BVG_Logo
BEAN 13/09 5039,2 89,20
CORN 13/09 2126,2 28,20
SOYA 13/09 5660 86,00
SUNS 13/09 5265 -5,00
WEAT 13/09 4555 -57,00
WMAZ 13/09 2775 36,00
YMAZ 13/09 2635 28,00
AMT_Logo
Beeste A2/3 07/05 4429 -0,25
Beeste AB2/3 07/05 4261 -0,59
Beeste B2/3 07/05 3900 -0,08
Beeste C2/3 07/05 3811 -0,37
Bokke – Jong (Bo 45Kg) 07/05 2750 -10,00
Goats - kids (below 45kg) 07/05 3091 3,86
Pluimvee (Bevrore) 07/05 2530 -0,28
Pluimvee (Vars) 07/05 2602 -0,15
Pluimvee IQF 07/05 2332 3,40
She goats 07/05 3041 -29,40
Skaap A2/3 07/05 6435 0,16
Skaap AB2/3 07/05 5393 2,00
Skaap B2/3 07/05 5485 0,45
Skaap C2/3 07/05 4854 1,52
Skaap Feeder Lamb 07/05 3215 -1,74
Speenkalf 07/05 2668 -0,19
Spekvarke 07/05 2070 0,14
Varkwors 07/05 1506 -0,60
Vleisvarke 07/05 2188 0,14
V: Produksie van hooi van goeie gehalte
Hoe kan ek hooi van ‘n hoë kwaliteit maak?
Deur: .05 Junie 2019 1409 keer gelees
A. Antwoord
Hooi word reeds van die vroegste tye af gesny. Literatuurstudies dui aan dat daar reeds 750 jaar voor Christus se geboorte reeds hooi gemaak is. In Suid Afrika is daar reeds in 1674 in die Kaap hooi gesny. 

Dit was nog lank voor daar hooibalers beskikbaar was, maar die boere het met die hand gesny en miedens gepak om hooi vir die winter te voorsien. 

Al is dit een van die oudste bedrywe in boerdery, vind mens soms dat almal nie noodwendig weet wat die kenmerke van goeie kwaliteit hooi is. 

Oor die wêreld heen en ook in Suid-Afrika is daar reeds graderingsisteme vir hooi en veral vir lusern in gebruik.  

Goeie kwaliteit hooi het die volgende uitwendige kenmerke: 

Dit moet 'n mooi groen kleur hê. Geel of bruin hooi is 'n teken van swak kwaliteit as gevolg van te laat sny of reën of muf. 

Dit moet blaarryk wees met die minimum stingels. 

Dit moet 'n aangename aroma hê. Goeie kwaliteit hooi het nie noodwendig 'n kenmerkende reuk nie, maar vreemde reuke soos 'n muwwe of suur reuk skrik diere af. 

Hooi is onaanvaarbaar vir die dier as dit: 

Hoofsaaklik uit stingels bestaan. 

As dit vreemde geure of reuke het. 

Vreemde materiaal soos onkruid, grond, klippe, baaltou of drade bevat. 

Chemiese ontledings kan gedoen word om die kwaliteit te bepaal. Die voedingswaarde van goeie kwaliteit hooi word in Tabel 1 aangedui.

Dit is belangrik om te onthou dat diere se inname verminder as grashooi laer as 6–8% daal en dat hul dan gewig sal verloor. Daar is bepaalde faktore wat die kwaliteit van hooi beïnvloed, wat deeglik in gedagte gehou moet word tydens hooimaak.  

Bemesting
Dit moet altyd in gedagte gehou word dat voedingstowwe (soos N, P & K en ander mikro- en mikro-elemente) voortdurend van hooilande verwyder word, omdat hooi gesny en wegeneem word en nie bewei word nie. 

Die weidende dier plaas deur middel van mis en urine voedingstowwe terug. Daar moet jaarliks, volgens grondontledings, voorsienirig gemaak word vir die korrekte bemesting.  

Groeistadium
Sny van hooi op die regte stadium is diè belangrikste faktor wat kwaliteit beïnvloed. Dikwels word eensydige klem op maksimum hoeveelheid gelê (t/ha) deurdat die snysels langer gerek word om hoër produksie te kry. 

Om maksimum hoeveelheid hooi as enigste mikpunt te stel, word oneindig baie kwaliteit verloor. Volwasse plante is stingelrig met lae voedingswaarde. 

In Tabel 2 word voorbeelde gegee van Oulandsgras en Smutsvingergras wat op twee verskillende stadia gesny is. Uit hierdie tabel is dit duidelik dat hooi wat in die volwasse stadium gesny word ‘n laer kwaliteit het.

Volgens die gegewens in die tabel blyk dit dat gras gesny moet word voordat bloeiwyses, met ander woorde so min as moontlik stingels, teenwoordig is. Indien dit in volle blom of saad is, is daar reeds baie stingels en kwaliteit is dan te laag. 

In die geval van lusern moet ook daarop gelet word dat die blomstadium nie te ver vorder nie. Per slot van rekening is 'n gunstige blaar/stingelverhouding die vereiste, aangesien die hoë voorkoms van blare die hoogste kwaliteit hooi verseker.  

