Jy het pas ’n gesogte prys gewen. Wat verseker jou sukses as wildboer?

Dis ’n kombinasie van dinge – die passie vir wat ons doen, ’n begrip vir goeie teelbeginsels (wat deur alle suksesvolle telers in die landbou toegepas word), goeie bestuur en personeel, asook die vermoë om in die mark se behoeftes te voorsien.

Hoekom is die Oos-Kaap so geskik vir wildboerdery?

Die plantegroei is perfek vir die diere wat ons teel, ons het goeie reënval en die regte tipografie vir wildboerdery. Die Oos-Kaap is een van die groter provinsies wat die jagbedryf betref, en wildteling sluit daarby aan. Die twee bedrywe werk hand aan hand. In dié opsig is die Oos-Kaap ’n nuwe ontwikkelingsnodus in Suid-Afrika, wat baie opwindend is.

Hoe het die droogte die wildbedryf geraak?

Dit het beslis ’n impak gehad. Die ouens met waardevolle wild se oorhoofse koste het die hoogte ingeskiet, want hulle moes voer koop om hul diere se kondisie te behou en hulle in produksie te hou. In oop stelsels is die wildbevolkings geraak weens natuurlike vrektes.

Sal ons meer wildsvleis op supermarkrakke sien?

Ons was nog altyd bederf met goeie bees- en skaapvleis in winkels, maar ek sien ook beslis meer wildsvleis in supermarkte. Dit is goed as meer aandag daaraan gewy word, want dis ’n gesonde, goedkoper opsie. As dit reg voorberei word, sal dit ook in supermarkte suksesvol wees. Wildsvleis is nie altyd maklik om voor te berei nie en baie Suid-Afrikaners weet ongelukkig nie wat om daarmee te maak nie.

Wat is jou gunsteling-wildsnit?

Ek geniet altyd ’n rugstring, maar dit moet goed verouder wees en minstens 12 tot 24 uur gemarineer wees. Ek gebruik ’n ou, geheime resep waarin karringmelk, knoffel, baie peper, Dijon-mosterd en nog ’n paar geheime bestanddele voorkom.

Wat moet ’n mens in ag neem as jy wildsvleis voorberei?

Die sagtheid van die produk is vir my die belangrikste. Wildsvleis kan rubberig wees as dit nie reg voorberei is nie. Dit hang ook af van die verouderingsproses (die tydperk wat die karkas gehang het). ’n Goeie marinade kan ook help.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.