Die Beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) en die Konfederasie van Jagverenigings van Suid-Afrika (Chasa) is deur die CIC geskors oor dié twee instellings se goedkeuring van die jag van leeus wat in aanhouding geteel is. Hul appèlle teen die beslissing is vroeër die maand op die CIC se jaarvergadering in Madrid, Spanje, van die hand gewys.

Phasa het op sy jaarvergadering verlede jaar gestem en besluit om sy amptelike beleid oor die jag van leeus wat in aanhouding geteel is, te verander. Die organisasie het hom in 2015 van dié praktyk gedistansieer.

Lede wat op verlede jaar se vergadering teen die nuwe besluit gestem het, het ’n nuwe organisasie gestig onder leiding van mnr. Stewart Dorrington, voormalige voorsitter van Phasa.

Dorrington het kort ná die CIC se besluit aan IOL gesê die raad se besluit is nie ’n verrassing nie. Hy sê die CIC het nog altyd etiek en sportmanskap in jag voorgestaan en die organisasie is baie bewaringsgeoriënteerd.

“Enigiemand wat nog die teel van leeus in aanhouding steun, sal net aanhou om hulself van die wêreld te isoleer.”

'Verantwoordelik'

Mnr. Dries van Coller, voorsitter van Phasa, kon nog nie vir kommentaar bereik word nie, maar het in ’n onlangse opname van die aanlynprogram Op Die Spoor gesê Phasa het sy grondwet op verlede jaar se vergadering verander om dit in ooreenstemming met Suid-Afrikaanse wetgewing te bring.

Hy sê etiek beteken verskillende goed vir verskillende mense. Daarom is die besluit geneem om eerder te konsentreer op wat wettig is binne die raamwerk van volhoubare benutting.  Hy wys ook daarop dat die vereniging nie besluit het om enige leeujag goed te keur nie, maar net die verantwoordelike, wettige jag van leeus.

Die jag van leeus is wettig in Suid-Afrika, en die wetenskaplike gesag van die Departement van Omgewingsake het vroeër bevind die trofeejag van leeus wat in aanhouding geteel is, hou geen bedreiging vir Suid-Afrika se wilde leeubevolking in nie. Dit bied eerder ’n buffer van beskerming vir die land se 2 876 wilde, vrylopende leeus.

Dorrington sê egter die jag van leeus in aanhouding mag dalk ekonomies volhoubaar wees, maar dat dit nie deur die gemeenskap geduld word nie en dat die publiek sal aanhou mobiliseer om die praktyk stop te sit.

Simbolies

Mnr. Stephen Palos, uitvoerende hoof van Chasa, sê vir sy organisasie is die besluit waarskynlik minder van ’n terugslag as vir Phasa.

“Ons verteenwoordig 23 jagorganisasies wat hoofsaaklik op plaaslike jagters gerig is. Ons lidmaatskap van die CIC was dus nog altyd meer simbolies ter ondersteuning van die eensgesindheid onder jagters wêreldwyd as wat dit tot voor- of nadeel van ons organisasie was.”

Hy sê Chasa se beleidsdokumente maak dit duidelik dat dié organisasie hom tot verantwoordelike, volhoubare benutting verbind.

“Ons steun die amptelike norme en standaarde van die Suid-Afrikaanse Roofiereienaarsvereniging (Sapa) en raai ons lede aan om by geriewe te jag wat aan dié organisasie se vereistes voldoen.”

Palos sê daar is tans net agt leeutelers wat aan hierdie vereistes voldoen.