Sy het begin as ’n halfdagboek- houer wat die KwaZulu-Natalse Jagters- en Wildbewaringsvereniging se geldsake moes behartig en help met bemarking. Van wild en jag het sy omtrent niks geweet nie . . .

Mense wat me. Adri Kitshoff-Botha ken, weet egter sy het te veel dryfkrag en energie om te lank in ’n halfdagpos te bly. Sy is gou bevorder en het as uitvoerende bestuurder die vereniging op verskeie regeringsforums begin verteenwoordig.

Altesame 19 jaar nadat sy in 2001 haar eerste pos in die wild-en-jagbedryf beklee het, tree Kitshoff-Botha uit as uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA).

Die eerbewyse wat sy oor die jare van plaaslike en internasionale jagorganisasies en selfs regerings ontvang het, getuig van haar toewyding en hardwerkendheid. In 2015 het sy die internasionale jagorganisasie Safari Club International (SCI) se gesogte presidentseerbewys vir haar leierskap en bydrae tot Suid-Afrika se wildbedryf in Amerika ontvang.

Op eie bodem het Chasa, die konfederasie vir Suid-Afrikaanse jagorganisasies, haar ook met sý presidentsprys vereer. Die beroepsjagtersvereniging Phasa het sy Coenraad Vermaak-eerbewys vir uitsonderlike diens aan haar oorhandig. Die organisasie CEO Global het haar as die invloedrykste vrou in die landbou in Afrika in 2018 benoem, en in dieselfde jaar het sy ’n eerbewys van die Serwiese ambassadeur in Suid-Afrika ontvang vir haar rol om volhoubare benutting te bevorder.

Opwindende nuwe wêreld

Haar posbeskrywing by die KZN Jagters het byna oornag uitgebrei. Omdat dit ’n filiaal van Chasa was, was dit nie lank nie of sy moes sommer albei organisasies op polisievergaderings oor wapenwetgewing en omgewingsakevergaderings oor jag-en-wildregulasies verteenwoordig. “Dit was maar ’n nuwe ding vir almal,” sê sy. “Vroue was maar nog skaars rondom die raadsaaltafels. Daar sou 50 mans sit en toe daag hierdie girl op en neem haar plek in.”

Sy is in 2007 tot ondervoorsitter van Chasa verkies. “Ek het nie in ’n jagfamilie grootgeword nie, maar ek het besef ek kan nie die werk doen as ek nie weet waaroor gaan dit nie. Toe volg ek eers die senior jagterskursus, begin skietbaan toe gaan en leer skiet.”

In 2009 het Phasa se oudpresidente (of “daggaboys” soos hulle bekend is), met die uitvoerende komitee vergader om oor die probleme van die organisasie se daaglikse bestuur te gesels, en daar is besluit om ’n nuwe pos te skep.

Kitshoff-Botha het egter nie geweet wat om te verwag toe mnr. Ian Goss, een van die oudpresidente, haar nooi vir ’n koppie koffie nie. Hy het van KwaZulu-Natal af gekom en Kitshoff-Botha het hom geken as iemand wat praat sonder om doekies om te draai. “Ian is nie iemand wat sommer tydig en ontydig wil koffie drink om ditjies en datjies te bespreek nie.” Sy was effens senuweeagtig.

Oor ’n koppie koffie het hy haar egter die pos van uitvoerende hoof van Phasa aangebied en Adri het dit aanvaar. “Ag, dit was net ’n nuwe, nuwe wêreld wat oopgegaan het. Dit was so opwindend.”

Me. Adri Kitshoff-Botha en haar man, mnr. Michael Botha.

aan die diep kant ingegooi

Sy het in Januarie 2010 begin en moes skaars ’n week later na Amerika vertrek op ’n bemarkingsveldtog. “Ek was in my lewe nog nooit oorsee nie, maar jis, ek laai toe twee tasse vol klere en ek is hier weg.”

