Die 24-jarige mnr. Marcell Steyn van Bloemfontein kon nie sy tienerdrome van ’n boerdery verwesenlik nie, aangesien sy pa, Elmar, jare gelede hul plaas, Tweefontein, by Ulco in die Noord-Kaap, verkoop en hom in die regsberoep in Kimberley gevestig het. Boerdery- en planmaakbloed vloei egter sterk in sy are.

Marcell se Viper-vangnetstelsel volg op die vangnette wat deur mnr. Haydn Krige van De Dam by Steytlerville ontwerp is (sien die artikel “Ligte vangnet goedkoper wildvangopsie”, LBW, 21 Julie 2017). Soos in die geval van Haydn se ligte vangnet-raamwerk skakel Marcell se net-“tent” die gebruik van helikopters uit.

“Boere hou nie daarvan om te sukkel nie en kan ook nie meer die hoë koste van die professionele diens van ’n veearts en helikopters bekostig om hul wild te bestuur nie,” sê Marcell. Haydn se afstandbeheerde net-en-batterystruktuur kan tot vyf springbokke gelyktydig vang sonder enige beserings en met die minste stres.

Marcell sê hy het sy toetse met ’n heelwat groter net (10 m x 10 m) in Desember verlede jaar begin, en ’n maand later was drie volwasse gemsbokbulle sy eerste suksesvolle proefkonyne. Sy netstelsel werk met net een sentrale ankerpaal wat as middelpunt van die net in die grond ingeslaan word.

In die geval van sy kleinste twee nette, die 10 m x 10 m en die 15 m x 15 m, is die sentrale paal 5 m lank. In sy jongste ontwerp (20 m x 20 m) is die paal sowat 7 m.

Aan die bo- en onderpunt van die paal is ’n katrolstelsel aangebring om die net met die hulp van enkele mans of ’n voertuig op te hys. Dit sluit ook ’n snellermeganisme in om die vangnet selfs op ’n afstand van 500 m met ’n afstandbeheer te aktiveer. “Daarna kan die net weer binne 60 sekondes opgestel word,” sê hy.

’n Springboktroppie van Jules of the Karoo het binne ’n uur nadat die vangnet opgerig is, begin ondersoek instel.
Binne-in die nettent waar genoeg ruimte vir wild gelaat word om by voerbakke te vergader. FOTO’S: VERSKAF

DIE NET

Die net van Marcell se V1-model (10 x 10 m) weeg sowat 18 kg en is van poliëstertou met ’n dikte van 4 mm gevleg. Dit bestaan uit 2 000 meter van dié tou, wat sterk genoeg is om ’n groepie diere in bedwang te hou. Die blokke van die net, wat deur ’n heeltydse werker van Marcelle geknoop word, is sowat 15 cm x 15 cm.

Saam met al die bykomstighede weeg dié weergawe net meer as 50 kg. Die V2-model (15 m x 15 m) is in staat om sowat 20 stuks kleinwild met sy oppervlakte van meer as 200 m2 gelyktydig aan te keer. Marcell het ook onlangs ’n groter net van 20 m x 20 m op die bekende springbokplaas Jules of the Karoo van mnr. Julian Theron by Richmond opgeslaan.

Dié net weeg sowat 60 kg. Wanneer die net opgestel is, is die kante sowat 2 m hoog gelig, wat genoeg ruimte vir gemaklike toegang aan die bokke gee.

Die net-tent word met ’n katrolstelsel met behulp van ’n bakkie opgehys nadat die vier hoeke met ankertoue styfgetrek is.

KOSTEBESPARING

Kostebesparings in die wild- bedryf is deurslaggewend, veral met die huidige wildmark wat nie aan die hemelhoë pryse van vroeër gekenmerk word nie. ’n Helikopter kos R6 000 per uur, terwyl die middels wat gebruik moet word om diere met doofpyle te skiet, ook duur is. Daarby word diere wat uit die lug gejaag word, onder groot stres geplaas.

“As jy net die helikopter kan uitskakel, is die vangkoste per dier aansienlik minder. “Die helikoper vlieg ’n halfuur lank net om op die plaas te kom en dan weer ’n halfuur terug huis toe. Die net-metode is kostedoeltreffend en veroorsaak die minste stres en beserings. Die bokke loop self rustig na die voerbakke toe en staan gewoonlik botstil tot die net op hulle val.

“Die kalmeermiddels vir dié vangmetode is goedkoop. Min arbeid is nodig, maar dit help om een man per bok in te span om die diere so gou moontlik vas te pen,” sê Marcell. 

Sy Viper-vangstelsel kos R19 999 vir die V1-model, R27 999 vir die V2-model en R37 999 vir die groot net.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.