’n Brand wat op 9 Januarie in die Karweiderskraalvallei ontstaan het en deur die sterk westewind aangedryf is, het die Hemel-en-Aardevallei teen Vrydag bereik. Pogings is tans onderweg om enige verdere skade in die wingerd te prober beperk, sê mnr. Johan Montgomery, plaasbestuurder van Hamilton Russel-wingerde.

“Ons stroop nou die gebrande wingerd van enige druiwe om verrotting en dus die verspreiding van swamme- en bakterieë te voorkom.”

Die oes het vanjaar goed gelyk ná die droogte, en Montgomery bly optimisties oor die huidige oes.

“Soos die Engelsman sê, shit happens, maar ons maak net nuwe planne. Ons het reeds druiwe weggestuur na laboratoriums om agter te kom of ons rookskade aan die druiwe gaan hê. Ons moet dus nog die onmiddellike oes- en wynskade bepaal.

“Op lang termyn is ons ook nog nie seker hoeveel van die stokke doodgebrand het nie. In dié opsig is daar niks wat ons nou jaag om vinnig op te tree nie nie. Ons sal die besproeiing vervang en die stokke aanhou water gee vir ’n week of twee om te sien watter het dit gemaak. Dan sal ons ’n besluit neem oor die res,” sê Montgomery.

Die westewind het op die betrokke Vrydagoggend sterk gewaai, en teen 13:00 het die rook uit die Karweiderskraalvallei oor die berg begin borrel. Drie en ’n half uur later het die brand ongeveer 5 km ver gevorder en 10 ha wingerd verwoes, ’n huis op die plaas afgebrand en die hele gemeenskap bymekaargebring om te help veg teen die vuur.

Hoewel daar heelwat produksie- en infrastruktuurverliese is, is dit steeds te vroeg om die finansiële omvang van die skade te bepaal. Niemand op die plaas is tydens die brand beseer nie. Foto: Verskaf
Ongeveer 1 ha olywe op die plaas is ook deur die brand verwoes. Die spog-hoofhuis (sigbaar agter die gebrande olywe) is egter gespaar. Foto: Verskaf
Om te verseker dat siektes nie deur verrottende, gebrande druiwe aan gesonde druiwe oorgedra word nie, word die gebrande trosse van die wingerd gestroop. Foto: Verskaf
Om te verseker dat siektes nie deur verrottende, gebrande druiwe aan gesonde druiwe oorgedra word nie, word die gebrande trosse van die wingerd gestroop. Foto: Verskaf

Dank aan gemeenskap

“Die gemeenskap was ongelooflik in hul ondersteuning. Kos, klere en drinkgoed is aangedra, en trekkers met spuitpompe was besig om te help om die skade te beperk. La Vierge-wyne het ook byna in die slag gebly, maar ons kon daarin slaag om skade daar te voorkom. Die brand was so warm dat ’n 160 mm-PVC-pyp gesmelt het, en heelwat besproeiingswater het uit een van ons damme gelek.

“Teen 17:00 die middag het yskoue reën begin uitsak, wat regtig baie gehelp het om die vuur te blus en skade te beperk. Tans smeul die vuur steeds in die bloekombosse. Dit sal nog ’n tyd lank so smeul, maar ek glo alles is nou onder beheer,” sê Montgomery.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.