Sy moes onder meer die SCI se drie dae lange konferensie bywoon waar sy haar plek moes volstaan in die geselskap van die presidente van die SCI, die Dallas Safari Club en die Wild Sheep Foundation, asook die presidente en uitvoerende bestuurders van Suid-Afrikaanse jagtersverenigings. “Ek het piepklein gevoel. Ek het seker vir hulle soos ’n haas in hoofligte gelyk.”

’n Mens groei mos maar in ’n ding in en Kitshoff-Botha het gou haar voete in die beroepsjagwêreld gevind. Sy was tot 2015 Phasa se uitvoerende hoof.

Saam met die hoogtepunte daar was daar ook moeilike tye. Sy was aan die stuur by Phasa toe die bom om Cecil die leeu bars. ’n Groep navorsers van die Universiteit van Oxford was besig om dié 13-jarige leeumannetjie se bewegings in en uit Zimbabwe se Hwange Nasionale Park te bestudeer toe ’n Amerikaanse trofeejagter hom met ’n boog gekwes en eers die volgende dag doodgeskiet het. Dit het wêreldwyd opslae gemaak en ’n mediastorm oor trofeejag in Suider-Afrika ontketen.

“Onder die bekwame leiding van ’n openbare skakelmaatskappy en ná tientalle TV- en radio-onderhoude wêreldwyd het dit my behoorlik geskool oor hoe om met die media te praat.”

Kort daarna het sy die beroepsjagters se geledere verlaat om haar by WRSA aan te sluit – ook as uitvoerende hoof. Dit was vir haar selfs ’n groter sprong na ’n nuwe wêreld as toe sy in 2010 by die beroepsjagters met hul internasionale kliënte van ’n plaaslike jagorganisasie af aangesluit het.

Sy wou egter die stap doen om ’n volwaardige loopbaan in die waardeketting van Suid-Afrika se wild- en jagbedryf te hê. “Ek is bly ek het gegaan, al was dit aanvanklik moeilik. Ek het baie gehad om te leer. Van teling en wildsvleis en toerisme en wildsplaasbestuur het ek niks geweet nie.”

Haar leermeesters was wildboere van reg oor Suid-Afrika, baie van hulle ook van die land se voorste sakelui. Dit sluit mense soos mnre. Louis van der Watt, Norman Adami, Wikus Pretorius, Tebogo Mogashoa, Jacques Malan en me. Ellalien Davey in. “Ek het soveel gegroei deur praktiese leiding en voorbeelde van hierdie ongelooflike leiers. Dit is kennis wat ’n mens nie in boeke gaan kry nie.”

Om uit te tree, was nie vir haar ’n maklike besluit nie. Kitshoff-Botha gee haar versekering dat haar kennis en ervaring altyd net ’n oproep ver sal wees. Haar kinders en veral kleinkinders is egter haar voorrangsaak.

Nuwe hoofstuk

“Ek het vir my man, Michael, en kinders gesê ek wil meer tyd saam met hulle deurbring. Ek wil nie meer so besig wees dat ek konserte en prysuitdelings van my kleinkinders misloop nie.” Sy wil ook daar wees vir haar ma van bykans 92 jaar oud en is ’n ywerige tuinier.

Covid-19 het Kitshoff-Botha se tyd by WRSA met ’n paar maande verleng. Nadat sy beoog het om in April op te hou werk, het WRSA se raad haar gevra om aan te bly om die organisasie deur dié problematiese tyd vir die wildbedryf te help.

Sonder om te aarsel het sy ingestem. “Covid-19 het my die geleentheid gebied om terug te gee vir die baie wat ek oor die jare by hierdie bedryf geleer het. Ek het ongekende ure gewerk. As wildboere in die nag gebel het om ’n permit te bekom, het ek dit gedoen, want ek het geweet elke permit en elke bydrae wat ons in gesprekke met die staat kon lewer, het ’n verskil gemaak. Dit was ’n eer.”

Kitshoff-Botha se weeklikse stemboodskappe het boere regdeur die inperking op die hoogte gehou van beleid, beperkinge en toegewings van die staat.

Sy het as uitvoerende hoof aangebly tot WRSA se kongres einde Oktober. “Daarna is my tyd vir die eerste keer in baie jare weer my eie.”