Hy ding mee in die boonste vlak van die mark – en wil hê Woody Cape moet die voorkeurbestemming wees vir mense wat die heel beste buffelmateriaal in die land wil bekom. Dit kan gedoen word deur jare se teling of deur aggressief die waardevolste teelmateriaal aan te skaf.

“Dis nie onmoontlik om dit sonder kapitaal reg te kry nie, maar dit gaan baie langer duur. Jy sal baie strenger moet selekteer om die teelmateriaal uit te krap as wat ouens met kapitaal vinnig kan verkry.”

Dis belangrik om nie tussen twee markte vas te val nie. Bestee jou kapitaal aan diere wat jou sal help om jou doel te bereik. “Dis ’n goeie bemarkingsmodel wat sal verseker dat jy finansieel stabiel en volhoubaar is.”

Om teelmateriaal aan te skaf is maklik, maar om resultate voort te bring, moet jy goeie kombinasies kan vorm en die diere doeltreffend bestuur. Sy wenresep is om 50 duim-bulle by koeie te sit wat voortspruit uit 50 duim-bulle. Warrick het sy bes gedoen om die beste Oos-Afrika- en Addo- (of ’n kruising) buffels in die hande te kry. “Die mark het gewys daardie bloedlyne verkoop teen beter pryse.”

Hy het ook rekords in besonderhede bestudeer. “Ek wil weet die gene is sterk en sal iets bydra tot ons kudde.”

Toe hy uiteindelik uitgewerk het waar die sterk gene te vinde was, was dit tyd om die beursie oop te maak. Hul “vlagskip”-bul is Sidima, ’n sewe jaar oue bul met ’n horingspan van 52 3,8 duim. Sy eie rekordhoudingstelsel, waarvoor hy GMS Africa gebruik, is waterdig.

“Ons het ook ons eie data-aantekeningstelsel op sigblaaie. Ek wil weet dat daar ’n sterk bloedlyn is. Daarna kyk ek ook na die dier self, hoe sy horinglengte met sy ouderdom vergelyk, konformasie raak belangriker (in die verlede het die ouens dikwels net na die horinglengte gekyk), tussenkalfperiodes, gesondheidsaspekte, haarbedekking . . . Dit raak baie strenger as in die verlede.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.