Mnr. Johan Swart, organiseerder van die veiling, sê die omset van vanjaar se fees was R4,6 miljoen, teenoor R7,5 miljoen verlede jaar. Dit was vanjaar die sewentiende keer dat die veiling tesame met die Kirkwood-wildsfees aangebied is. Hy sê die rede vir die afname is hoofsaaklik die laer pryse wat betaal is.

Die laer pryse kan toegeskryf word aan die droogte, swak ekonomiese toestande en onsekerheid in die landbou as gevolg van die debat oor onteiening, wat wildsboere versigtiger maak om wild aan te koop. “Die wildveiling was egter net weer ’n bewys dat wild met goeie horinglengtes steeds goed verkoop."

Buffel

Noemenswaardige kopies was twee koedoebulle, met horinglengtes van onderskeidelik 54 duim en 57 duim wat albei vir R60 000 verkoop het. Die hoogste prys van R135 000 vir die dag is betaal vir ’n buffelbul van die Camdeboo Nasionale Park.

Volgens Swart is ’n buffelkoei, ook van die Camdeboo Nasionale Park, teen R60 000 aan dieselfde koper verkoop. Daar is vanjaar 165 lotte aangebied, waarvan 136 lotte verkoop is.

Swart sê hy is verras deur die verkope van bergsebras, aangesien die 75 diere wat aangebied is, almal verkoop is. Pryse het gewissel van R7 000 tot R11 500 stuk.

Droogte

Mnr. Philip Theunissen van die Bhejane-wildreservaat by Willowmore, wat ook wild op die veiling aangebied het, meen die droogte in die suide van die Oos-Kaap is een van die hoofredes vir die swak pryse.

Hy sê die veld het nog nie sodanig herstel dat boere bykomende wild kan aankoop nie, en boere is versigtig om nou aankope te doen. Hy voeg by die provinsie het die afgelope twee jaar baie wild verloor weens die droogte.

Hy sê dat wildpryse die afgelope paar jaar aansienlik afgeneem het, met veral pryse van kleurvariante wat swakker is. Hy is egter optimisties oor die wildbedryf, aangesien hy nou weer wild, veral buffels, teen billike pryse kan aankoop