Sy lewenspad van vyftig jaar het mnr. Lindsay Hunt geneem van ’n gedugte jagter wat oorsese trofeejagters deur Suider-Afrika geneem het, tot ’n passievolle buffelteler en bykans fanatiese bewaringsboer. Buffels, die diere wat hy eens met berekende presiesheid gejag het, is vandag sy lieflingsdiere.

Die sowat 130 waarmee hy teel, het elkeen ’n eie naam waarop hulle soos mak beeste geroep word. Op die pragtige plaas Zeekoegat, hoog in die Langeberge naby Heidelberg (Wes-Kaap), is dit met die eerste oogopslag duidelik dat hier veel meer gebeur as die blote teel van siektevrye buffels.

Buiten sy passie vir buffels teel hy ook ’n “nuwe” dubbeldoelbeesras en herwin grond van skadelike boerderyprak- tyke oor dekades en laat dit terugkeer na die oorspronklike vrugbare, ryk, swart grond wat dit eens was. Hunt sê buffelpryse het die afgelope paar jaar gedaal.

Romulus is tans die hoofteelbuffelbul op Zeekoegat. Seleksiedoelwitte is gegrond op natuurlike eienskappe en duidelik sigbare manlikheid of vroulikheid by elke dier. Foto: LINDSAY HUNT

Die mark vir trofeejag bestaan en groei wel, want omdat daar so baie vir trofeehorings gejag is die afgelope eeu en ’n half, raak diere met werklike trofeegrootte horings – 45 duim of langer – skaarser elders in Afrika. Daarom wend meer oorsese trofeejagters hulle nou na Suid-Afrika.

Dit bring egter ’n nuwe probleem na vore, naamlik mededinging tussen telers wat die prys afdwing. “In 1997 is ’n goeie buffelbul met trofeehorings vir gemiddeld $6 800 hier gejag. Die normale verloop behoort te wees dat die prys met 3% tot 4% per jaar styg. Dan moes ’n goeie trofeebuffelbul vandag sowat $30 000 gekos het – dieselfde as wat in Amerika vir die jag van ’n trofeetakbok (deer) betaal word.

“Dit het bloot nie gebeur nie. Suid-Afrikaanse wildboere is hul eie grootste vyande. Dit gebeur gereeld dat ‘goeie’ pryse vir oorsese jagters beding word vir die betreklik min trofeebulle wat beskikbaar is. Dan sny hulle mekaar se kele as’t ware af en daal jagpryse tot onrealisties lae vlakke.

“Tans kan jy vir $10 000 ’n trofeebuffelbul jag, en as jy goed beding, kan die prys tot net $7 000 val. Dit is belaglik.” Hunt meen dit maak ’n bespotting van eksklusiewe trofeebuffeljag.

Een van Hunt se opkomende teelbulle, Durango. Hy is ’n seun van Romulus, sy hoofteelbul. Foto: LINDSAY HUNT

“Ek glo ’n minimum prys – minstens $15 000 (R220 000) – moet aan ’n goeie bul gekoppel word. Daarby moet ’n minimum grootte aan ’n wildplaas gekoppel word waar buffeljag toegelaat word – minstens 3 000 ha tot 3 500 ha.

“Ons lyk sleg in die buiteland as ons ons pryse vir hierdie eksklusiewe diere so afdruk, maar gelukkig is daar tog tekens dat ’n draaipunt moontlik bereik is. Wildboere begin nou al hoe meer om hul plase uit te brei sodat daar genoeg ruimte is vir ’n goeie buffelboerdery en -jagtoestande. Ons durf nie ons beeld as ‘bewaarders’ van buffels en wild in die wêreld verloor nie, want as dit eenmaal gebeur het, gaan dit bykans onmoontlik wees om daardie status te herwin.”

