Bedryfspelers het finansiële dissipline teruggekry ná die kommoditeitsprysineenstorting van 2012 en moet nou maniere kry om groter vraag in die sektor aan te spreek.
Een van die groot vrae van die meeste (of selfs alle) beleggers in die mynboubedryf is of die internasionale bedryfsleiers weer die spoor byster gaan raak. Vrees bestaan dat ’n nuwe golf van groter vraag tot ’n vars golf projekoptimisme en ywerige kapitaalbesteding gaan lei.
’n Verslag deur die finansiëledienste-maatskappy PwC toon hoeveel die mynbousektor ná die besonder skrikwekkende kommoditeitsprysineenstorting van 2012 herstel het. Dink ’n bietjie aan hoe sleg sake in die sektor geword het. Die saamgestelde markkapitalisasie van die wêreld se 40 grootste mynboumaatskappye het byvoorbeeld binne drie jaar van $1 200 miljard tot $494 miljard geval.