Verskeie voorvalle van onwettige jag het die afgelope tyd in verskillende dele van die land voorgekom. Twee onwettige immigrante is op 12 April in Limpopo se Tom Burke-area in hegtenis geneem vir onwettige jag, terwyl 11 verdagtes die volgende dag by ’n slagplek in die veld naby Maasstroom in hegtenis geneem is. Dit volg nadat boere wild opgemerk het met strikdrade om hul nekke en dit aangemeld het by die Heritage Protection Group, ’n private sekuriteitsgroep wat landelike misdaad ondersoek.

Op 7 Mei het ’n ander private sekuriteitsmaatskappy, Senyaka Nyaka-sekuriteit, ’n verdagte met draadstrikke en ’n rooibokkarkas in sy besit naby Immerpan in hegtenis geneem. Dieselfde maatskappy het ’n week later twee mans wat met honde tussen plase in die Roedtan-omgewing rondbeweeg het, in hegtenis geneem. 

Dié voorvalle is gevolg op 19 Mei deur ’n man met ’n vlakvark in sy besit, wat vir onwettige jag naby die grens tussen Suid-Afrika en Botswana in hegtenis geneem.

Dit is egter nie net in die noorde wat dié probleem voorkom nie. By Tarkastad in die Oos-Kaap spook boere en polisie met dieselfde probleme.

Nadat mense gesien het hoe taxi’s ’n groep mans met honde op ’n boer se plaas aflaai, het die omgewing se boere, die polisie en amptenare van die departement van omgewingsake saamgewerk om die vermeende onwettige jagters op te spoor. Altesame 16 verdagtes is vasgetrek met elf springbokkarkasse en ’n steenbokkarkas in hul besit. Hulle het 32 honde by hulle gehad en getuienis dui daarop dat die honde gebruik is om die wild te jag.

Covid-19 en stropers 

Oudpolisiekolonel Gawie Louwrens van Senyaka Nyaka beaam dat onwettige jag ’n groot probleem is. Hy sê dis moeilik om te bepaal of daar ’n toename in sulke jag is oor die grendeltyd, want wilddiewe beweeg in elk geval onwettig op die plekke waar hulle jag. Die staat van inperking skeel hulle dus min. Hy vermoed egter gebiede waar daar gewoonlik jagters en toeriste rondbeweeg, is nou makliker teikens.

Me. Adri Kitshoff-Botha, uitvoerende hoof van Wildbedryf SA (WRSA), sê ’n groot persentasie van die wildboere wat aan ’n onlangse opname oor die impak van Covid-19 op die wildbedryf deelgeneem het, het aangedui dat hulle ’n toename in wilddiefstal verwag. 

Mnr. Joe Viljoen van die private natuurreservaat ChaZen in die Vredefort-koepel sê ’n toename in onwettige jag kan te wagte wees. “Baie mense het nie werk nie en sal jag vir vleis. As wildboere gaan ons na ons wild moet omsien deur te help om hongersnood in ons omgewing te help voorkom.”

Hy sê daar is reeds etlike projekte in gebiede waar daar baie wild is om wildsvleis te benut om honger in gemeenskappe te verlig. “As ons die honger aanpak, kan ons op gemeenskappe staatmaak om ons te help om die onwettige jag aan te pak.”