Heelparty wildboere sit deesdae tot 20 000 ha eenkant vir buffeljag en safari’s. “Ons wil nie hê buffeljag moet eens vaagweg beweeg in die rigting van leeujag in Suid-Afrika vandag nie. Buffeljag moet altyd ’n volwaardige jagtog wees wat te voet gedoen word. Dit kan nie verwater word tot die blote skiet van die diere nie. Die uitdun van diere en jag moet nooit met mekaar verwar word nie.”

NOODSAAKLIKE EIENSKAPPE BLY AGTERWEË

Hunt sê omdat oorsese jagters hoofsaaklik trofeewydte bulhorings op hul kerfstok wil hê, het ’n neiging ontstaan om “rotte met groot horings” te teel. “Baie telers selekteer hoofsaaklik om buffels met die grootste moontlike horings te kry, maar die res bly agterweë, soos bouvorm, temperament en melkeienskappe.

’n Klompie buffelteelkoeie en ’n bul op die plaas. Die drie teeltroppe bestaan rofweg uit een teelbul en 30 koeie elk.

“Ek streef daarna om die ware, robuuste Afrika-tipe buffel met ’n goeie horingwydte en wat totaal siektevry is, te teel. Oorsese jagters wil goeie, volwaardige buffels jag, het ek ondervind. Ja, die meeste soek ’n goeie horingwydte, maar hulle wil nie diere met afwykings jag nie.”

In jagkringe staan buffels bekend as dié simbool van ’n Afrikajag. “Om ’n buffelbul te jag, is gevaarlik en ’n uitdaging vir die jagter. Vir ware jagters is dit die toppunt van jag.” Nog iets waaroor Lindsay sterk voel, is jagstandaarde wat met bewaring gepaardgaan.

“Standaarde in die buffelbedryf is dringend nodig. Jag en bewaring gaan hand aan hand. Daar moet ’n duidelike skeidslyn wees tussen bewaring van die spesie, jag en die wins wat daaruit gemaak word. Die hele ekostelsel moet in ag geneem word. “Wanneer iemand hom of haar besig hou met ’n spesie – soos buffels – moet dit met geesdrif gedoen word, anders kan jy dit maar los. Geldelike wins wat daaruit voortspruit, behoort bloot ’n nuttige bonus te wees.”

BLY WEG VAN TÉ LUUKS

Té luukse safari’s is ook ’n onding, meen Lindsay. “Oorsese jagters wil ’n ‘Afrika-ondervinding’ hê. Deur hulle in luukse vyfsterkampe te plaas en die buffeljag so gemaklik moontlik te maak, word talle afgeskrik. Dit sou mý afskrik!” Daarom gebeur dit ook meer dikwels dat oorsese jagters en natuurtoeriste Namibië toe gaan – die ware “wilde Afrika” is daar meer sigbaar.

“Die ware beroepsjagter sal na Suid-Afrika of Afrika toe kom in die soeke na avontuur en om ’n spesifieke dier te skiet – byvoorbeeld ’n trofeebuffelbul. Maar as hy nie die dier geskiet kry wat hy graag wou nie, sal hy met leë hande teruggaan huis toe en die volgende jaar weer kom totdat hy daardie unieke trofeedier geskiet het wat hy soek. Dit is nie vir die beroepsjagter nodig om die naasbeste te skiet of dan sommer ander wildsoorte bloot omdat hy hier is nie.”

Hunt het tans 130 Afrikabuffels en 11 waterbuffels waarmee hy teel. Hulle is almal vry van bek-en-klouseer en ander siektes . Die buffels is in drie teeltroppe opgedeel wat bestaan uit sowat 30 koeie en een bul. Romulus is sy hoofteelbul. Seleksiedoelwitte is gegrond op manlikheid of vroulikheid.

“Wanneer jy ’n buffelkalf sien, moet jy dadelik aan sy of haar kop die geslag kan bepaal.” Hunt selekteer vir goeie grootte – nie net bulle met reusehorings nie.

