Beesvleispryse het plaaslik sedert 2010 op ’n jaargrondslag gestyg. Die gemiddelde jaarlikse pryse vir klas A-beesvleiskarkasse het oor die afgelope drie kalenderjare met 24% toegeneem, terwyl speenkalfpryse met 69% gestyg het. Die laer mielieprys, 2016 se droogte en ’n kleiner nasionale beeskudde ondersteun plaaslike bees- en speenkalfpryse.

Suid-Afrika het ’n wesenlike tekort aan gehalte-speenkalwers. Weens kontantvloeidruk hou graanprodusente ook hul speenkalwers terug om die laer mieliepryse beter te benut. Die rand se gemiddelde jaarlikse waarde het oor die afgelope drie jaar sedert 2016 versterk, ondanks die wisselkoersbewegings.

Die ondersteuning wat die rand op ’n jaargrondslag vir beesvleisuitvoer gebied het, het gedaal. Die beleidsonsekerheid wat nou volg, kan tot ’n swakker rand lei. Dit kan egter die uitvoer van beesvleis aan die een kant en jagpakkette vir die wildbedryf aan die ander kant bevoordeel.

Die gemiddelde prys vir ingevoerde karkasse het in 2016 R52,62/kg beloop. Verlede jaar het pryse tot R48,02/kg gedaal en vanjaar is die voorlopige gemiddelde prys vir ingevoerde karkasse R49,37/kg. Dit is duidelik waarom die plaaslike karkasprys nie bo dié prysvlak kan styg nie.

As dit gebeur, sal die invoer van beesvleis toeneem. Wildpryse Dieselfde makro-ekonomiese faktore het ’n impak op die pryse van beesvleiskarkasse en wild.

Die wildbedryf het egter eiesoortige probleme om winsgewendheid te handhaaf. In teenstelling met beesvleiskarkaspryse, wat teen dié produk se historiese intrinsieke waarde voortdurend gestyg het, het wildpryse skerp jaarlikse prysbewegings deurgemaak.

Die grafiek is nie ’n aanduiding van die onderlinge winsgewendheid van wild- en ekstensiewe beesboerderye nie. Dit dui wel aan hoe die prysverloop tussen beesvleis- en wildpryse met verloop van tyd vergelyk. Wildpryse het van 2010 tot 2013 redelik tred gehou met beesvleispryse.

In 2014 en 2015 het wildpryse kwaai gestyg. Tydens die droogte in 2016 het wildpryse kwaai begin daal. Die prysdalings het groot onsekerheid onder deelnemers in die wildbedryf veroorsaak. Dus het die groter aanbod van wild op veilings pryse verder nadelig beïnvloed.

Ander faktore wat tot laer wildpryse gelei het, is die graanbedryf wat onder finansiële druk is, die afwesigheid van spekulante, ’n afname in die aantreklikheid van wild as ’n alternatiewe beleggingsgeleentheid en ’n toename in wildgetalle. Dit lyk asof pryse vir alle wildsoorte uiteindelik ’n laagtepunt bereik het en nader aan die intrinsieke waarde van wild neig.

Wildpryse sal na verwagting voortaan meer normale prysneigings navolg, soos in die geval van beesvleis. Dit is interessant om daarop te let dat beesvleis van 2010 tot 2013 op langer termyn sy waarde met betrekking tot wild beter behou het, gevolg deur kleiner en groter vlaktewild en daarna njalas.

Die relatiewe waarde van laasgenoemde wildsoorte het mettertyd teenoor dié van wild met ’n hoër waarde verbeter. Wildboere se goeie teelmate- riaal sal – soos in die veeteelt- bedryf – egter altyd ’n premie verdien.

Let egter daarop dat dié premies dalk gaan daal namate die aanbod van goeie teelmate- riaal toeneem in ooreenstemming met die basiese beginsels van vraag en aanbod. — Wessel Lemmer, Ernst Janovsky en Flippie Cloete  

Mnr. Wessel Lemmer is ’n senior landbou-ekonoom by Absa-Agribesigheid.

Mnr. Flippie Cloete is hoof van Terratek Suidwes Landbou.

Mnr. Ernst Janovsky is ’n onafhanklike landbou-ekonoom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.