BVG_Logo
BEAN 27/10 6470,8 -9,20
CORN 27/10 2682,4 -0,60
SOYA 27/10 8550 0,00
SUNS 27/10 8105,2 -15,80
WEAT 27/10 4904 0,00
WMAZ 27/10 3750 -50,00
YMAZ 27/10 3615 -44,00
AMT_Logo
Beeste A2/3 23/10 4986 0,00
Beeste AB2/3 23/10 4771 0,00
Beeste B2/3 23/10 4424 0,00
Beeste C2/3 23/10 4186 -0,02
Ewes (Goats) 23/10 4556 -0,73
Feeder Lamb 23/10 4154 0,02
Kids (under 30kg) 23/10 6194 -0,16
Large (above 40kg) 23/10 3682 0,54
Medium (30-40kg) 23/10 4877 -0,16
Pluimvee (Bevrore) 23/10 2549 0,00
Pluimvee (Vars) 23/10 2491 0,00
Pluimvee IQF 23/10 2380 0,00
Skaap A2/3 23/10 8636 0,02
Skaap AB2/3 23/10 7376 0,04
Skaap B2/3 23/10 6783 0,00
Skaap C2/3 23/10 6717 0,01
Speenkalf 23/10 3659 0,00
Spekvarke 23/10 2903 -0,07
Varkwors 23/10 2302 -0,31
Vleisvarke 23/10 3185 -0,09
V: Kobalt- en seleentekorte
Ek het verneem van die word “duinetering”, ek boer in die Wes-Kaap en van my skape vaar nie goed nie. Help my asseblief.
Deur: .30 September 2020 356 keer gelees
A. Antwoord
Kobalt en seleen is noodsaaklike spoorelemente vir diere. Wanneer onvoldoende hoeveelhede ingeneem word, ontstaan ernstige produksieverliese en ook vrektes. As skape en beeste veral in die lente swak produseer en selfs vrek – ondanks goeie voeding, bestuur en parasietbeheer – behoort die moontlikheid van ‘n kobalt- en/of seleentekort ondersoek te word. 

KOBALTTEKORT 
Geskiedenis 

Die siekte kom waarskynlik voor sedert die mens diere mak gemaak en hul weigebiede beperk het. Die meeste inligting oor hierdie ernstige erosiesiekte kom van Australië en veral van Nieu-Seeland, waar navorsers eers die die afgelope halfeeu die probleem ontrafel het. 

Verspreiding 

Kobalttekorte is veral in die Kaapse kusstrook ‘n ernstige probleem. Die boerenaam “duinetering” is nogal beskrywend, maar effens misleidend omdat die tekorte nie net op duineveld ondervind word nie. In die winterreënstreke van die land kom kobalttekorte baie meer in die lente en vroeë somer voor as in ander tye van die jaar. 

Die rede is dat die kobaltvlakke in welige, vining groeiende lenteweiding laer is as in stadig groeiende gewasse wat in ander seisoene bewei word, en veral ook omdat diere in die droë somer, herfs en vroeëwintermaande baie meer grond saam met die gras inneem. Die kobaltvlakke in grond is heelwat hoër as in weiding. 

Plante wat in goed gedreineerde grond groei, bevat minder kobalt as dié in nat grond met dieselfde kobaltinhoud. Baie mangaan, yster en nikkel in die grond verminder ook die opname van koper deur plante. So ook word die opname van kobalt verminder as kalk aan suur grond toegedien word. 

Daarby wissel die opname van kobalt van plantsoort tot plantsoort en van jaar tot jaar, na gelang van die reënval. Wanneer die totale grondkobalt onder twee dele per mljoen (d.p.m.) is, is daar ‘n tekort. Gronde afkomstig van sommige vulkaniese rots, soos graniet, Tafelbergsandsteen en duineveld, het gewoonlik ‘n gebrek aan kobalt, terwyl gronde van basaltoorsprong, soos skalie, voldoende kobalt bevat. 

Voorkoms 

Kobalttekorte is hoofsaaklik ‘n probleem by herkouers, veral by skape en beeste wat uitsluitend wei. By diere wat gevoer word, kom dit selde voor omdat die bestanddele van voermengsels gewoonlik uit verskillende gebiede kom en die elemente waaraan daar ‘n tekort is, maklik in mengsels aangevul kan word. Jong groeiende herkouers is vatbaarder vir ‘n kobalttekort as ouer diere, en skape meer as beeste. 

