Dít was prof. Moritz van Vuuren van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria se waarskuwing oor snotsiekte op ’n onlangse vergadering op Roedtan in Limpopo.

Hy sê wildsbokke wat in gevangenskap of semi-gevangenskap aangehou word, is ook kwesbaar. Dertig verskillende wildsbokspesies in dieretuine oor die wêreld heen het al aan snotsiekte gevrek.

BUFFELS

Van Vuuren sê daar is ook ’n toename in uitbrekings onder buffels wat in semi-gevangenskap, soos in klein wildkampies, op wildplase aangehou word. Die eerste buffel wat aan die siekte gevrek het, was in 2008 in die Pretoriase dieretuin. Die dier het die siekte van Angorabokke in die dieretuin gekry.

Intussen is 12 bevestigde gevalle van vrektes weens snotsiekte onder buffels opgeteken. “Dit is interessant, want in die moderne geskiedenis is daar nie een geval opgeteken van ’n vrylopende, wilde buffel wat aan snotsiekte gevrek het nie.” Dieselfde geld wildsbokke, waar geen voorval nog aangemeld is van ’n bok wat die siekte in sy natuurlike omgewing opgedoen het nie.

Hy sê hy word gereeld gevra of ander bokspesies, soos blesbokke, bontebokke en hartebeeste, ook draers van snotsiekte is. “Daar is heelwat wildsbokke by wie ’n virus van dieselfde familie voorkom, maar in sestig jaar se navorsing kon hierdie virusse nog nooit na beeste oorgedra word om hulle siek te maak nie – nie eens in laboratoriumtoestande nie.”

BEHOU AFSTAND

Hy sê die enigste diere wat ander diere met snotsiekte kan besmet, is skape, beeste en bokke (nie wildsbokke nie). Die voorkoms van uitbrekings wat deur skape en bokke veroorsaak is, is egter baie laag. Hy wys ook daarop dat daar nie so iets is soos ’n wildebees wat nie snotsiekte dra nie.

Die beste beskerming teen die oordrag van snotsiekte na beeste en ander wild in aanhouding is afstand. Een kilometer blyk ver genoeg te wees om die risiko tot die minimum te beperk, maar selfs 500 m help al om die risiko van besmetting te verminder.