“Ek streef na alle buffeleienskappe soos buffels in die natuur ‘geselekteer’ word.” Sy bergplaas in die Langebergreeks vorm die skeiding tussen die kusstreek en die Klein-Karoo.

“Ek het twintig jaar gelede my eerste buffels geteel. Tien jaar gelede het ek besef ek boer eintlik met gras, en die afgelope vyf jaar het ek geleer ek boer eintlik met grondbakterieë.”

“Alles begin met goeie grondbakterieë en koolstof in die grond. Dit vorm die grondslag van suksesvolle boerdery reg deur die ketting. Wanneer ek eendag doodgaan, sal ek graag onthou wil word as ’n bewaarder en veral vir gesonde grond.”

Oral begin die omgewing terugkeer na ’n natuurlike toestand soos voor alles deur menslike bedrywighede verander en vernietig is. Hierdie standhoudende fontein het in ’n stadium feitlik opgedroog, maar deur “liefdevolle” omgewingsbeheer het dit weer begin loop. Dit voorsien silwerskoon bergwater aan ’n hele vallei op sy plaas.

Terug na die oertyd

Hunt is besig met ’n enorme taak om sy plaas terug te bring na wat dit was voor menslike bedrywighede die grond vernietig het.

“Grond word sodanig oorbewerk en met chemikalieë besoedel dat groot dele van die land vandag eintlik maar net ’n plantmedium vir gewasse is wat met kunsmatige misstof groeikrag aan plante gee.” Hy ontbos groot dele wat deur veral wattelbome ingeneem is en kerf die bome op met masjiene wat hy daarvoor uit Italië invoer.

Die kerfsels word net so gelaat sodat hulle op ’n natuurlike manier die grond help om sy oorspronklike tekstuur te herwin. “Ek het reeds sowat 100 ha ontbos en ’n mengsel van gras- en klawersade gevestig, en is besig met die volgende 100 ha. My plan is om nog minstens 300 ha wattel te ontbos.”

Hy neem grondmonsters en doen aanvullings. Wanneer die herwinde grond se tekstuur goed is – “ryk, pikswart, gesonde grond” – saai hy tot 25 verskillende gras-, peul- en klawerspesies deurmekaar. Die grassoorte sluit in Rhodes, wit- en bloubuffelsgras, borseltjiegras, vingergras, raaigras en Fescue.

Van die ander gewasse is medics, lusern en vyf klawersoorte. Heelwat rooigras, wat natuurlik voor-kom, het ook reeds begin verskyn waar hy ontbos het. “Die verskil is die duidelikste sigbaar by my melkbeeste. Wanneer hulle op dié grasmengsels begin wei, verdubbel hul melk se bottervetinhoud.

“Daar is plek vir fynbos, grasse en natuurlike woude op my plaas. Dit is my lewenstaak om die grond weer in sy natuurlike staat terug te kry soos voor menslike bedrywighede dele daarvan bykans vernietig het.”

GELEENTHEID RAAKGESIEN

Hunt is omtrent ’n wêreldburger. Hy’s op Stellenbosch gebore – “my ma is Italiaans en my pa Skots” – maar het groot dele van sy kinderdae in Kanada en Italië deurgebring. Veral in Kanada, waar hy matriek voltooi het, het hy ’n passie vir beeste ontwikkel. In 1988, terug in Suid-Afrika, het hy ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad begin studeer.

“Ek moes self vir my studie opdok, en om dit te kon doen, het ek begin om professioneel te jag. Ek het ryk buitelanders op jagtogte in Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek geneem en kon só my studiegeld betaal en my graad behaal.” In 1990 het hy as beroepsjagter begin.

“Al wat ek wou doen, was jag!” Aanvanklik wou hy dit net twee jaar lank doen, maar uiteindelik was hy agt jaar lank ’n beroepsjagter. In dié tyd het veral buffels op sy radar gekom en hy het ’n groot liefde vir hierdie Afrikareuse ontwikkel.