Oorsaak 

By die herkouer word vitamien B12 (kobalamien), en ook die ander vitamiene in die B-groep, deur mikro-organismes in die grootpens gesintiseer. Die dier het nie kobalt nodig nie, maar in die grootpens is dit wel noodsaaklik vir die produksie van vitamien B12. Dié vitamien is nodig vir koollhidraat benutting en die beskikbaarstelling van energie, en vir die metabolisme van die aminosuur metionien. 

Die herkouer maak swak gebruik van die beskikbare kobalt vir vitamien B12-produksie. Daarby is die opname van vitamien B12 uit die derm ook baie ondoeltreffend by herkouers, terwyl kwaai parasietbesmetting van die maagdermkanaal, veral by skape, die absorpsie van vitamien B12 verminder. 

Simptome 

In die geval van ‘n chroniese kobalttekort is die siektetekens swak groei, verlaagde wolproduksie en vetterige veranderinge in die lewer weens ‘n metionientekort, verlies aan eetlus (vemoedelik veroorsaak deur die verhoging van propionsuur in die bloed), vermaering, bloedarmoede vanweë verlaagde foliensuurvlakke in die lewer, ligte maagwerk, oë wat traan, lusteloosheid, stywe en stadige beweging, en verlaagde melkproduksie. Uiteindelik vrek die dier. 

In akute gevalle vrek diere in goeie kondisie skielik, sonder veel siektetekens vooraf. 

Nadoodse tekens 

By chroniese gevalle word by nadoodse ondersoek meestal net vermaering, bloedarmoede en dikwels tekens van longontsteking gevind. In akute gevalle is die lewer gewoonlik baie lig van kleur weens vettige veranderinge. Vandaar die naam “witlewersiekte”. Geelsug in ligte graad is in enkele gevalle waarneembaar. 

Diagnose 

Toestande soos ondervoeding, besmetting met inwendige parasiete, chlamidiose, ‘n kopertekort en ander, veroorsaak soortgelyke simptome en daarom kan kobalt- en seleentekorte nie net met die blote oog gediagnoseer word nie. Juis as gevolg hiervan, en ook omdat die diagnostiese toetse moeilik is, is kobalt- en seleentekorte in die verlede dikwels nie as die werklike oorsaak van produksieverliese gediagnoseer nie. 

‘n Kobalttekort kan soos volg met sekerheid vasgestel word: 

• Ontleed die weiding. Wanneer weiding gereeld minder as 0,08 d.p.m kobalt bevat, kan ‘n kobalttekort gediagnoseer word. Die nadele van dié metode is dat die lae vlakke baie moeilik akkuraat bepaal kan word. Daarby lewer die selektiewe eetgewoontes van skape ook probleme. 

• Bepaal die kobaltinhoud van die lewer. Dit is ‘n waardevolle metode van diagnose, maar weens die lae waardes baie moeilik om uit te voer. Waardes van onder 0,06 d.p.m. word by skape en beeste as ‘n tekort beskou, en bo 0,1 as voldoende. 

• Doen ‘n behoorlik gekontrolleerde proef met kobaltaanvulling op die plaas. Weens praktiese probleme en menslike faktore lewer hierdie metode in gewone omstandighede op die plaas selde betroubare resultate. 

• Die metode wat vandag wêreldwyd die meeste gebruik word, is om die vitamien B12-vlakke in die bloedserum of die lewer te bepaal. Die bloedserumwaarde gee die beste aanduiding van die kobaltinname op daardie tydstip, terwyl die vitamien B12-vlak van die lewer ‘n beter aanduiding is van kobaltinname op lang termyn. 

Ongelukkig is die vitamien B12-bepaling ook ‘n moeilike toets. Vitamien B12-vlakke van laer as 250pg/ml (pikogram per milliliter) in skaapbloed word as teken van ‘n kobalttekort aanvaar, en van hoër as 500pg/ml as ‘n aanduiding van voldoende inname. 

