Asma is nie ’n onbekende of seldsame siekte nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie ly amper 300 miljoen mense wêreldwyd aan dié kwaal en dit gaan in die volgende dekade net vererger.
Volgens dr. Pieter de Waal, ’n pediater en allergoloog van Bloemfontein, is asma die algemeenste kroniese longsiekte in kinders en die tweede algemeenste beroepsverwante longsiekte onder werkende volwassenes. “Hoewel statistieke wêreldwyd daarop dui dat asma in ontwikkelde lande besig is om af te neem, neem die voorkoms daarvan steeds toe in middel- en laer inkomste lande soos Suid-Afrika,” waarsku hy.
“Na raming ly tussen 10% en 20% van Suid-Afrikaners aan asma.”