Die Chinese regering het einde verlede maand aangekondig dat die 25 jaar oue verbod op die invoer van tierbene en renosterhorings opgehef word. Volgens die tydskrif National Geographic het dié regering dit duidelik gemaak slegs bene en horings wat deur boerderye geproduseer is, mag ingevoer word vir mediese navorsing en die vervaardiging van medisyne.

“Dit verleen ’n groot hupstoot aan ons saak vir internasionale handel,   want wanneer ons by die konvensie oor handel in bedreigde spesies (Cites) motiveer dat ons renosterhoring volhoubaar kan voorsien, is daar altyd die vraag: ‘Aan wie?’ Nou kan ons sê China is ’n potensiële handelsvennoot,” sê Jones.

Hy voeg by die besluit om handel in produkte van bedreigde spesies goed te keur is ’n baie sensitiewe saak, en dat Proa groot waardering vir China se dapper keuse het. Hy glo egter dit kan sowel die wêreld se renosterbevolking as die Chinese medici tot voordeel strek.

“Plaaslik is daar eintlik nou niks wat ons keer om renosterhoring na China uit te voer nie. Kopers in China moet eenvoudig ’n invoerpermit van hul regering kry.”

Kommer in bewaringskringe

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het dadelik gewaarsku dat die besluit skuiwergate vir sluikhandel in tier- en renosterprodukte gaan skep, en dat dit bykans onmoontlik gaan wees om te onderskei tussen produkte wat deur boere geproduseer is en dié van diere wat onwettig gestroop is.

Jones wys egter daarop dat tiere asook renosters bedreig is, ondanks ’n handelsverbod wat al sedert 1977 bestaan en ’n 25 jaar lange invoerverbod. “Solank daar ’n gewillige koper is, sal daar verkopers wees wat bereid is om die produk te voorsien – onwettig of nie.”

Hy sê dit maak nou nie meer sin om onwettige horing of tierbene te koop as jy dit goedkoper op ’n wettige manier kan bekom nie. “Daar is geen risiko dat jy in hegtenis geneem kan word nie, en boonop het jy naspeurbaarheid van ’n produk wat nie vervals of nagemaak is nie.”

Jones sê dit beteken nie Suid-Afrika gaan volgende week tonne renosterhoring na China verskeep nie. “Ons onderwerp ons steeds aan die gesag van ons eie Regering en die land se Departement van Omgewingsake. Ons sal nie net voortgaan sonder hulle toestemming nie en ons weet dit kan nog lank duur, maar ons bly optimisties.”

Proa is tans besig om sy voorlegging vir die wettige handel in renosterhoring vir die Cites-konvensie in 2019 voor te berei. Dit moet voor 25 Desember ingehandig word.

Wat van leeus?

Dit is nie duidelik hoe die opheffing van die verbod op handel in tierbene Suid-Afrikaanse leeutelers gaan raak nie. Die nie-regeringsorganisasie Environmental Investigation Agency (EIA) het vroeër in ’n verslag gewaarsku dat leeubene wat vanaf Suid-Afrika uitgevoer word, in China as alternatief vir tierbene gebruik word.

Die Suid-Afrikaanse Departement van Omgewingsake het in Januarie die toelaatbare hoeveelheid leeuskelette wat uitgevoer mag word vermeerder van 800 tot 1 500 per jaar. Dit is karkasse van leeus wat in aanhouding geteel is. Dr. Paul Funston, senior direkteur van die bewaringsgroep Panthera wat hom toespits op bedreigde katsoorte, het vroeër aan News24 gesê die mark vir leeubeendere in Asië het nie bestaan voor Suid-Afrika begin het om dit uit te voer nie. 

Die Suid-Afrikaanse roofdiervereniging SAPA het nog nie op Landbouweekblad se navrae gereageer nie. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.