseker die publiek dat alle polisiestasies in Limpopo volledig toegerus is om wapens in ontvangs te neem. Die stasie sal die wapens binne 24 uur na ’n sentrale punt stuur.

Vuurwapeneienaars moet seker maak hulle kry ’n kwitansie wat bevestig dat hulle die vuurwapen ingehandig het, maar Ngoepe maak dit duidelik dat daar geen kans op vergoeding vir die wapen is nie. “Ons betaal nie vir onwettige wapens nie. Dit kan nie geherlisensieer word nie en kan nie aan handelaars verkoop word nie.”

Hoewel Limpopo een van die eerste provinsies is om slypskole vir die inhandigingsproses van vuurwapens vir polisie-amptenare aan te bied, sê Ngoepe die Grondwethof se uitspraak geld vir die hele land en dieselfde proses sal oral geld.