Dit blyk uit gesamentlike navorsing deur dr. Duan Biggs en mnr. Alexander Richard Braczkowski van die Griffith-universiteit in Australië, dr. Alta de Vos van die Rhodes-universiteit, en dr. Hayley Clements van die Universiteit Stellenbosch, waaroor hulle in ’n artikel op die webwerf The Conversation verslag gedoen het.

Volgens die navorsers word sowat $71 miljard (R1,1 biljoen) per jaar uit wildtoerisme in Afrika verdien. ’n Groot persentasie word gebruik om bewaringsgebiede te bestuur. Die bewaring van ’n enkele renoster in die Ol Pejeta-bewaringsgebied in Kenia kos jaarliks naastenby $10 000 (R160 000). Sedert die Covid-19-uitbreking is koste vir patrollies en teenstropingseenhede by die meeste reservate in Afrika besnoei.

Trofeejag, wat sowat $200 miljoen (R3,2 miljard) tot verskillende ekonomieë op die vasteland bydra, speel ’n sleutelrol in die finansiering hiervan. Suid-Afrika, Namibië en Tanzanië is die topverdieners onder die trofeejagbestemmings in Afrika suid van die Sahara.

Volgens die navorsers word die debat oor trofeejag as ’n bron van inkomste vir bewaring ál dringender in die lig van Covid-19. Diereregtegroepe en nie-regeringsorganisasies plaas toenemend druk om die invoer van jagtrofeë te verbied. Sommige eis selfs dat trofeejag geheel en al verbied moet word. Jag is reeds tydelik opgeskort in lande soos Zambië en Botswana.

Die navorsers waarsku dat groepe wat eis dat jag heeltemal verbied word, nie al die veranderinge in grondgebruik en moontlike maatskaplik-ekonomiese gevolge in ag neem nie. Talle grondeienaars reken hulle sal hul- self in so ’n situasie tot ekotoerisme moet wend, of moet oorskakel na veeboerdery.

Die navorsers het gekyk na die impak wat ’n algehele verbod op trofeejag sal hê op Suid-Afrikaanse grondeienaars wat jagondernemings op hul eiendomme bedryf. Hiervolgens het 91% van die grondeienaars met wie onderhoude gevoer is, aangedui ’n verbod sal die ekonomiese lewensvatbaarheid en biodiversiteit van hul grond vernietig.

Daar is veral gesprek gevoer met eienaars van jagbestemmings in die Oos- en Wes-Kaap vanweë die besonderse biodiversiteit waarvoor hierdie gebiede bekend is.

Hoewel ekotoerisme as ’n lewensvatbare alternatief tot trofeejag voorgehou word, het net een derde van die grondeienaars wat deel van die studie was, gesê hulle sal na ekotoerisme oorskakel, of hul bestaande aktiwiteite uitbrei indien ’n jagverbod ingestel word. Die ander twee derdes reken so ’n oorskakeling is nie lewensvatbaar nie weens die koste daaraan verbonde, asook omdat die mark reeds versadig is.

Die helfte van die grondeienaars in hierdie groep sê hulle sal eerder weer oorskakel na veeboerdery, personeel verminder en wild van hul eiendomme verwyder. Die ander helfte in die groep sien geen ander werklike alternatief vir hulself binne die scenario van ’n jagverbod nie.

“Ons bevindinge is van belang vir bewaring, asook volhoubare ontwikkeling,” sê die navorsers. “Dit dui daarop dat ’n verbod op trofeejag ’n beduidende impak op die lewensinkomste van grondeienaars en hul werknemers kan hê.”

’n Onlangse verslag deur die stigting vir bedreigde natuurlewe, EWT, toon dat bewaringsgrond in private besit 14% tot 17% van Suid-Afrika se oppervlakte beslaan – meer as dubbel die oppervlakte van beskermde gebiede wat in staatsbesit is.

As minder grondeienaars wildplase bedryf, kan dit ook lei tot ’n afname in wildgetalle. Tans lewer hierdie praktyk ’n groot bydrae tot die bewaring van wildspesies, waarsku die navorsers.

Sogenoemde fotografie-safari’s is ook ’n belangrike bron van inkomste. Tog toon ’n studie wat in 2007 in Zimbabwe gedoen is, dat trofeejagters meer geneig is om onder riskanter omstandighede te reis as foto-toeriste. Dit maak die jagbedryf veerkragtiger binne moeilike omstandighede. Volgens die navorsers kan daar dus aangeneem word dat jagters gouer bereid sal wees om, in die lig van Covid-19, weer te reis as foto-toeriste.

Luidens hul verslag moet drukgroepe wat beleidmakers bearbei om alle trofeejag, asook die benutting van en handel in wild te verbied, kennis neem van die moontlike gevolge. As groepe dit doen omdat hulle trofeejag as moreel onregverdigbaar beskou, moet hulle ook verreken wat dit gaan kos vir natuurbewaring en die lewensbestaan van mense wat afhanklik van jag is.

Die navorsers sê as bewaring eerder die doelwit is, moet alternatiewe inkomstestrome en oorgangsplanne ontwikkel word vir grondeienaars en gemeenskappe vir wie jag ’n belangrike inkomstebron is. Dit sal bewaring asook die lewenskoste van die mense moet kan finansier.

Die navorsers reken ’n meer pragmatiese slotsom tot die trofeejagdebat kan verkry word deur wetenskaplike bewyse van waarskynlike resultate te kombineer met verskillende waardes teenoor jag, sodat aanvaarbare oplossings gevind kan word. Só ’n aanslag is van uiterste belang vir die herbou van Afrika se bewaringsektor ná Covid-19.