Drogingsperiode
Jong groeiende gras kan soveel as 70 % tot 80 % vog bevat. Om dit suksesvol te baal, moet dit afdroog na 'n voginhoud van ongeveer 10 % tot 20 %. Grasse soos oulandsgras en tef kan binne een dag voldoende afdroog om gebaal te word. 

Ander spesies soos Smutsvingergras, Rhodes en witbuffelsgras moet tot drie dae in die son lê om af te droog, voordat dit gereed is om te baal. Groeiaktiwiteite soos fotosintese en respirasie kom tot stilstand by 'n voginhoud van 35%. 

Hierdie punt moet so gou as moontlik bereik word. Hooi wat te lank aan sonlig blootgestel is, verbleik en sekere voedingstowwe soos vitamins, word vernietig. 

Dit is dus raadsaam om gewasse wat stadig droog met 'n snymasjien wat met 'n kneuser toegerus is, te sny. Dit is eweneens net so belangrik om op een dag soveel hooi te sny as wat op dieselfde dag of die daaropvolgende dag of twee gebaal kan word, sodat gras nie onnodig lank in die son hoef te lê nie. 

Reën gedurende die drogingsperiode is ook een van die grootste probleme met hooimaak, maar daaraan kan min gedoen word, anders as om die weervoorspellings dop te hou.  

Spesie 
Daar is al van snaakse gewasse hooi gemaak, maar daar is 'n paar spesifieke hooigewasse wat algemeen gebruik word. Lusern sal altyd as die koning van die hooigewasse beskou word, aangesien die kwaliteit daarvan baie hoog kan wees met goeie hooimaak praktyke. 

Die enigste groot probleem met lusern is dat dit blare kan verloor as dit te lank ongebaal lê of te veel hanteer word. Die grasse wat bekend is vir hulle hooiwaarde is oulandsgras en tef in die hoër reënvaldele en bloubuffelsgras in die droër dele. 

Soos reeds voorheen gesê is daar ook geen fout met grasse soos Smutsvinger-, witbuffel- en Rhodesgras nie, behalwe dat hulle bietjie moeiliker droog. 

Deesdae is daar ook spesifieke kultivars, van sekere spesies, vir hooiproduksie soos byvoorbeeld oulandsgras se “American leafy” en PUK 436 kultivars en Rhodesgras se “Finecut” kultivar. 

Werktuie 
Die volgende werktuie vergemaklik die hooimaakproses en word sterk aanbeveel.

Snymasjiene 
Verskillende soorte snymasjiene is beskikbaar, naamlik swaailemsnyers, balksnyers, skyf- of tolsnyer en snymasjiene met kneusers. 'n Snyer met ‘n kneuser is noodsaaklik indien vining gebaal moet word of indien materiaal met ‘n hoë voginhoud gesny word, soos byvoorbeeld voersorghum of lusern. 

Die swaailem is 'n veeldoelige masjien wat die hooi tot 'n redelike mate ook opkerf wat soms voordele en soms nadele inhou.  

Hark 
Die mees algemene hooihark is die sogenaamde skuinshark met die draaiwiele. Dit is baie effektief om hooi in windrye te plaas, maar nie regtig geskik om die hooi oop te sprei nie. ‘n Hark is 'n werktuig met min meganiese probleme.  

Hooiklitser of “tedder” 
Die hooiklitser kom nie op elke plaas voor nie, maar is baie nuttig om die hooi in die windrye te plaas, maar kan ook om die hooi uit te sprei, om meer lug deur te laat en sodoende droging te versnel. Dit is wel ‘n duur werktuig, maar word sterk aanbeveel om hoë kwaliteit hooi te produseer. 

Dikwels sny boere hul hooi te laat (met baie stingels en lae kwaliteit) juis om dit vinniger te kan baal. 

Met die hooiklitser kan groener, vroeg gesnyde hooi gereeld omgedraai en deurlug word en dus gouer gebaal word. Voeg hierby ‘n snyer met ‘n kneuser en goeie kwaliteit hooi kan gouer in die stoor beland. 

Baler 
Die baler kan baie keer 'n kopseer wees, aangesien dit 'n gespesialiseerde werktuig is. Die tradisionele vierkantige baler word steeds gereeld gebruik, want sommige boere wil graag die bale onderdak berg en vierkantige bale leen hulle tot maklike hantering. 

Die ronde baler raak natuurlik ook meer gewild. Dit werk vinnig en die bale hoef nie noodwendig onderdak te wees nie. Voordele wat die ronde baler inhou, is dat die digtheid of kompaksie van die hooi in die bale verander kan word. 

Dit beteken dat lug deur die hooi kan beweeg en dit verder kan droog. Die bale kan ook met plastiek toegerol word om van “natter” hooi kuilhooi te maak 

Geskryf deur: 
Prof. Chris S Dannhauser 
Veld- en Weidingskonsultant 
Sel no (+27) 082 873 4736. 
06 Junie 2019
Kyk in die Indeks na alle antwoorde om vas te stel of jou vraag nie reeds beantwoord is nie. Ons kan ongelukkig nie vae en baie algemene navrae beantwoord nie. BELANGRIK: Sluit jou eposadres én telefoonnommer in om te verseker dat jou vraag beantwoord word.
Ons kommentaarbeleid

LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier