Elkeen van my trofeë is in die loop van ’n gewone biltongjag geskiet, maar aan elkeen heg ek ’n besondere herinnering en daarom hang hulle daar teen die muur. Dit was eintlik verkeerd om dit nie te laat opteken nie, omdat die oorspronklike idee van veral Roland Ward nooit was wat dit ongelukkig mettertyd geword het nie.

Deesdae is dit iets om oor te spog, terwyl die oorspronklike doel was om jagters te help bepaal in watter land en gebied die beste trofeë van ’n betrokke wildsoort voorkom. Daarom kan ’n mens selfs besondere horings wat jy in die veld opgetel het, laat aanteken.

Dit was juis hierdie “spog”-faktor wat my laat besluit het om nie my stelle horings te laat opteken nie. As dit klink of ek dalk teen trofeejag gekant is, allermins. Trofeejag hét ’n belangrike plek in wildbewaring.

Praat, praat, praat

Onlangse navorsing aan onder meer die Universiteit van Oregon in Amerika hou die trofeejag-debat in die kollig en dit is goed so. Sonder voortdurende besinning oor ’n onderwerp verval ’n mens gou in geykte idees wat vir geen bedryf goed is nie.

Botswana het byvoorbeeld tans te veel olifante wat ’n groot las op die beskikbare habitat plaas, maar die emosies wat soms die botoon voer, dien nóg die olifante, nóg die hele oogmerk van bewaring en daarom moet ons steeds daaroor praat.

Die jag van enige wilde dier bloot om die kop, horings of vel as trofee uit te stal, het nog altyd vurige voor- en teenstanders gehad. ’n Paar maande gelede het ’n rubriekskrywer in die Kaapse dagblad Die Burger byvoorbeeld weer op die holrugperd geklim dat mans wat trofeejag beoefen, dit doen omdat hulle fisiek ontoereikend is.

Onsin.

Die debat oor die diere self, hul omgewing en voortbestaan is te belangrik om deur ploerte met sulke verouderde idees gevoer te word.

Die kwessie of trofeejag ’n wesenlike bydrae tot wildbewaring lewer of nie is tans ’n belangrike gesprek.

Goed vir bewaring

Die kwessie of trofeejag ’n wesenlike bydrae tot wildbewaring lewer of nie, is tans ’n belangrike gesprek. Die naarstige teling van kleurvariante kom byvoorbeeld ter sprake. Is dit ’n foefie wat net ’n paar jaar uitsonderlik gaan wees of dra dit juis wesenlik by tot die bewaring van wild?

Sou ’n boer byvoorbeeld steeds ’n paar honderd gewone springbokke op sy plaas aangehou het, waarvoor hy sê maar R1 000/bok by ’n biltongjagter kry, terwyl hy dalk drie keer soveel vir ’n swart of wit springbok kan kry? Ons weet nog nie.

Bevooroordeeld?

Die navorsers in Oregon kom, soos dit vir my lyk, tot die gevolgtrekking dat trofeejag geen wesenlike bydrae tot bewaring lewer nie. Dis altyd baie moeilik om die akkuraatheid van sulke navorsing te beoordeel as jy nie self toegang het tot byvoorbeeld die vraelyste wat gebruik is nie, maar ’n mens kan tog ’n paar dinge uit hul gevolgtrekkings aflei.

Wat vir my baie jammer is, is dat ek so ’n bietjie aan hul bona fides twyfel. Dalk is ek bevooroordeeld, maar ek probeer om nie te wees nie. Een van my proffies op Stellenbosch het altyd, wanneer ons ’n verhandeling moes skryf, gesê dat as jy reeds vooraf besluit het wat die resultaat van jou navorsing moet wees, sal jy altyd feite kry om dit te staaf.

Die Oregon-groep voel vir my so asof hulle die resultaat gehad het voor die navorsing nog gedoen is. Hul standpunt is dat trofeejag moreel verkeerd is. As dit jou vertrekpunt is, sal jy feite kry om dit te staaf en dan is die kans maar skraal dat jy onbevooroordeeld na trofeejag se rol in bewaring kan kyk.

Hulle erken wel dat trofeejagters geldelik bydra tot die ekonomie van ’n land, maar dink steeds die versameling van diere se liggaamsdele is oneties, en om trofeejag dus vir die doel van bewaring te gebruik, is dus ook oneties. Soos my ma sou sê, red nou ’n volk met so ’n argument.

Daar is tans ’n student, Lillian Gramberg-Danielsen, wat aan die Universiteit Stellenbosch navorsing doen vir haar meestersgraad. Sy sê oor die doel van haar navorsing “The purpose of this study is to assess the environmental and conservation reasoning of hunters on their contribution to nature conservation.”

Nadat ek haar vraelys ingevul het en ’n lekker lang gesprek met haar studieleier, prof. Sanette Ferreira, gehad het, sien ek baie daarna uit om die uitslag van die navorsing onder oë te kry.

BEN FOURIE

Ben Fourie is ’n geweergeesdriftige van Port Elizabeth.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.