“Ek het besef geen buffels word uit die Krugerwildtuin geneem nie weens hul siektebesmetting – veral bek-en-klouseer en korridorsiekte. Tog was daar in Mosambiek en Zimbabwe ‘skoon’ buffels. Ek het gedink hier is ’n geleentheid om siektevrye diere na die res van Suid-Afrika te bring.

“Op my 30ste verjaardag, 22 April 1998, het ek 80 ha in die Balule-bewaringsgebied naby Phalaborwa wat in Landbouweekblad geadverteer was, gekoop. Die transaksie is op my motor se enjinkap gefinaliseer, en dieselfde nag het ek op my eie grond kamp opgeslaan.”

Die volgende dag het hy op Skukuza met dr. Roy Bengis, destyds die hoofstaatsveearts vir die Krugerwildtuin, gesels oor sy plan om gesonde, siektevrye buffels te teel en na die res van die land te bring. Bengis het belang gestel. Kort daarna het hy sy eerste bomas gebou. Die eerste siektevrye buffelkalwers is voor die einde van 1998 daar gebore. Die kalwers is dadelik van hul ma’s weggeneem, biesmelk gegee en het aan Jerseykoeie gesuip.

“In 1995 het ek ’n jagkonsessie op die plaas Elandsberg Plase naby Wellington gehad. Ek het met mnre. Dale Parker (eienaar) en Mike Gregor gepraat oor die moontlikheid om siektevrye buffels uit die Vrystaat na die plaas te bring. Hulle was aanvanklik nie geesdriftig daaroor nie. In daardie stadium het buffelbulle vir R25 000 tot R30 000 verkoop – wat teen 1998 gestyg het tot R100 000 vir ’n goeie bul.”

In 1999 het Dale (intussen oorlede) hom gevra hoeveel siektevrye buffelkalfies hy op Phalaborwa het. “Daar was 22, waarvoor hy my R3,3 miljoen aangebied het (sowat R150 000 stuk). Hy het egter voorwaardes gehad: Ek moes die kalwers op die plaas aflewer, en hy het ’n opsie op alle aanwas by Phalaborwa gesoek.”

Lindsay het ingestem en die 22 buffelkalwers en hul Jersey-“moeders” is op Elandsberg afgelewer (sien die artikel “Daar’s weer buffels in die Boland!”, LBW, 29 September 2000). Dale het die volgende 60 buffelkalfies ook gekoop, dus altesaam 82.

Hunt hier in weiding wat voorheen met wattelbome vervuil was. Hy het die wattelbome verwyder en ’n mengsel van 25 verskillende grasse, peulplante en klawers gevestig. Die wattel word opgekerf en op die grond gelaat om te verrot as natuurlike bemesting.
Die mengsel van 25 verskillende weigrasse, peulplante en klawers van naderby. Wanneer sy koeie daarop begin wei, styg die bottervet in hul melk merkwaardig binne ’n kort tydjie.
’n Gedeelte van meer as 100 ha wat Hunt reeds ontbos en bemes het en waarop hy ’n mengsel van grasse, peulplante en klawers vestig vir sy beeste en buffels.

“Ek was dankbaar vir hierdie kans om my droom om siektevrye buffels te teel en aan boere in die res van Suid-Afrika se verskaf, waar te gemaak. Dit was die draaipunt en my lucky break,” sê Lindsay. ’n Buffelboerdery is steeds aan die gang op Elandsberg.

Lindsay het nog sy plaas by Phalaborwa, maar toe die Regering in 2011 alle buffelteelprojekte bokant die sogenoemde rooi lyn opgeskort het, het hy Zeekoegat (145 ha) gekoop en sy buffeltelery daar voortgesit. Intussen het hy aangrensende plase bygekoop en het tans 3 300 ha.

“Ek diversifiseer op groot skaal. Vandag is ek ’n buffelteler, ’n beesteler, en ek vestig goeie weiding.” Lindsay se jagdae is verby.