In die winterreënstreke is die kobaltvlakke van welige lentegroei die laagste, en daarom is Oktober of November die beste maande om vir kobalt, seleen en koper te toets. Om ‘n betroubare waarde te kry, toets monsters van minstens tien diere uit ‘n trop. 

Voorkoming

 Indien ‘n kobalttekort op ‘n plaas gediagnoseer word, kan produksieverliese op die volgende manière voorkom word: 

• Spuit die lam op 2 en 8 weke ouderdom 2mg langwerkende vitamien B12 (hidroksiekobalamien) onder die vel in. Hierdie inspuitings voorsien in die lam se behoeftes tot op 4 maande. 

• Op 4 maande word ‘n sogenaamde kobaltkoeël met behulp van ‘n spesiale apparaat toegedien. Hierdie koeël bly in die ruitjiespens lê en voorsien ‘n paar jaar lank in die kobaltbehoeftes vir vitamien B12-produksie. 

Dit gebeur feitlik nooit dat ‘n skaap die koeël verloor nie. Maar harde aanpaksels om die koeël veroorsaak soms probleme, veral op peulgewasweidings. Indien dit gebeur, kan ‘n spesiale skuurder ingegee word. 

Omdat kobalt baie duur geword het, is dit selde ekonomies om dié spoorelement deur toediening op die weiding aan te vul. Die hoeveelhede wat aanbeveel word, is 0,35 kg/ha jaarliksof 1,4 kg/ha elke 3 jaar. Dié metode word ook nie vir kalk- of mangaanryke gronde aanbeveel nie. Dosering deur die bek is onprakties, omdat dit weekliks gedoen behoort te word teen ‘n toediening van 7 mg kobalt per skaap. 

SELEENTEKORT 
Geskiedenis 

Baie jare lank was die belangstelling in seleen beperk tot sy giftige uitwerking op diere. Eers in 1957 het navorsers vasgestel dat daar ook seleen tekorte kan voorkom en dat seleen noodsaaklik is vir groei, vrugbaarheid en die voorkoming van verskeie siektes by baie diersoorte. 

Verspreiding 

Die meeste seleentekorte is in die Kaapse kusgebiede gediagnoseer, maar dit word vandag meer in ander streke ondervind. Lae seleenvlakke word gevind in suur grond afkomstig van silikarots, terwyl hoër vlakke voorkom in meer alkaliese grond afkomstig van rotse met ‘n hoë ferro-magnesiuminhoud. 

Nog faktore wat dikwels tot lae seleenvlakke in die grond lei, is: swakgedreineerde leemgrond, hoëreënval-besproeiingskemas, vinniggroeiende lenteweiding, hoësuperfosfaatbemesting, en geil groeiende klawerweidings. 

Voorkoms 

Siektes wat verband hou met ‘n seleentekort kom voor by skape, beeste, varke, perde en pluimvee. Daar is ‘n besliste verband tussen die seleenvlakke in die grond, die weidingsplante en die dier. 

Oorsaak 

Seleen is onder meer ‘n noodsaaklike bestanddele van die ensiem glutatioon-peroksidase, wat in die bloed en organe van diere voorkom. Dié ensiem is onontbeerlik vir die handhawing van die normale biochemiese samestelling en funksionering van bloed en dierlike weefsel. 

Simptome 

Verskillende siektesindrome word deur ‘n seleentekort veroorsaak, waarvan party ook met ‘n vitamien E-tekort saamhang. 

• Die een wat waarskynlik die grootste produksieverliese veroorsaak, is swak groei, veral by jong skape en beeste, en natuurlik ook toenemende vrektes. 

• ‘n Seleentekort veroorsaak verlaagde reproduksie by alle diere, manlike sowel as vroulik. Hoë embrionale verliese in vroeë dragtigheid is in Nieu-Seeland dramaties verbeter deur seleen-aanvulling. 

• Vlekspiersiekte by vining groeiende lammers kom meestal in voerkraaltoestande voor en kan deur ‘n seleen- óf ‘n vitamien E-tekort veroorsaak word. 

Diagnose 

‘n Histologiese ondersoek van die spierweefsel van lammers – veral van die slukderm, tong, hart en midderif – is baie waardevol om ‘n seleentekort te diagnoseer. 

