Só het dr. Alex Lewis, professionele wildkonsultant, op die Aldam-wildskool, wat deur die Lewendehaweregistrerende Federasie en Landbouweekblad aangebied is, gesê

Indië is 2,7 keer groter as Suid-Afrika, daardie land het 83 miljoen buffels en die bevolking drink buffelmelk. Die mense is dus baie aan siektes blootgestel wat deur buffels oorgedra kan word. Hulle bekamp siektes egter baie doeltreffend en die Indiese regering laat die verantwoordelikheid aan die boere oor om siektes te monitor. Hulle kry eenvoudige toerusting waarmee hulle buffels kan toets nadat hulle geslag is of gevrek het.

Die Suid-Afrikaanse Regering moet die plaaslike boere ook vertrou om dit self te doen. Alle vee- en wildboere kan dit doen en saam verantwoordelikheid op plaasvlak aanvaar. Hulle moet ook veeartse betrek. 

Niemand sal tog onverantwoordelik optree nie, want dan sal hulle self daaronder ly. “Die grootste risiko vir siektes is nie wild nie, maar vee,” sê Lewis.

Die grootste probleem is juis die oplossings wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aanbied wanneer ’n siekteprobleem ontstaan. Hoe gouer boere die verantwoordelikheid kry om dan beheer oor te neem en die probleem op te los, hoe beter.

Lewis het gesê dit is nodig om siektes te bekamp omdat dit mense siek of dood kan maak. Daar is egter nuttelose wette wat noodsaaklike wette aan bande lê.

Die staat se veterinêre prosedurele kennisgewing (VPN) vir die risikobekamping van buffelsiektes in Suid-Afrika is onlangs voorlopig in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria tersyde gestel. Die dringende hofaansoek is deur mnr. Jaco Troskie, ’n sakeman van Bloemfontein, gebring. Volgens hom het hy die aansoek vir die opskorting van dié voorskrifte vir die wildbedryf gedoen sodat ’n aanvaarbare voorstel vir ’n nuwe regulasie met die samewerking van boere, veeartse en die staat opgestel kan word. 

Troskie se regspan het aangevoer dat die helfte van Suid-Afrika se buffelbevolking kragtens die departement se oorgevoelige VPN positief vir tuberkulose (TB) sou toets. Hy het aangevoer dat die bepalings van die VPN onwetenskaplik en ondeurdag was en dat vergelykende toetse wat vals reaksies in die toetse sou uitskakel, nie meer in ag geneem is nie. 

Intussen het buffeleienaars hulle bereid verklaar om met die samewerking van die staat ’n werkbare dokument op te stel om dieresiektes te bekamp. Lewis het gesê brucellose en TB is byvoorbeeld nie siektes wat tot buffels beperk is nie.

“Hou op om dit op regeringsvlak te bestry, maar laat boere self die verantwoordelikheid aanvaar, want hulle kan dit doeltreffend doen. Boere toets reeds vir brucellose by swartwitpense, sonder dat hulle gedwing word om dit te doen. Hulle aanvaar dit as hul verantwoordelikheid,” het hy gesê.

Die buffelboere het reeds in samesprekings met die staat voorgestel dat die boere self vir siektes toets, “maar hulle (die staat) hou nie daarvan nie”.

Intussen stel hy die volgende voor vir die pad vorentoe:

• Alle buffeleienaars se besonderhed is nodig om ’n kommunikasieportaal te skep.

• Versamel die toetsprosesse vir siektebestryding.

• Beveg die VPN in die hof, maar volg konstruktiewe planne.

• Werk nou saam met die nasionale Dieregesondheidsforum om maatreëls te volg om siektes te bekamp.

• Meld siektes aan by die Departement van Landbou.

• Steun navorsing oor TB en brucellose. Doen navorsing ná vorige uitbrekings. Kry daardie boere betrokke sodat almal daaruit kan leer.

• ’n Vroeë waarskuwingstelel is nodig sodat boere van die uitbreking van dieresiektes verwittig kan word, ook met die samewerking van die Dieregesondheidsforum.

“Ons wil nie paniek saai nie, maar as ons nie iets begin doen nie, is paniek ons voorland,” het hy gesê.