Die standaarde, ingevolge die Biodiversiteitswet (Wet 10 van 2004), is op 21 September deur me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, aangekondig vir openbare kommentaar.

Hoewel Molewa die dag ná die verskyning van die Staatskoerant oorlede is, sê Jones hy meen die prosesse wat betrekking het op renosters en die wetgewing daaroor, sal voortgaan. Hy sê Proa sal binnekort volledig kommentaar lewer op die voorgestelde wysigings.

Die Departement van Omgewingsake skryf prosedures voor vir die merk van renosters by wyse van mikroskyfies, die aanmelding van die vrektes van renosters en die aanmelding van die verkryging van renosterhorings op welke wyse ook al. Die nuwe voorstelle sluit ook duidelike stappe vir die neem van weefselmonsters in.

Curriculum vitae

Daar is etlike voorskrifte vir die jag van renosters. Voornemende jagters moet onder meer ’n curriculum vitae inhandig waarin hul volledige jaggeskiedenis en -ervaring uiteengesit word. Die horing van ’n renoster wat as ’n trofee gejag is, mag nie sonder die res van die trofee as bagasie uit Suid-Afrika vervoer word nie.

Op dieselfde dag is daar konsepregulasies vir die plaaslike handel in renosterhoring aangekondig.

Jones sê Proa is veral bekommerd oor die beperkings wat daar op die verkoop van renosterhoring aan buitelandse kopers is.

“Hoekom sal ons ’n beperking plaas op wie hierdie kommoditeit mag koop? Ons sal volgende week met ons regskenners vergader, want ons meen dit is ongrondwetlik om eienaarskap só te beperk.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.