Nadat ekonomiese regstellings in die wildbedryf toppryse met tot 80% versnipper het, word geen rekordpryse op groot wildveilings of selfs private transaksies in die vooruitsig gestel nie. Nietemin het gevestigde wildtelers nie in sak en as gaan sit nie.

Mnr. Julian Theron, vooraanstaande teler van springbokke van Jules of the Karoo tussen Richmond en De Aar, sê die regstelling in wildpryse wat verlede jaar begin het, duur onverbiddelik voort. “ ’n Regstelling was onafwendbaar. Prysstrukture is in ’n oorverhitte wildmark uit verband geruk.

“Vanjaar is ’n tydperk van regstelling vir die wildbedryf en dit strook met die neiging in ander ekonomiese bedrywe. Landwyd beleef bedrywe en kommoditeite ’n taai jaar en almal ervaar die knyp in die ekonomie.”

Hy is egter tevrede dat die vraag na trofeebokke nog goed is, met kopers wat bereid is om vir gehalte op te dok. Volgens Theron is die vraag na groot aanteeldiere van gehalte ook goed, in teenstelling met die vraag na swakker bokke wat tot op die vlak van biltongwaarde gedaal het.

Springbokke se jagwaarde het aansienlik gedaal tot gemiddeld R700 tot R800 elk. In die mark vir eksotiese springbokke het “die bodem vir wit, swart en koperkleurige bokke bykans uitgeval”.

Koperkleurige bokke verhandel nou teen gemiddeld R2 000 tot R3 000 elk, teenoor die R35 000 van vroeër, swart springbokke teen R1 000 tot R2 000 (vroeër R7 000) elk, en wit springbokke sowat R4 000 (voorheen R12 000-R13 000) elk. “Die vraag na trofeeramme bly goed omdat daar talle eindverbruikers is en hulle verkoop soos soetkoek.”

Kon nie droogte weerstaan

Een aspek wat die huidige prysvlak aansienlik beïnvloed, is die voorafgaande droogte toe baie springbokke in die Karoo gevrek het. “Na raming het die droogte en ’n vlaag koue in November en Desember verlede jaar 45 000 tot 65 000 skape in die Karoo laat vrek,” sê hy.

’n Opname oor vrektes is nooit onder springboktelers gedoen nie en in dele soos Victoria-Wes en Richmond is bitter min jagbokke beskikbaar.

“Waar jagters in die verlede tot tien bokke geskiet het, word slegs sowat twee per jagter vanjaar geskiet. Die bokke se kondisie was swak weens die droogte en hulle kon nie die ysige koue van die vlaag sneeu en ysreën oorleef nie.”

In een van Theron se jagkampe, waar die bokke nie met voer aan die lewe gehou is nie, is hy sowat 80% van die diere (120 in dié geval) kwyt. Hy het nie bokke in sy teelkampe verloor nie.

gekleurde trofeebokke

Theron ondervind ’n groot vraag deur jagters na gekleurde trofeebokke, veral die wit springbok, asook gewone springbokke met ’n horinglengte van langer as 14 duim.

“Ons ondervind geen probleem om hulle te verkoop nie.” Hulle word teen R3 000 tot R4 000 elk verkoop, wat sowat 40% is van die prys wat buitelandse jagters daarvoor betaal. By springbokke moet trofeediere horings met ’n lengte van minstens 14 duim hê.

“Sulke ramme is nie volop in die mark beskikbaar nie. Die horinglengte van ’n wit trofeeram moet minstens 11 tot 12 duim bereik (gemiddeld teen R5 000 elk), met swart trofeeramme (R2 500 tot R3 000 elk) en koperkleuriges (ook meer as R3 000 elk) se horings wat langer as 12 duim moet wees.”

Die waarde van aanteelramme van uit- sonderlike gehalte met ’n horinglengte van minstens 18 duim kan nie maklik bepaal word nie. “Daar is wel ’n demper op sy prys, maar dit hang van die vraag op die groot wildveilings af.” Theron meen die prys van springbokke het baie beter in die regstellingsproses gehou as dié van ander boksoorte.

Hy beraam die prys vir dié teelramme nogtans op minstens R300 000 elk. Die prys van ramme met ’n horinglengte van minstens 17 duim het redelik gedaal, maar hulle kan steeds van R80 000 tot R100 000 elk beloop. Sestienduim-ramme kan steeds sowat R25 000 elk behaal.

R1,5 miljoen vir ram

’n Trofee-springbok van Jules of the Karoo was die duurste stuk wild vroeër vanjaar op die Valley Venture-veiling by Bela-Bela. Mnr. Hennie Barnard, ’n wildboer van Skietfontein by Aberdeen, het R1,5 miljoen vir die ram opgedok. Theron het verlede jaar ’n rekordprys van R1,55 miljoen vir nóg ’n spogram behaal.

Barnard se aanwins het horings van 18¾” (links) en 18” (regs). Die omtrek van die basis aan albei kante is 6¼”. Volgens Theron is die ram die springbok met die grootste horings wat tot nog toe op ’n veiling aangebied is. Sy horings is simmetries.

Die ram van drie tot vier jaar kom uit Theron se ramkamp waar die ramme eers uitgroei voor hulle begin teel. Theron verwag nie rekordpryse op veilings in die huidige regstellende wildmark nie. Hy gaan nietemin sy beste voetjie voorsit op die res van die jaar se veilings.

Kopers van topteeldiere kan uitsien na ’n Kalahari-springbokram met ’n horinglengte van 18 duim op die wildveilings van die Summit-wildgroep (29 September op Graaff- Reinet). Twee springbokramme met ’n horinglengte van bykans 18 duim elk word op die Wintershoek-veiling op 15 September aangebied.

Navrae: Mnr. Julian Theron, Jules of the Karoo, Plaatfontein, Richmond. Tel. 053 631 3290; sel 073 318 1181.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.