Dit is omdat ‘n seleentekort ‘n kenmerkende degeneraie en later kalsifikasie van gestreepte spiervesels veroorsaak. ‘n Bepaling van die seleeninhoud van weidingsplante, die bloed en die lewer is waardevol om ‘n seleentekort te diagnoseer, maar, net soos by kobalt, maak die lae vlakke akkurate bepalings uiters moeilik. 

Die bepaling van glutatioonperoksidase in bloed is weer eens ’n indirekte, maar praktiese en betroubare metode om seleentekorte vas te stel. Hiervoor word bloedmonsters in heparien (‘n antistolmiddel) in ‘n laboratorium getoets. 

Bloedmonsters moet binne 12 uur by die laboratorium besorg word, óf dit kan dadelik gevries en dan binne 10 dae getoets word. Tien monsters uit ‘n trop behoort weer getoets te word. Normale lesings is minder as 5 minute vir skape en minder as 10 minute vir beeste. 

Lesings hoër as 10 minute vir skape en 15 minute vir beeste is ‘n besliste aanduiding van ‘n seleentekort. Voorkoming Seleenaanvullings kan in die praktyk redelik maklik en doeltreffend gedoen word. Seleen is nie soos kobalt in die grootpens nodig nie en word 4 maande lank in die liggaam geberg. 

Die mees praktiese manier van aanvulling vir skape is dosering deur die bek – elke 4 maande vir groot skape en elke maand vir lammers onder 4 maande. In die praktyk word dit dikwels met wurmmiddels gemeng (raadpleeg vervaardiger hieroor). 

Die dosis vir groot skape is 5mg natriumseleniet en vir lammers 2 mg. Een gram per liter water gee ‘n oplossing van 1 mg per 1ml. Beeste kan ook gedoseer word, maar ‘n onderhuidse inspuiting is dikwels makliker. Die dosis vir volwasse beeste is 25 mg natriumseleniet. Vir kalwers moet die dosis volgens gewig verminder word. Die tussenpose is soos by skape. 

Kontak jou veearts vir produkkeuses wat op die mark is. 

Seleen kan op weidings toegedien word, maar is ondoeltreffend op suur grond en hou ’n groter risiko vir vergiftiging in. 

Fosfaat-glaskoeëls en ander tablette wat seleen stadig in die grootpens vrystel, word tans beproef as ‘n metode van aanvulling op langtermyn. “Koeëls” wat seleen, kobalt en koper stadig oor jare vrystel, word ook getoets. 

Aanvulling deur lekke of drinkwater word nie vir kobalt of seleen aanbeveel nie, omdat die inname, veral by skape, baie onbetroubaar is. Waar baie braksoute in plante en water voor kom, het die diere nie ‘n behoefte aan lekke wat sout bevat nie. En wanneer weiding uit sappige plante bestaan, drink skape feitlik nie water nie. 

Omdat hierdie spoorelemente te duur is om onnodig aan diere te gee, en omdat dit veel groter produksieverliese veroorsaak wanneer diere aan hierdie tekorte ly en die elemente nié aangevul word nie, is dit die moeite werd om eers presies vas te stel wat die posisie op die plaas is en daarna die mees praktiese en ekonomiese metode te kies om die element(e) gereeld aan te vul. 

Wanneer ‘n tekort aan spoorelemente korrek geïdentifiseer en aangevul word, is die verbeteing gewoonlik dramaties. 

Geskryf deur: Dr. Jan de Wet en Prof. Gareth Bath met toestemming kom hierdie inligting uit die boek Kleinveesiektes, 1994, Tafelberg Uitgewers beperk. ISBN 0 624 03203 5.  

Sedert die boek geskryf is het nuwe produkte op die mark gekom wat selenium en kobalt bevat, kontak jou veearts vir hulp.

Bron: Kleinveesiektes, 1994, Tafelberg Uitgewers beperk. ISBN 0 624 03203 5.
30 September 2020
Kyk in die Indeks na alle antwoorde om vas te stel of jou vraag nie reeds beantwoord is nie. Ons kan ongelukkig nie vae en baie algemene navrae beantwoord nie. BELANGRIK: Sluit jou eposadres én telefoonnommer in om te verseker dat jou vraag beantwoord word.
Ons kommentaarbeleid

LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier