Baie min internasionale reise word tans deur trofeejagters onderneem vanweë die pandemie en dan is daar boonop lande wat hul burgers verbied om na Suid-Afrika te reis uit vrees vir besmetting met die plaaslike variant van die virus. Dit maak die bemarking van jag- en toerismebestemmings vir die internasionale mark baie moeilik, sê mnr. Richard York, uitvoerende hoof van WRSA. “Tensy iets drasties verander, gaan ons lank vat om die gevolge wat die pandemie op ons bedryf het om te draai,” sê hy.

VERTROUE

York sê die situasie word verder belemmer deur ’n gebrek aan beleggersvertroue in wild. Kwessies soos die onteieningswet en die nuwe minimumloon het ’n ongunstige uitwerking op die waarde van diere en die bereidwilligheid om in wildplase te belê.

Boonop voel dit vir boere of die regering hulle om elke hoek en draai kortwiek. York vertel van ’n WRSA-lid in die westelike deel van die Oos-Kaap, waar droogtetoestande boere teen die toue het, wat aansoek gedoen het om sy bastergemsbokke na ’n buurplaas te verskuif waar daar nog weiding is.

“Sy aansoek is afgekeur deur die provinsiale departement van omgewingsake omdat daar swartwitpense op die plaas is waarheen hy sy bokke wil skuif. Dít vanweë ’n enkele voorbeeld van ’n verbastering tussen dié twee spesies wat jare gelede in Angola opgeteken is!”

Sulke goed, sê York, blus boere se optimisme. 

SILWER RANDJIE

WRSA is tans besig met ’n opname onder sy lede om te kyk hoe die Covid-19-pandemie hul bedryf raak en die voorlopige resultate wys dat boere glo dinge sal eers beter gaan wanneer Covid-19 nie meer só ’n groot invloed op mense se aktiwiteite het nie.

Die een silwer randjie is dat Suid-Afrika, danksy die inperkings op reis oor die landsgrense, baie van sy plaaslike jagters weer op eie bodem sien jag het.

Uit die voorlopige resultate van die opname blyk dit dat 90% van die besoekers aan baie wildplase voor die pandemie uit die buiteland gekom het. Tydens die pandemie en die inperkings was die syfer omgekeerd met 90% van die jagbesoekers uit eie bodem. Nou voorspel wildboere dat hulle eendag, wanneer die pandemie nie meer ’n faktor is nie, hulle ’n verhouding nader aan 50/50 tussen plaaslike en internasionale jagters op hul plase sal sien.

Boere wat aan die opname wil deelneem, kan vir York kontak by: ceo@wrsa.co.za.