Die historiese plaas, wat oor 3 000 ha strek en sedert 1987 aan Anglo American behoort, huisves tans 50 bontebokke. Altesaam 1 900 ha van die landgoed is verlede jaar tot ’n private natuurreservaat verklaar. 

Volgens mnr. Eben Olderwagen, omgewingsbestuurder by Vergelegen, het goeie teeltoestande die afgelope seisoen gegeld. “In die vorige seisoen was daar ’n droogte en in 2017 het ons ’n brand op die plaas gehad. Ons lei dus af daar is vanjaar meer lammers gebore.” 

Die Vergelegen-span kon nog nie bepaal hoeveel rammetjies en ooie gebore is nie. “Hulle is nog baie jonk. Dis daarom moeilik om naby genoeg aan hulle te kom om dit te vas te stel.” 

Floreer op wynplaas

Mnr. Don Tooth, uitvoerende hoof van Vergelegen, sê hulle het tien jaar gelede die eerste tien bontebokke op die plaas gevestig.  Dit was nadat die Helderberg-natuurreservaat nie meer genoeg weiding gehad het om sy kudde bontebokke te onderhou nie. “Die diere is gevang en na ons toe gebring, met die ooreenkoms dat nege van die bokke altyd aan die stad sal behoort.” 

Sedertdien floreer die bokke op Vergelegen se inheemse plantegroei en weidings. Daar is tans drie teelgroepe op die plaas. Elke groep bestaan uit ’n ram met sewe tot agt ooie. Die nege lammers is oor die groepe versprei. Daar is ook ’n groep van vyf ramme wat bymekaar bly, sowel as jong rammetjies wat in kleiner groepe saamloop. 

Daar is minder as 3 000 bontebokke oor in die wêreld. Vergelegen se kudde is sowat 50 diere sterk. Foto: Vergelegen

Volgens Olderwagen loop die bontebokke heeltemal vry rond. “Ek monitor hulle gereeld. As ons agterkom iets pla, sal ons behandeling reël, maar andersins kyk hulle na hulself.” 

Hy sê die gebied en hul weidings is voldoende om nog ’n hele paar bontebokke te onderhou. “Ons sal egter eers ’n studie moet doen. Faktore soos die kuddesamestelling sal ook ’n rol speel om te verseker dat ramme nie oor ’n gebied baklei nie.” 

Bontebokke word gekenmerk aan ’n perserige skynsel op ’n sjokoladebruin velle, ’n wit kol op hul boude en ’n wit vlam op hul gesigte. Die bokke was eens oorvloedig in die Suid-Kaap, maar weens ondeurdagte jagpraktyke het hul getalle op ’n stadium tot net 17 gedaal. 

“Vergelegen se span is trots daarop om ’n klein rol te kon speel om die volhoubaarheid van hierdie uitsonderlike bokspesie te help verseker,” sê Tooth.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.