Die verslag wat deur WRSA se bestuur saam met prof. Peet van der Merwe en me. Cheree Jacobs van die Noordwes-Universiteit opgestel is, waarsku dat die bedryf op die rand van ’n ineenstorting is en dat dringende stappe gedoen moet word om die effek van Suid-Afrika se inperkingsmaatreëls te verlig.

Altesame 601 wildboere – van wie 67% lede van WRSA is – het aan die vrywillige opname deelgeneem.

Die meeste boere, 94%, sê hul hoofinkomste kom uit jag en 71% van die deelnemers verdien geld uit toerisme, 61% uit wildproduksie en 8% uit ander bedrywe soos taksidermie en veeboerdery. Boere kon hier meer as een inkomstebron kies.

Deelnemers het gemiddeld R2,5 miljoen verlies gely weens kansellasies deur jagters en eko-toerismebesoekers vir die tydperk van Maart tot Desember 2020. Luidens die verslag het die hele wildbedryf omtrent R3,8 miljard weens kansellasies verloor vir die jaar.

Vergeleke met 2019 se besprekings vir die tydperk van April tot Desember kan die bedryf ’n verdere R3,1 miljard aan nuwe besprekings verloor. Die bedryf staar ’n verdere R1,86 miljard se verliese aan verkope van lewende wild vir 2020 in die gesig en R683 miljoen aan vleisverkope.

Van die werkers in die bedryf is 31% se salarisse besnoei, 19% is met onbetaalde verlof en 17% het reeds hul heeltydse werk verloor. Daar word bereken dat as die huidige situasie langer voortduur, sal 56% van die oorblywende heeltydse werkers se salarisse teen Desember besnoei word of hulle sal op onbetaalde verlof geplaas word.

WRSA sê vir die bedryf om ’n kans op oorlewing te staan, moet dringend verslappings in regulasies aangebring word om die handel en verskuiwing van lewende wild moontlik te maak.

Hoewel reisbeperkings dit onmoontlik maak om internasionale jagters te ontvang, beveel WRSA aan dat plaaslike jagters al op vlak 4 toegelaat word om na jagbestemmings te reis, in jagkampe en lodges te bly en te jag. “Sonder jag sal wild geen waarde hê nie,” waarsku die verslag.

WRSA beveel ook aan dat ’n taakspan vir die ekonomiese herstel van wildboerdery saamgestel word uit lede van die private sektor, die regering en finansiële instellings om modelle te ontwikkel wat wildboere kan help. Die span moet dit ten doel hê om reëls en protokolle te ontwikkel wat die wildbedryf op die pad na herstel sal plaas ná die Covid-19-pandemie.