“Waar ek as jong man nét wou jag en niks anders doen nie, het my jaglus ’n versadigingspunt bereik. Vandag wil ek alle wild en diere beskerm. Ek sal nie eens ’n voëltjie skiet nie. Dit gebeur dikwels met ouens wat op ’n jong ouderdom begin jag het. Ouer manne wat steeds ’n passie vir jag het, is diegene wat al ouer was toe hulle begin jag het.”

Hy voer ook swaar landboumasjinerie, onder meer die ontbossingswerktuie, uit Italië in, wat hy aan medeboere verkoop wat daarin belangstel.

LBW vra . . .

Hunt het van ’n jagter verander na ’n buffel- en beesteler, asook ’n passievolle bewaringsboer. Hier wys hy hoe gras teruggroei waar die veld die geleentheid gegun is.

Mnr. Lindsay Hunt

Watter tegnologie is onontbeerlik?

Ek probeer toerusting en werktuie gebruik wat ongeskoolde arbeid grootliks uitskakel, sodat meer geskoolde werkers ingespan kan word.

Wat is die beste raad wat jy al ontvang het?

Gebruik jou grond soos ’n bank — verbeter dit altyd in goeie jare sodat dit in ’n goeie toestand is in moeiliker jare.

Wat het die grootste impak op jou boerdery gemaak?

Die betreklik onlangse skerp daling in die pryse van sekere wildspesies veroorsaak dat meer gekonsentreer moet word op kombinasieverskeidenheid om wins te maak. Goeie kombinasies is nie altyd maklik nie.

Het jy ’n mentor?

Ek het oor die jare baie by Mike Gregor van Elandsberg Plase geleer wat praktiese boerderypraktyke betref. Dr. Baltus Erasmus, my buurman, leer my geweldig baie van grond en grondbestuur.

Hoe bemark jy jou produkte?

Deur regstreekse klanteverwysings en word of mouth.

Watter maatreëls het jy om jou voortbestaan te verseker?

Ons is in ’n mate oorgelewer aan die politieke klimaat in die land. Daarom moet ons aanpasbaar bly. Ons belê egter in strukture en modelle wat ons tot minstens 2030 sal dra.

Hunt is besig om ’n nuwe “Langeberg-dubbeldoelbeesras” uit verskillende Europese en plaaslike rasse te teel wat goeie vleis- én melkeienskappe het. Hier is hy by een van sy teelbulle wat na sy mening die ideale bul sal wees vir so ’n nuwe ras: eenvormig en lank van lyf.

‘Langeberg-beesras’

Benewens buffels het mnr. Lindsay Hunt ook sowat 130 dubbeldoel-kruisbeeste wat hy in ’n geharde “Langeberg-beesras” wil ontwikkel. Met die grootskaalse grondverbetering op sy plaas het sy geesdrif vir kruisteling met buitengewone beesrasse ook gegroei.

“Ek kruis vleis- en melkrasse en die resultaat is verstommend. ’n Ideale ‘dubbeldoel-bergbees’ is besig om te ontstaan uit my kruisings van onder meer Chianinas, Romagnolas, Pezzata-Rossas en Grys Alpyne met bekender rasse, soos Jerseys en Borane.”

Melk van die kruisingbeeste wat op gemengde aangeplante weidings loop, het uitstekende bottervetvlakke van tot 6%. Daarom is die volgende logiese stap om kaas te maak.

“Nes by die buffels selekteer ek ook vir duidelike manlikheid of vroulikheid by kalwers. Verder selekteer ek vir eenvormigheid, iets wat in dié stadium nog nie 100% daar is nie — maar daar is goeie vordering — asook goeie ligaamslengte.”

Lindsay het ook ‘n paar waterbuffels. Hy sê hul melk het ’n ongelooflik hoë bottervetinhoud van gemiddeld 9% tot 10%, wat ook ideaal is vir kaasmaak.

Navrae: Mnr. Lindsay Hunt, sel 082 782 7762

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.