’n Groep swartrenosters is onlangs per helikopter en padlangs na hul nuwe tuiste in die Oos-Kaap, ’n reservaat van 14 000 ha, geneem. Private grondeienaars, die plaaslike gemeenskap en die provinsiale regering tree as die renosters se beskermhere op.

’n Deel van dié reservaat was landbougrond wat nou vir die projek by ’n gemeenskap van 25 families gehuur word.

Die BRREP se doel is om swartrenosters se aanteel aan te help. Sedert die projek in 2003 begin het, is 12 nuwe swartrenosterbevolkings begin en 90 swartrenosterkalfies in die projek se verskeie reservate gebore.

Dr. Jacques Flamand, BRREP-projekleier, sê die grootste voorrangsaak is dié diere se welstand en daarom word hulle steeds gemonitor. “Dit lyk sover of die hervestiging goed verloop het. Hulle is nog besig om die reservaat te verken en sommige lyk asof hulle daar begin tuis raak. Swartrenosters het gewoonlik ’n paar maande nodig voor hulle heeltemal gevestig is. Hulle het ’n wonderlike nuwe tuiste en ons hoop hulle sal ’n betekenisvolle bydrae tot bevolkingsgetalle lewer.”

Mnr. Mlungisi Mvoko, LUR vir omgewingsake in die Oos-Kaap, sê die projek se nuwe reservaat kan ’n belangrike bewaringsprojek vir die provinsie word.

Mnr. Vuyani Daimani, uitvoerende hoof van die Oos-Kaapse parke en toerisme-agentskap, sê dit is belangrik dat dié nuwe bevolking reg bestuur word. Die agentskap sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat dit bydra tot die groei van die swartrenosterbevolking.

swartrenosterprojek,
Die 200ste renoster word vrygelaat. Foto: Micky Wiswedel/WWF

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.